Nuwe BEE-kode skaad regsprofessie se onafhanklikheid, werking

(Argieffoto)

Die konsep BEE-kode vir die regsbedryf stel ʼn bedreiging vir die onafhanklikheid en werking van die regsprofessie daar. Die kode skaad nie net die privaat belange van praktisyns, firmas en kliënte nie, maar ook die openbare belang, gegewe die regsprofessie se funderende rol in ʼn konstitusionele orde.

Dit vorm alles deel van die sakeorganisasie Sakeliga se kommentaar vandeesweek op die konsep Regsektorkode. Die Regsektorkode, nou in sy tweede openbare weergawe, het ten doel om die regsprofessie onder sektorspesifieke B-BEEE kodes in te bring.

“Regulasie van die regsbedryf behoort die doel van gehalteversekering van regsdienste en die handhawing van onafhanklikheid van die regsektor te dien,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga. “In stede hiervan stel die Regsektorkode by wyse van wetgewing die bedryf onderhewig aan partypolitieke beleid (in besonder, rassetransformasie). Vir hierdie oorwegings om egter op ʼn behoorlike en geldige wyse nagestreef te word moet dit kwessies van openbare voorspraak en bedinging binne die bedryf wees. Die kode doen daarom afbreuk aan die behoorlike funksionering van die regsprofessie en sy instellings en is daarom onaanvaarbaar.”

Konstitusionele belang

In sy kommentaar verwys Sakeliga ook na die buitengewone rol van die regsprofessie in die handhawing van ʼn konstitusionele orde.

“Ons wys daarop dat ʼn geldige konstitusionele orde ʼn effektiewe skeiding van magte vereis, waarvoor ʼn regsprofessie onafhanklik van partypolitieke programme onontbeerlik is. Die regsprofessie dien wat ʼn metakonstitusionele rol genoem kan word, naamlik intermediasie tussen die magsentrums van ʼn staat, tussen regsubjekte en tussen die staat en regsubjekte. Die werking van hierdie konstitusionele meganisme vereis vrye keuse van regsverteenwoordiging en die vrye beoefening daarvan vir kliënte,” voeg Le Roux by.

Nuwe tendens

Le Roux sê die Regsektorkode is ook veelseggend met betrekking tot nuwe tendense in BEE-regulasies. In vroeëre fases was BEE hoofsaaklik gerig op die verkrygingsverhouding tussen die staat en sy verskaffers van goedere en dienste. Deesdae, in kodes soos die Regsektorkode, is BEE glad nie meer tot die verhouding tussen staat en transaksionele party gebonde nie. Toenemend word die benadering om BEE-vereistes te stel ongeag staatsbetrokkenheid, wat ernstige implikasies inhou vir die Vryheid om te handel en die Vryheid om professionele dienste te bekom,” sê Le Roux.

Le Roux wys daarop dat die voorgestelde Wet op Eiendomspraktisyns en die Wet op die Werking van Finansiële Instellings wetgewende verwikkelinge is met soortgelyke BEE-toepassing.

Verdere sake en volledige kommentaar

Die Regsektorkode is ook betekenisvol vir sy omvangryke pro bono-voorskrifte. Indien in werking gestel, sal dit regsdienste nie meer toeganklik maak nie, maar eerder duurder en minder toeganklik, en kleiner firmas disproporsioneel belas.

Klik hier om Sakeliga se volledige kommentaar te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Danie ·

Die regslui is blykbaar die mees naïewe beroepslui in Suid-Afrika. Toe hulle God’s water oor Gods akker laat loop met die rassistiese vereistes vir ander beroepe het niks gedoen nie. Met elke tree wat die rassistiese BEE vereistiese vorentoe gegee het, het hulle meer selfversekerd geraak. Nou kom hulle maar met vir die regslui ook. Nou skielik is al die vereistes erg. Nou dat die regslui se veilige hoekie ook, net soos ander beroepe lank reeds, ook bedreig word.

Johan ·

BEE is so sterk soos die besighede wat dit toepas, die staat is inelkgeval bankrot, so wie wil regtig met hul besigheid doen? Ignoreer BEE en dit het geen inpak op ons nie, stel mense aan op hoe hul presteer en klaar.

Kokerboom ·

Net in SA word die groot meerderheid met drakoniese wette beskerm teen die klein minderheid!!!Hoe kan jy minderwaardigheidskomplekse en onbevoegdheid asook gebrek aan inisiatief dmv bizarre wetgewing verskans…NET in SA!

david ·

If the Legal profession is so inept, so ignorant of the Law, that they allow themselves to be caught out in this latest outlandish attempt at flattening the playing fields, then it is because they are more interested in making money and the devil take the hindmost!
Shame on you!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.