Nuwe biomediese instituut doen baanbrekerswerk

Die nuwe Instituut vir Biomediese Navorsing (BMNI) (Foto: Universiteit Stellenbosch)

Die bekendstelling van sy nuwe Instituut vir Biomediese Navorsing (BMNI) plaas die Universiteit Stellenbosch (US) aan die voorpunt van biomediese wetenskap op die Afrika-vasteland.

Dít volgens die US wat sê die instituut is by sy Tygerberg-kampus in Kaapstad gesetel. Die fasiliteit wat vandeesweek in gebruik geneem word, het sowat R1,2 miljard gekos. Bouwerk het in 2018 begin en is pas afgehandel, ondanks groot uitdagings weens die Covid-19-pandemie.

Die universiteit sê die fasiliteit huisves meer as 500 biomediese navorsers en studente, wat van die wêreld se mees vooraanstaande wetenskaplikes op die gebied van bio-informatika, tuberkulose, neurowetenskap en urologie insluit.

Die baanbrekersnavorsing by die fasiliteit het ʼn bepaalde Afrika-fokus en het ten doel om die genetiese en biomolekulêre basis van siektes te verstaan wat Suid-Afrika en die res van die vasteland raak.

“Wetenskaplikes van die BMNI doen navorsing wat tot ontdekkings lei om die diagnose, voorkoming en behandeling te verbeter van siektes wat mense in Suid-Afrika en die res van Afrika raak, sê prof. Nico Gey van Pittius, visedekaan van navorsing en internasionalisering by die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.

Die nuwe Instituut vir Biomediese Navorsing (BMNI) (Foto: Universiteit Stellenbosch)

Die BMNI spog met verskeie hipermoderne laboratoriums, wat insluit ʼn vlak 3-bioveiligheidslaboratorium (BSL-3) en ʼn ten volle geoutomatiseerde bio-bewaarplek, asook lesing- en konferensielokale wat met die jongste oudiovisuele tegnologie toegerus is. Dit spog ook met groot en moderne disseksiesale wat ontwerp is om blootstelling aan formaldehied tot die minimum te beperk.

Die BMNI het boonop ʼn vierster-gradering van die Groen Geboueraad van Suid-Afrika ontvang.

Volgens prof. Wim de Villiers, die US se rektor en visekanselier, is die BMNI-navorsingskompleks gelykstaande aan die beste ter wêreld en het, wat sy moderne fasiliteite en uitgebreide navorsingskapasiteit betref, nie sy gelyke op die vasteland óf in die Suidelike Halfrond nie.

“Die totstandkoming van die BMNI versinnebeeld die US se visie om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees wat wêreldwyd erkenning geniet vir ons uitnemendheid in innovasie om kennis in diens van die samelewing te bevorder,” sê De Villiers.

Prof. Sibusiso Moyo, adjunk-visekanselier van navorsing, innovasie en nagraadse studies by die US, sê die navorsing wat in die BMNI gedoen word bou voort op die US se verbintenis tot navorsing wat ʼn impak het en wat die natuurlike omgewing, gesondheid, menslike veiligheid, asook sisteme en tegnologieë vir die toekoms in ag neem.

“Die uitdaging om plaaslik relevant en wêreldwyd mededingend te wees lê die grondslag van ons wetenskaplike strewes,” sê Moyo.

Mediese tegnoloog Candice Snyders (Foto: Universiteit Stellenbosch)

Die waarde van die BMNI is selfs voor die voltooiing daarvan in 2023 erken en hoëprofiel-besoekers soos pres. Cyril Ramaphosa, asook dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), het die fasiliteit in 2022 al besoek.

“Die belegging in die BMNI sal betekenisvolle menslike kapasiteitsontwikkeling moontlik maak deur die opleiding van sommige van die vasteland se beste studente deur hulle aan uitgebreide nasionale en internasionale navorsingsnetwerke bloot te stel, wat ʼn volgende generasie suksesvolle wetenskaplikes sal oplewer,” sê prof. Elmi Muller, dekaan van die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.

“Die BMNI sal ʼn baanbreker vir gesondheidsorg in Afrika wees en lewer ware getuienis van die gebruik van wetenskaplike deurbrake om lewens te verbeter.”

Sien nog foto’s hier.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Andrew ·

Maar moet liefs nie Afrikaans wees as jy daar wil studeer nie.

TruthDealer ·

En pas tog nou die plek op, dat dit nie ook oor n paar jaar uitmekaar val nie.

Realis Thailand ·

Ek wou kommentaar lewer dat oor n paar jaar lyk dit soos enige afrika land se vervalle geboue

Republikein in die Wes Kaap ·

Wat help al die bowêreldse fasiliteite? Die ekonomie krimp, werkloosheid is buite orde, mense verarm, misdadigers neem oor, sosiale dienste verval, krag en water tekorte, paaie en spoorlyne gee in. Waar lê die prioriteite?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.