Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het vandag (Dinsdag) ʼn nuwe beeld in die Irene-kampkerkhof in Centurion onthul, ter nagedagtenis aan die vroue en kinders wat tydens die Anglo-Boereoorlog in die Irene-konsentrasiekamp oorlede is. Jacques Müller, wie se oumagrootjie self ʼn kamp oorleef het, het die Sorg-beeld uit oranje dolomiet en brons geskep.
“Die dolomiet, in die vorm van ʼn vlam, herinner aan die verskrikking van die oorlog. Die bronsbeelde is vensters van sorgsaamheid op die oorlog: die ma wat sorg vir haar baba; die groot hand wat vashou en beskerm; die versorgde baba met die wil om te leef en die kosmosblomme waarmee die grafte van geliefdes versorg word,” verduidelik dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK.
Agterop die beeld is in die handskrif van ʼn kind gekerf: Eer die dood, vier die lewe. Die beeld word omring deur ʼn klipmuur wat gebou is met klippe wat op ongemerkte en onbekende kindergraffies in die kampkerkhof gestapel was.
Op 16 Junie 1900, vanjaar 120 jaar gelede, het lord Roberts tydens die Anglo-Boereoorlog die verskroeideaardebeleid aangekondig met die doel om die Boeremagte se ondersteuningstelsels en infrastruktuur te vernietig. ʼn Direkte gevolg van dié beleid is die dood van meer as 34 000 vroue en kinders in konsentrasiekampe. Nagenoeg 1 100 vroue en kinders het in die konsentrasiekamp in Irene gesterf.
“Ek wil hulle vandag onthou en eer, asook alle kinders wat weens die geweld van dwase politici gesterf het. Maar daar is ook ʼn ander kant. Duisende vroue en kinders het die kampe oorleef en uit die ashope van die verskroeide aarde ʼn toekoms gebou. Hulle was bouers en hoopdraers. Hulle het die oorlog verloor, maar steen vir steen die vrede gewen. Ek wil vandag hulle lewe en bouwerk vier,” sê Langner.
Langner sê die beeld hou ook ʼn belangrike boodskap vir vandag se Afrikanerkind in. “Onthou om te onthou, maar bou uit die ashope van die verlede en hede vir jou ʼn toekoms. Steen vir steen. Die woord sorg hou in Latyn verband met die woord kultuur. ʼn Kultuurmens is ʼn sorgsame mens, wat sorg vir ons erfenis en ons toekoms.”
Die FAK sal later, wanneer die afsonderingstydperk verby is, ʼn kers op elk van die 1 100 graffies plaas en die boodskap van die Sorg-beeld vier.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
14 Kommentare
Baie goeie inisiatief om die geskiedenis te bewaar,nadat die komunistiese regime besluit het om ons geskiedenis te vernietig ,beskerm die monument net teen die anargiste.
Dis n wonderlike idee en dit is baie belangrik vir die nageslag. Ek wonder hoe lank dit gaan wees voor die beeld ook deur rooi verf of petrolbomme gegooi word. Baie hartseer word veroorsaak deur hierdie vandaliste wat geen idee van geskiedenis het nie.
Ek sal dit verseker eendag besoek.
Ja dis die volgende op die lys om plat geslaan te word want dit gaan oor blankes se nalatings skap.
Julle moes dit nie vertoon het nie nou gaan dit afgebreek word