Nuwe beroepsgilde moet onderwysposte beskerm  

Onderwysers van Settlers Hoërskool in Bellville maak gereed om leerders terug te ontvang. (Foto: Courtney Africa/African News Agency)

Solidariteit gaan met ’n groot veldtog begin om te keer dat personeel in onderwys- en ander poste, wat deur skoolbeheerliggame aangestel is, hul werk verloor. Duisende poste word deur die Covid-19-krisis bedreig.

Volgens Solidariteit kan soveel as 20 000 van die ongeveer 27 000 beheerliggaam-aanstellings se diensvoorwaardes en salarisse geraak word weens die feit dat minder ouers skoolgeld betaal het tydens die Covid-19-pandemie.

“Tot soveel as 10 000 van hierdie poste kan verlore gaan indien daar nie drasties ingegryp word nie. Dit sluit duisende ander beheerliggaamposte soos terapeute, administratiewe poste, afrigters en assistent-onderwysers uit. Sowat 55% van poste by Afrikaanse skole is beheerliggaam-aanstellings wat deur die skoolfonds gefinansier word en wie se salarisse dus deur ouers betaal word,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die vakbond Solidariteit.

Hermann sê dis nie slegs ’n krisis vir individuele werknemers nie; dit is ’n onderwyskrisis.

Sedert die uitbreking van die pandemie kry skole gemiddeld tussen 20% en 60% van hul skoolgeld ingevorder en in sommige gevalle selfs minder.

Solidariteit, in samewerking met die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), het Donderdag aangekondig dat hy ’n spesiale Beroepsgilde vir Beheerliggaam-onderwysers gestig het. Die doel hiervan is om, in samewerking met skole, ’n grootskaalse verlies aan beheerliggaamposte te voorkom.

dirk-hermann-sos-onderwyskongres-2019-06

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. Foto: Reint Dykema.

Solidariteit beplan ook ’n nasionale veldtog wat ouers sal aanmoedig om sover dit vir hulle moontlik is, skoolgeld te betaal. Die doel is ook om regsondersteuning en advies aan beheerliggaampersoneel te bied, en gemeenskappe en alumni te mobiliseer om sodoende onderwysers en skole te ondersteun.

“Die poste wat deur skoolbeheerliggame daargestel word, vorm ’n integrale deel van ons onderwysstelsel,” voer Hermann aan. “Solidariteit verstaan die uitdagings waarmee skole te kampe het, maar ons mag nie toelaat dat ’n tydelike krisis permanente skade vir kinders, skole en onderwysers veroorsaak nie. As beheerliggaamposte verlore gaan, sal ons met klasse vol kinders sonder onderwysers sit. Suid-Afrika het ’n gesamentlike reusepoging nodig om spesifiek ons beheerliggaam-aanstellings te beskerm.

Hy sê dit is veral plattelandse skole, skole in behoeftige omgewings en skole wat van kontantstelsels gebruik maak wat swaar getref word.

“Beheerliggaam-onderwysers se salarisse is in baie gevalle met tot soveel as 50% gesny. In verskeie gevalle word ‘tydelike’ afleggings gedoen. Ons verwag ook dat die druk op beheerliggaamposte in die volgende drie maande drasties gaan toeneem. Die werkloosheidsvoorsiening (TERS) het bloot tydelike verligting gebring,” het Hermann gesê. Talle skole het nie vir TERS aansoek gedoen nie of nog nie al hul geld ontvang nie.

Hermann sê beheerliggaam-onderwysers en ander beheerliggaam-aanstellings is uiters kwesbaar. “Hulle vorm nie deel van die kollektiewe ooreenkoms wat by die Raad vir Arbeidsverhoudinge in die Onderwys (RAVO) bereik is nie. Beheerliggaam-aangesteldes is nie as ʼn belangegroep georganiseer nie en dit is selfs moeilik om ʼn nasionale prentjie van die krisis te kry. Omdat beheerliggaam-onderwysers geen spreekbuis het om hul belange te dien nie, is dit moeilik om met oplossings vorendag te kom.”

Die Solidariteit Beroepsgilde vir Beheerliggaam-onderwysers het ʼn tienpuntplan aangekondig om werk by skole te beskerm:

1. ʼn Landwye veldtog gaan van stapel gestuur word wat ouers aanmoedig om sover moontlik steeds skoolfonds te betaal.

2. ʼn Veldtog gaan aangepak word om die noodsaak en behoud van beheerliggaamposte in die beste belang van leerlinge te beklemtoon.

3. Gesamentlike werksessies sal vir skole aangebied word waar skole planne onder mekaar kan uitruil om oplossings vir brandpunte te vind.

4. Die kollektiewe krag van die Solidariteit Beroepsgilde vir Beheerliggaam-onderwysers sal gebruik word om in gesprek te tree met vennote binne die Afrikaanse Onderwysnetwerk.

5. Strategiese hofsake sal oorweeg word.

6. Beheerliggame sal bewus gemaak word van die regte prosesse wat gevolg moet word en beheerliggaam-onderwysers sal bewus gemaak word van die regte waaroor hulle beskik.

7. Ondersteuning in die vorm van regsadvies en -verteenwoordiging sal aan onderwysers gebied word en ʼn spesiale advieslyn sal daargestel word.

8. Opleidingsprogramme sal saam met die SOS se vakverenigings en S-leer aangebied word om onderwysers en skoolbesture op die hoogte van ontwikkelings op hul vakgebied en op hoogte van relevante tegnologie te hou.

9. Gemeenskappe en plaaslike ondernemings sal gemobiliseer word om skole en onderwysers te ondersteun. Hierdie optrede sluit die skepping van ʼn spesiale fonds in waartoe belanghebbendes soos alumni kan bydra ter ondersteuning van die onderwys.

10. ʼn Vennootskapsbenadering sal gevolg word sodat ʼn balans tussen die belange van almal gevind kan word. Die nuutgestigte Leierskapforum gaan gemobiliseer word om nou saam te werk met die Beroepsgilde van Beheerliggaam-onderwysers sodat daar begrip en respek vir albei se behoeftes kan wees en gesamentlike sukses behaal kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Martin

Ek weet baie mense word baie hard getref deur hierdie pandemie, maar dit is vir my hartseer om te sien hoe een van die mees belangrikste beroepe, en reeds onderbetaalde beroepe, so getref word. Geen wonder suid afrikaanse onderwysers ‘vlug’ na ander lande. Hoe gaan ‘n stelsel wat reeds te min onderwysers per studente ratio het, cope as soveel onderwysers hul werke verloor.