Nuwe brug, nuwe hoofstuk vir Hoërskool Driehoek

Die brug onder konstruksie by Hoërskool Driehoek. (Foto: Twitter)

“Ek glo dit gaan ’n nuwe hoofstuk wees en dat ’n mens nou kan vorentoe beweeg. Ek dink [die leerders] word voortdurend herinner aan 1 Februarie en wil nou aanbeweeg. Ek dink ons almal voel so.”

Só het Hein Knoetze, oudhoof van Hoërskool Driehoek aan Maroela Media gesê oor die nuwe loopbrug by die skool wat tans onder konstruksie is en eersdaags voltooi sal wees. Die vorige loopbrug het vroeër vanjaar ineengestort en vier leerders het in dié voorval omgekom.

Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir onderwys, het verlede week op Twitter bevestig dat konstruksie aan die brug goed op dreef is. Volgens mediaberigte word die nuwe brug heeltemal uit staal gebou, terwyl die ou brug uit beton gebou en met pale ondersteun is.

Leerders word sedert die tragedie op 1 Februarie vanjaar in tente op die skool se rugbyveld onderrig en sal na verwagting terugtrek na die skool se klaskamers sodra die brug voltooi is.

Die brug onder konstruksie by Hoërskool Driehoek. (Foto: Twitter)

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, kon by navraag nie bevestig wanneer die nuwe brug voltooi sal wees nie. Hy wou ook geen antwoorde op Maroela Media se vrae verskaf insluitend hoe die nuwe brug verskil van die vorige een, wanneer die leerders sal terugtrek na die klaskamers en of die oorsaak van die brug se ineenstorting al vasgestel is nie.

Mabona het bloot geantwoord dat geen nuwe inligting tans beskikbaar is nie en dat ʼn verklaring mettertyd uitgereik sal word.

Knoetze sê intussen hy glo dit is belangrik dat leerders terug trek na hul klasse toe en bedrywighede by die skool terugkeer na normaal. “Solank hulle in die tente is, bly hulle vasgevang in die gebeure van daardie dag. Ek voel [die nuwe brug] sal ’n stap vorentoe wees en vir almal ’n verligting bied om terug te wees in die skool,” sê hy.

“Ek glo ook daar gaan kinders wees met vrese, wat eers bang gaan wees om in die skoolgebou rond te beweeg. Ek dink as hulle eers sien wat alles gedoen is en hoe dit lyk sal dit groot verligting bring vir die hele skoolgemeenskap. Ek dink onderwysers, leerders en ouers wil vorentoe beweeg.”

Knoetze het wel verseker dat leerders eers in die gebou sal terugtrek wanneer alles kant en klaar is en alle bouwerk voltooi is.

Maroela Media het vroeër berig ʼn betonblok uit die loopbrug by die skool het op 1 Februarie meegegee en die lewe van vier leerders geëis, terwyl 29 ander beseer is.

Knoetze was ten tyde van die tragedie die skoolhoof maar het intussen afgetree. ʼn Personeellid by Hoërskool Driehoek het by navraag gesê die nuwe waarnemende skoolhoof, Ricardo Erasmus, mag nie met die media praat nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

christell ·

hoekom word daar weer n brug gebou ??? as daar dan trappe na klas kamers is

Ronel ·

Dis tussen die admin gebou en klaskamers. Verbind dus ook die saal (gallery) met die res van die skool.

Heinrich ·

Baie sterkte daar vir vir julle Mnr Knoetze; dankie vir die groot werk wat julle daar met ons kinders doen!
NS; as Lesufi ‘n hand in die brug het sal ek hom maar gereeld laat nagaan; daai glibberige vent sit seker en kook omdat hy iets vir ‘n Afrikaanse skool moet doen.

Skapie ·

Wat van die res van die skoolterrein. Het hulle nie voorheen berig dat daar klaskamers ook is wat gesluit was oor hulle toestande nie? Is die res van die skoolterrein met ‘n vergrootglas geinspekteer? Mens kon duidelik sien dat daardie brug baie oud was en ek is seker die gebou is nog ouer. Hoe veilig is die stoepe en dakke en vloere op hierdie perseel?
Hulle moet die kinders se veiligheid in die HELE gebou verseker en nie net die brug nie.

Wielspore ·

Mens kan sien dat die nuwe brug van ‘n behoorlike konstrusie is. Onlangs is genoem dat ‘n privaat instansie die nuwe brug sou oprig en die koste daarvoor dra.

Gemaskerde Sopbeen ·

Waarom gebeur dit? Dit is die staat se eiendom wat deur die staat onderhou moet word met die belasting wat gevorder word van die burgers van die land, nie waar nie? Nou waarom betaal mense belasting, kry niks daarvoor terug nie, en betaal dan weer vir die diens wat die regering moes lewer met die gevorderde belasting? Ek verstaan nie waarom hierdie nasie NIKS doen om die regering verantwoordelik te hou met die wyse waarop belasting aangewend word nie…………en boonop bereid is om WEER te betaal vir ‘n diens wat hulle NIE gekry het nie, en wat deur hulle belasting voorsien moes word. Ek verstaan nie….

Drieks ·

Ek hoop hul gaan iets baie mooi by die brug sit wat vir die kids vrolik en mooi lyk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.