Nuwe begin vir Rusty

Rusty, wat nou Saint heet, saam met sy nuwe eienaars. (Foto: Bloemfontein DBV)

Rusty, die hond van Bloemfontein wat erg vermink is toe hy sy voormalige eienaar teen haar vriend probeer beskerm het, se nuwe lewe by sy aanneemouers het begin.

Daar was trane van blydskap toe Rusty, wat nou Saint heet, se nuwe eienaars, Lawrence Jane en Werner Luus, die hele ent van Johannesburg gekom het om hul nuwe familielid aan te neem.

“Ons weet hy gaan soveel liefde en onophoudelike drukkies kry. Hy is sedert Desember by ons, maar ons het nooit moed verloor dat ons die perfekte gesin vir hom gaan vind nie,” het die DBV gesê.

“Hy kon nie vir iemand beter vra om vir hom ʼn gelukkige tuiste en ʼn ‘vir ewig’-familie te gee nie.”

Maroela Media het vroeër berig die DBV in Bloemfontein het in Desember ʼn oproep van Rusty se eienaar oor mishandeling ontvang. Tydens die inspekteurs se besoek by haar huis in die Bloemfonteinse voorstad Batho het hulle Rusty in ʼn baie slegte toestand aangetref. Sy linkeroog het heeltemal uit die oogkas gehang.

Afgesien van sy verminkte oog het Rusty ook ʼn skeur onder sy bek en talle kneusplekke aan sy lyf opgedoen. Hy kon ook skaars loop en is in die DBV se sorg geplaas.

Rusty nadat hy vroeër ‘n oogoperasie ondergaan het. (Foto: Bloemfontein DBV)

Die operasies wat hy sedertdien ondergaan het, het goed afgeloop en Rusty het die afgelope ruk die wêreld vol gehardloop terwyl hy op sy aanneemouers gewag het.

Hy het onder meer fisioterapie ondergaan en het weer geleer om normaal te loop.

Die DBV het mense bedank wat bydraes gelewer het om vir Rusty se behandeling te betaal.

“Ek is so dankbaar oor hierdie brakkie ʼn huis gekry het. My hart wou breek,” skryf een sosialemediagebruiker.

Talle ander mense het Luus en Jane bedank omdat hulle die hond ʼn tweede kans gegee het.

“Julle ouens het harte van goud,” het nog ʼn gebruiker geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Francois ·

Ongeag die gruwel verhale wat mens daagliks lees, is daar nog genoeg goeie mense oor in die wêreld.

JohanR ·

Na alles gee Rusty(Saint) nog liefde. Kan nie verkeerd gaan met ‘hond as joe enigste vriend nie.

Hannes ·

Geniet hom manne, ek weet hy gaan sommer net ‘n plesier vir julle wees!

Karina ·

Dankie Lawrence en Werner dat julle jul harte en huis oopgemaak het vir Saint (Rusty). Die Engelse spreekwoord is: You have never loved until you have loved an animal. Seenwense vir julle en skryf gerus aan Maroela Media en vertel ons hoe dit nou met hom gaan.

Maggies ·

Een van die min goeie verhale deesdae. Dit is só lekker om ‘n berig wat van ‘n gru verhaal na ‘n suksesverhaal verander het te kan lees. Dankie aan al die betrokke persone.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.