Nuwe borsbeeld by Voortrekkermonument onthul

Die Voortrekkermonument (Foto: falco, Pixabay)

Die Voortrekkermonument in Pretoria het Donderdagaand nog twee besienswaardighede bygekry toe ʼn borsbeeld van die monument se argitek, Gerard Moerdyk, en ʼn inligtingsplaat oor hom, by die monument onthul is.

Dit is vanjaar 80 jaar sedert die hoeksteenlegging van die monument in 1938, en die uitvoerende hoof van die monument, Cecilia Kruger, het gesê daar is niks by die monument wat die argitek daarvan gedenk nie.

Die inligtingsplaat is voor, aan die onderpunt van die trappe na die monument aangebring. Die borsbeeld is in die senotaafsaal op die onderste vlak van die monument onthul.

Die inligtingsplaat bevat inligting oor Moerdyk se lewe en werk. Die historikus dr. Jackie Grobler het by die onthulling Moerdyk as volksargitek beskryf.

Die borsbeeld in brons is gegiet na ʼn gipsvorm wat die kunstenaar Johann Kirchhoff in 1943 van Moerdyk gemaak het. Kirchhoff en sy familie se bydrae tot die Voortrekkermonument en die breër Suid-Afrikaanse samelewing is deur sy seun, Werner Kirchhoff, toegelig.

Die jaarlikse Gerard Moerdyk-gedenklesing is by dieselfde geleentheid deur die argitektuurkenner Nicholas Clarke gelewer. Met die tema “Gerard Moerdyk: Chameleon of kultuurpionier?” het die spitsvondige en belese Clarke die gehoor in die palm van sy hand gehou terwyl hy Moerdyk se argitek-ontwerpe vergelyk het met bestaande geboue van reg oor die wêreld om die invloede op die volksargitek – wat Afrikaners sedert die 1930’s onder meer probeer opvoed het om tog maar ʼn badkamer in die huis te hê – na te speur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

JC ·

Wonderlik, wonderlik ! Voorwaar iets om op trots te wees!

ONS; is nie klaar met Suid-Afrika nie; nie eers naby nie…Aan al die politikuste, moeilikheidmakers, opportuniste, verloopte Afrikaners, en skynheiliges (ook bekend as manteldraaiers) wat dink ons fut is uit; ek het nuus vir julle! Hierdie is maar net die begin, ons gaan ons trotse erfenis teruggryp!

Baie dankie aan die Voortrekkermonument:)

snoefie ·

toe ek die opskrif sien het ek al begin asem ophou. kon sien hoe mandela ingerol kom. gewonder of hy n touleier of die heerser was.

LK ·

Ek self, ek dink dis net n kwessie van tyd voor dié Monument n teiken gaan raak.

ek ook ·

Hahaha snoefie…ek het self gewonder toe ek opskrif sien. Dankie tog nê. Koerante kan ook maar lekker speel met woorde ;-)

pieter ·

Neem al die beelde wat by die universiteite verban word en plaas dit by die voortrekker monument.

B-man ·

Rhodes s’n ook?
Ja, dit wys dat ons Engelse kan vergewe en aanbeweeg en nie net terugval na die verlede as ‘verskoning’ vir al ons probleme nie.

Jakkalsdraai ·

Ek het dieselfde angs oor my gekry toe ek die opskrif lees. Ons sal daardie vernedering ook nog moet sluk in die toekoms, daarvan is ek seker.

Jack ·

Bedoel julle nie Bronsbeeld in stede van borsbeeld soos in die opskrif en artikel nie?

Spy ·

I spy with my little eye…
Daar kom binnekort ‘n nuwe “land claim”
( Voortrekker monument…)
Kwessie van tyd.

Jean ·

Die Voortrekker monument sal nog tot sy fondamente afgebreek word! Die blankes dra te min gewig om vir hulself te kan opstaan of hul regte en kultuur te beskerm in Suid Afrika… Die Goddelose voel n veer vir n kerk of n tempel…
Net n kwessie van tyd!

Simboliek ·

VTM: Afmetings: 40mx40mx40mhoog (ook 40,5mx41mx40mhoog)
In ‘n altaarvorm ter ere van God.
Assegaaihek:- Dingaan se mag wat die toegang na die binneland wou versper.
Laermuur:- 64 waens soos by Bloedrivier vir beskerming.
Hoekfigure:- Trekleiers -Retief, Pretorius, Potgieter en ‘n Onbekende leier wat die ander trekleiers voorstel.
Vrou en kinderbeeld (Voortrekkermoeder en twee kinders):- Handhawing van Christenwaardes. Beeldhouer, Anton van Wouw.
Swartwildebeeste:- Zoeloekrygers wat voor beskawing moes wyk.
Buffelkop-ingang:- Verdedig simbolies aanslae teen Monument.
Vloer:- Kring uit na buite~Simboliseer verspreiding van gees en opoffering deur die Voortrekkers.
Sigsag-patroon om monument:- Teken van vrugbaarheid, uitbou van beskawing.
Senotaaf:- Leë graf – alle gevalle Voortrekkers.
Sonstraal 16 Des. 12h00:- God se seën wat op hul werk en strewe rus.
Koepels:- Omvang van grootse daad.
Vlam:- Handhawing van beskawing.
Die Historiese Fries:- Tekeninge van sekere gebeure/tonele in die geskiedenis van die Voortrekkers. Kunsskilder, WH Coetzer. Hy was ook ‘n opgeleide wamaker, daarom is sy skilderye wat waens insluit eg en nie ‘n nabootsing.
Gerard Moerdyk se van kan ook gespel word ‘Moerdijk’, beide is korrek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.