Nuwe baba, verloofring vir twee SA bekendes

Wayde van Niekerk en Chesney Campbell. (Foto: Instagram)

Die Suid-Afrikaanse 400 m-rekordhouer Wayde van Niekerk en sy vrou, Chesney, verwag hulle eersteling.

Die egpaar het dié nuus met ʼn skattige animasie deur Yay Abe op Instagram bekend gemaak. In die animasie draf Wayde agter Chesney met ʼn babastootwaentjie vol geskenke. Chesney dra ʼn vlaggie wat lees: Bun in the oven. Langs hulle draf twee kleurvolle hondjies.

“Mal-opgewonde om aan te kondig dat ons ʼn baba verwag,” het Wayde op Instagram geskryf. Hy vertrek binnekort na die Olimpiese Spele in Tokio, Japan.

“Seëninge kom aanhoudend ons kant toe; bly ingeskakel vir die geslag.”

Chesney het ook ʼn boodskap op Instagram geplaas. “Ons sien uit na die proses en om ʼn geseënde en gesonde swangerskap te hê. ʼn Super Van sal binnekort by die Vans aansluit.”

Wayde en Chesney is in 2017 getroud. Bekendes soos Sue Duminy, Bryan Habana en Rachel Kolisi het die egpaar gelukgewens met die swangerskapnuus.

Wayde en Chesney van Niekerk het hulle babanuus met dié skattige animasie gedeel. (Foto: Instagram)

Sanger, liedjieskrywer is verloof

‘n Skermgreep uit die video waarin Daniela met haar verloofring spog.

Intussen het die sanger en liedjieskrywer, Majozi, en sy meisie, Daniela, verloof geraak.

Die sanger, wat onlangs die enkelsnit “My lief” saam met Janie Bay uitgereik het, het ʼn romantiese video waar hy die jawoord vra op sosiale media gedeel.

“Te amo #MarryingMajozi [sic],” het die sanger by die video geskryf.

Bekendes soos Jo Black, Francois van Coke en Caroline-Grace Brüssow het die paartjie met hulle verlowing gelukgewens.

“Geluk aan die mooiste paartjie ooit. Mag julle só geseënd wees,” het Brüssow geskryf.

“Hoe ongelooflik. Baie geluk,” het aanbieder en vervaardiger Tracey Lange gekoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.