Nuwe besem vee skoon by openbare werke

Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur. (Foto: Twitter)

Die nuwe minister van openbare werke, Patricia de Lille, het die leisels by dié departement stewig vasgevat – en het reeds begin om elkeen van die departement se sente om te draai.

De Lille het beveel dat leefstyloudits van alle senior personeellede gedoen word, dat tenderprosesse oopgestel moet word sodat die publiek dit noukeurig kan deurkyk en dat honderde miljoene rand wat by die departement gesteel is, herwin word.

Die minister het Woensdag die departement se begrotingsrede aan die parlement in Kaapstad voorgelê. Sy het uiteengesit hoe die departement beoog om sy begroting van R7,8 miljard te bestee en wat openbare werke se prioriteit vir die volgende boekjaar is.

Ondersoeke gedoen

“Daar gaan geen geheimhouding rondom tenders wees nie. Die publiek gaan die evaluering en beoordeling van die bodproses kan dophou,” het De Lille gesê.

In ooreenstemming met pres. Cyril Ramaphosa se opdrag gaan leefstyloudits van senior beamptes, ook die minister self, gedoen word. ʼn Spesiale eenheid gaan diegene wat van korrupsie verdink word, vasvat.

Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) het reeds 2 325 ondersoeke in die departement gedoen, waarvan die helfte afgehandel is. Die departement doen intussen alles moontlik om van die R403 miljoen wat geplunder is, in opdrag van die SOE te herwin.

“Daar is 37 polisiedossiere vir die herwinning van R29 miljoen.” Die departement steier al jare lank onder bedrog en korrupsie.

Die tugstappe en strafregtelike aanklagte teen diegene wat betrokke was by die onwettige opgraderingswerk aan oudpres. Jacob Zuma se Nkandla-woning, word ook afgehandel. Dit het belastingbetalers nagenoeg R246 miljoen uit die sak gejaag.

Die openbare dienstekommissie finaliseer ook in dié stadium sy verslag oor die onreëlmatige aanstelling van senior en middelvlakbestuurders by die departement.

Polisiehoofkantoor

De Lille het gesê sy het ook reeds met die minister van polisie, Bheki Cele, vergader oor die koste verbonde aan die polisie se nuwe hoofkantoor in Pretoria.

“Die koste het nou al gestyg tot R1,6 miljard (van R650 miljoen) en die polisie het steeds nie in die gebou ingetrek nie. Afgesien daarvan betaal die polisie ʼn private maatskappy om die geboue teen ʼn koste van tussen R400 000 en R500 000 per maand op te pas,” het De Lille gesê.

Die polisie is steeds in sy ou geboue, vier jaar nadat die parlement dit onveilig verklaar het. Telkom Towers, wat bestaan uit tien geboue, is aangekoop om as nuwe hoofkantoor te dien.

De Lille het gesê sy en Cele het ooreengekom dat alle amptenare van openbare werke, sowel as die polisie, aan die projek onttrek gaan word en dat ʼn diensverskaffer die projek voortaan gaan bestuur.

Bouwerk aan die projek behoort teen April volgende jaar afgehandel te wees.

Geen nuwe meubels

De Lille het ook gesê amptenare kan vergeet van nuwe meubels vir hul kantore of ampswonings.

Sy het gesê besteding gaan dadelik ingeperk word, terwyl nuwe, formele besuinigingsmaatreëls ontwikkel word.

“Die departement gaan bestaande meubels regmaak, stoffeer en onderhou.”

Buitengewone of dringende herstelwerk gaan net onder uitsonderlike omstandighede en met die uitvoerende gesag se toestemming gedoen word.

Daar gaan ook van ministers en hulle adjunkte verwag word om water en krag te bespaar. Die departement sit met groot rekeninge in Pretoria en Kaapstad hiervoor, en daar word met die twee metrorade gepraat oor beweerde oorverrekening van R20 miljoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Maria ·

Darem goeie Minister gekry en dankie vir goeie werk maak ons trots maak goeie naam!

Lizelda ·

Ja, nee, Maria Patricia de Lille gaan omtrent skoonmaak, beste vrou vir daai Departement.

leser ·

ek persoonlik hou nie veel van haar nie, maar dit wat sy se moet sy net laat gebeur anders is sy maar net weer ‘n nuwe asem wat soos mis voor die son gaan verdwyn
waarvoor moet ‘n minister ‘n skadu minister he, en die skadu minister weer sy skadu minister, doen die oorspronklike minister nie sy werk nie, of wat

Genieve ·

Lees die opskrif..Nuwe besem vee skoon so ons kyk wat aunty Pat gaan doen

Petrus ·

Hierdie antie kan praat en praat. Maar daar bly dit. Sy het Kaapstad baie skade berokken. Gelukkig is sy nou nie die nuwe premier nie.

GR ·

Ek dink jy praat deur jou nek sys ‘n yster dis hoekom die DA van haar ontslae wou raak

Antjie ·

Welgedaan. Trots om `n vrou te wees. Sy moet net vasbyt in nie geintimideer word nie

Hoop sy kry alles wat sy beplan reg en daardeur `n voorbeeld stel vir ander ministers

humor ·

Og, tot groot ontsteltenis van zum en sy meelopers. Ons hoop maar net sy word die ystervrou binne die gepeupel.

Klippie7 ·

Mooi auntie Pat gee die meer hel as wat die DA kon hanteer.

piet piet ·

Ek is bly sy is by die DA weg ek hou baie van hoe mev de lille werk maar ek hou niks van die DA nie.

Susan ·

Sy sal haar goed van haar taak kwyt. Hulle sê mos: “the best man for a job, is a woman”

Klippie ·

Mooi auntie Pat gee die meer hel as wat die DA kon hanteer.

Eléne ·

Ek sten nie saam nie. Hoekom was Kaapstad so n sukses? Sy was die Burgermeester!

Magda van der Walt ·

Aunty Pat het nog nóóit met haar laat mors nie….. ek dink sy is fantasties!!

Henry ·

Sy is maar vir my baie ” dubble minded.” Verloon haar ID Party en sluit aan by DA en nou verloon sy die DA vir die ANC. Al wat sy nou nog net moet doen is oor skuif EFF toe. Ons almal weet dat ‘n “dubble minded” niks sal ontvang nie. Dis bietjie rof om so rond te spring en van siening te verander.

Grompie ·

Soos julle Zuma vasvat.Julle weet nie eers wst vat beteken nie wat nog te sê vasvat.Met die onbevoegde regsisteem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.