Nuwe breier vir Maties

Drikus Hancke (Foto: Verskaf)

Drikus Hancke is as die nuwe hoofafrigter van die Maties Rugbyklub van die Universiteit Stellenbosch (US) aangestel.

Hancke (40) was die afgelope vier jaar Maties se voorspelerafrigter onder Hawies Fourie as hoofafrigter. Fourie is onlangs as die nuwe breier van die Cheetahs aangekonding waarna Hancke vandeesweek in die vakante pos van hoofafrigter aangestel is.

Volgens Martin Viljoen, woordvoerder van US, is Hancke is self ’n oud-Matie wat op sy dag vir dié universiteit uitgedraf het. Hy het ook tydens sy professionele spelersloopbaan vir Suid-Afrika se o.23-span asook Oostelike Provinsie, Westelike Provinsie, die Leeus én Montpellier uitgedraf.

“Dit is ’n ongelooflike eer. Ek is ’n trotse Matie. Dié is ’n klub met ’n trotse tradisie en geskiedenis en om as afrigter van Maties aangewys te word, is baie spesiaal. Ek besef dié eer en voorreg kom met baie verantwoordelikhede en verwagtinge, maar ek sien baie uit na die uitdaging,” het Hancke in ʼn verklaring deur US gesê.

“Ek geniet dit om by Maties te werk. Die spelers en die bestuur sorg vir ’n lekker werksomgewing en dis ’n plesier om deel hiervan te wees. Ek sien uit daarna om die volgende stap te neem. Om met die spelers te werk is baie pret en die vooruitsig om hoofafrigter te wees is baie opwindend.”

Prof. Mohammad Karaan, president van die Maties Rugbyklub, het die aanstelling verwelkom.

“[Hancke] is ’n ewige student van rugby en het veral beïndruk met sy ontledings en kennis van die spel. Hy het ’n besonderse vermoë om die beste uit sy spelers te haal en as ’n span met sy kollegas saam te werk. Ons sien met vertroue en afwagting uit na sy toetrede as hoofafrigter.”

Norman Jordaan sal Hancke se assistent-afrigter wees terwyl die res van die afrigters en konsultante behou is. Kabamba Floors is die nuwe hoofafrigter van die Junior Maties-span.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae