Nuwe bedryfsmodel ‘rede vir inkomstediens se verbrokkeling’

Die Nugent kommissie van ondersoek. Foto: ANA

Getuienis van sleutelgetuies het Donderdag die kollig geplaas op die konsultasiefirma Bain and Co. se rol in die verbrokkeling van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) onder die leierskap van die nou geskorste kommissaris, Tom Moyane.

Pres. Cyril Ramaphosa het in Junie afgetrede regter Robert Nugent aangestel om die kommissie te lei wat bewerings van finansiële wangedrag en swak bestuur by die inkomstediens ondersoek tydens Moyane se vierjaartermyn.

Getuies het die skuld gepak op ʼn ondoeltreffende bedryfsmodel deur Bain and Co. as die rede hoekom die inkomstediens verbrokkel het en daar skeure ontstaan het in departemente wat noodsaaklik is vir die bedryfsfunksies van die SAID.

Die bedryfsmodel is deur Moyane in werking gestel toe hy in 2014 oorgeneem het.

Volgens getuies is van die noodsaaklike eenhede deur dié model verdeel en is hul vermoë om belastingnakoming te monitor en onwettige finansiële vloei en hoëprofiel-ondersoeke te hanteer belemmer.

Fareed Khan, ʼn uitvoerende beampte vir nakoming, het Donderdag gesê die nuwe struktureringsmodel het die SAID se vermoë om skuld in te vorder negatief geraak. “Daar was ʼn afname in die opbrengs, asook in die aantal sake wat hulle hanteer het, wat waarskynlik nie is wat hulle probeer doen het nie. Maar die bedryfsmodel, na my mening, het hulle ontmagtig.”

Hy het gesê die konsultasiefirma het drie senior bestuurders in drie streke voorgestel waar daar nog nooit voorheen ʼn voetspoor was nie. “Dit is net aanduidend van hoe blind hulle was vir die werklikheid op voetsoolvlak.”

Khan is gevra of daar enige voordele aan die nuwe bedryfsmodel was. “Ek kan aan geen voordele dink nie. Ons was besig om iets reg te maak wat altyd gewerk het,” het hy gesê.

Hy het gewaarsku dat die nakomingsafdeling “die enjinkamer” van die SAID is. “As ons nie korrek kapasiteit voorsien nie, gaan ons gly en ons gaan vinnig gly,” het hy gesê.

“Die bande word nou dun en ons gaan baie binnekort op die vellings wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Elsa ·

Verwyder alle politieke aanstellings uit alle poste by al die staat departemente. Stel die persoon aan wat (nie noodwendig gekwalifiseerd nie) die werk kan doen

TW ·

Is dit hoekom ons nie ons uitbetalings kry nie? Gaan ons dit kry?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.