Nuwe bewyse in OR Tambo-rooftog

Argieffoto

Die staat gaan beëdigde verklarings van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) indien om hul saak te ondersteun dat een van die verdagtes in die OR Tambo-rooftogsaak nie borgtog toegestaan word nie.

Prince Dube (43) se aansoek om borgtog het verlede week begin. Hy het aan die hof gesê dat hy R400 000 as ʼn stalletjie-uitstaller verdien. Maroela Media het vroeër berig R1 miljoen is onder ʼn wasmasjien by Dube (43) se vriendin se huis gevind.

Adv. Oscar Machevele, Dube se regsverteenwoordiger, het ook ʼn beëdigde verklaring namens Dube ingedien waarin beweer word die ondersoekbeampte kon Dube nie suksesvol uitken op die beeldmateriaal van die rooftog nie en dat daar geen bewyse deur die staat is dat hy onwettig in Suid-Afrika is nie.

Volgens kol. Mabina Mahlangu, die ondersoekbeampte, is Dube ʼn Zimbabwiër en onwettig in die land. Dube het glo sy identiteitsdokument, sy bestuurslisensie en die registrasiedokumente van sy besigheid ingedien.

Die borgtogaansoek van Dube se medebeskuldigde, Philokhuhle Mtanzi (30), het ook intussen hervat. Adv. Welcome Ndlovu, Mtanzi se regsverteenwoordiger, het sy kliënt se beëdigde verklaring aan die hof voorgelees. Daarin beweer Mtanzi dat hy van Pietermaritzburg af kom en tans in Naturena in die suide van Johannesburg woon. Hy het glo twee kinders wat in ʼn privaat skool is.

Mtanzi het ook gesê sy bates beloop sowat R100 000 en dat hy vir homself werk. Hy het glo vier metertaxi’s wat tot R20 000 per maand verdien het voor Uber begin het. Hy het erken dat hy voorheen ʼn opgeskorte vonnis van vyf jaar opgelê is vir diefstal.

Mtanzi staan tereg op aanklagte van roof met verswarende omstandighede. Hy het aangevoer dat hy onskuldig sal pleit. Hy het ook die ondersoekbeampte se bewering dat hy erken het dat hy by die rooftog betrokke was, ontken. Volgens Mtanzi kan hy R5 000 vir borgtog bekostig. Hy het ook aangevoer dat hy nie emosioneel  sterk genoeg is om die tronk te hanteer nie.

Jacob Serepo, staatsaanklaer, het daarna ʼn verklaring voorgelees waarin beweer word dat Mtanzi erken het hy was betrokke in samesprekings oor die rooftog en dat hy glo R1 000 bygedra het tot die pleeg van die misdaad.

Mtanzi is glo ook betrap met die name en nommers van ander verdagtes toe hy in hegtenis geneem is.

Ndlovu het egter aangevoer daar is geen aanduiding gegee waarvoor die R1 000 gebruik sou word nie en dat daar geen redes vir sy inhegtenisneming is nie omdat daar geen bewyse teen hom is nie.

Mtanzi sal Vrydag oor sy lot ingelig word. Die hofsaak sal Donderdag hervat word om nuwe bewyse teen Dube aan te hoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Eric ·

Haha lag ek nou lekker hy nie emosioneel sterk genoeg om tronk te hanteer nie ! Maar hy emosioneel sterk genoeg om te roof

CAROL ·

MMM – MTANZI VERDIEN R10000 00 KAN NET R5000 BORG BETAAL , HET OPGESKORTE VONNIS VAN 5JAAR VIR DIEFSTAL, EN IS NIE EMOSIONEEL STERK GENOEG OM DIE TRONK TE HANTEER NIE????? HAHAHAHAHA – DIE IS DIE GRAP VAN DIE JAAR!!!!! JA NEE KYK ……

AndreK ·

Laat hy sit en oor sy ‘ emosies’ kom. Hy dink nie aan die emosies van mijoene inwoners van hierdie land wat 24/7 onderworpe is aan halsmisdade nie.

CHRISTA ·

Hy en Zuma moet selle langs mekaar kry. Hulle sal mekaar lank genoeg besig kan hou as hulle hulle rooftogte en bedrogsake kan deel!!! Hulle sal nie eers agterkom hoe lank hulle in die tronk sit nie!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.