Nuwe ANN7-baas wil arbeidsprobleme aanpak

Mzwandile Manyi, eienaar van Infinity Media Networks, by die ANN7-studio in Johannesburg saam met nuus-anker, Sindi Mabe. Foto: Getrude Makhafola/ANA

Mzwanyele Jimmy Manyi, die eienaar van Infinity Media Networks, het Woensdag beloof om die vyandige arbeidsverhoudinge tussen personeel en bestuur by die ANN7-televisiekanaal en The New Age-koerant aan te pak in sy nuwe posisie as eienaar van dié twee media-instansies.

Joernaliste is Woensdag genooi na ANN7 vir ʼn mediakonferensie wat toe op die ou end ʼn regstreekse ateljee-uitsending was. Manyi het gesê hy wil graag enige onaangenaamheid uit die weg ruim “in die lig van die verkeerde narratiewe oor die maatskappy daar buite”. Manyi het onlangs die maatskappy by die omstrede Gupta-familie oorgekoop deur middel van verkopersfinansiering.

“ʼn Geleentheid het aan die deur geklop en ek het dit aangegryp. Ons het wêreldgehalte-geriewe hier soos julle kan sien. Niemand van julle het hierdie soort geriewe nie. As transformasieagent is dit belangrik om die kwessie van werk hier in ag te neem. As ons gaan swig onder die druk daar buite, sal 500 mense werkloos gelaat word,” het hy gesê.

“Geen personeellid sal geviktimiseer word nie. Ons beplan om almal wat reeds hier is te behou en die maatskappy selfs nog verder uit te brei. Alles sal gedoen word volgens die wette van die land. Ek het gehoor van personeel wat sleg behandel word, ek het met hulle vergader en ek sal dit weer doen. Die vakbonde het my toegelaat om eers my voete te vind en ons sal in September vergader om al die kwessies op te los.”

Swart personeellede by die twee nuusinstansies het al vantevore gekla oor rassisme, onregverdige arbeidspraktyke, onregverdige afdankings en swak betaling in vergelyking met hul Indiese en wit kollegas. Die meeste van die klaers het oor die jare die vakbonde en die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) met hul klagtes genader.

Oor die onderwerp van finansiering het Manyi gesê hy het die Guptas genader nadat sy pogings om R300 miljoen se finansiering van die Independent Development Corporation (IDC) te kry onsuksesvol was “weens onredelike eise” deur die instansie. Hy het beplan om die R300 miljoen te gebruik om aandele in die genoteerde entiteit te koop.

“Dit was hierdie tipe rondomtalie wat my laat besef het ontwikkelingsfinansieringinstansies, wat veronderstel is om ontwikkeling aan te moedig, doen nie wat hulle veronderstel is om te doen nie. So, as ek nie geld by so ʼn instansie kan kry nie, watter kans het ek by kommersiële banke? Ek het na die Guptas toe gegaan aangesien ek reeds onsuksesvol was met ʼn ontwikkelingsfinansieringinstansie. Verkopersfinansiering is ʼn goeie instrument.”

Hy wou nie bekendmaak hoeveel hy maandeliks aan die Guptas moet terugbetaal volgens hul ooreenkoms nie. Hy het wel ʼn belastingsertifikaat aan joernaliste getoon vir sy beheermaatskappy, Lodidox Management, en nog ʼn dokument wat aandui dat hy die alleen-aandeelhouer van Lodidox is.

Hy het bygevoeg daar is baie swart ekonomiese bemagtigingsmaatskappye wat belangstel om met hom in ʼn vennootskap te tree om hom te help om Infinity Media Networks te bedryf.

Manyi se Lodidox het ANN7 vir R300 miljoen bekom en The New Age vir R150 miljoen. Manyi, ʼn stoere ondersteuner van pres. Jacob Zuma, is ook die hoof van die ANC-gefasiliteerde sakenetwerkorganisasie, Progressive Professionals Forum (PPF).

Die verkoop van die mediamaatskappye is een van die onlangse verkope van bates deur die Gupta-familie te midde van toenemende bewerings van staatskaping teen hulle en hul vennote.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

John ·

Zuma se seun se glo vandag op ann7 dat niks op die tv-stasie gaan verander nie, nie eens die bestuur nie. Wie praat nou die waarheid?

Janee ·

Narratief hier narratief daar, nog’n Hlaudi tipe, wag net vir die volgende episode van heirdie “soapie”.

Johan. H. ·

Hoe kan ek hulle boikot,,, Waar raak dit my,, ek bedoel wat se koerante , media werk hulle in? Waar het hulle vingers in wat ek as jan alleman kan stop ondersteun?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.