Nuwe burgemeester vir Nelson Mandelabaai bekend

Gary van Niekerk, nuwe burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro. (Foto: Northen Alliance/Facebook)

Die inwoners van die Nelson Mandelabaai-metro het Vrydagaand ʼn nuwe burgemeester gekry ná ʼn dag van chaos by ʼn spesiale raadsvergadering waar ʼn mosie van wantroue teen Retief Odendaal geslaag het.

Gary van Niekerk van die Noordelike Alliansie is as die nuwe burgemeester aangewys. Hy het dadelik uit sy amp as speaker van die metro bedank toe hy die leisels oorgeneem het. Oudburgemeester en ANC-raadslid Eugene Johnson is as die nuwe speaker aangewys.

Die DA sê die nuwe ANC-koalisie, wat onder meer die Noordelike Alliansie insluit, het sy magsvergryp voltooi toe hy vroeër die mosie teen Odendaal ingedien het.

Hy voer boonop aan dat Van Niekerk die mense van die metro uitgelewer het aan ʼn korrupte regering.

“Hierdie koalisie sal nou onbeperkte toegang tot die metro se begroting van R18 miljard hê en die marionetburgemeester sal na hul pype dans, alles ter wille van ʼn burgemeestersketting en groter salaris,” sê Andrew Whitfield, die DA se leier in die Oos-Kaap.

“Die nuwe koalisie wil die vordering wat oor die afgelope paar maande gemaak is, ontspoor en hul sakke met die stad se geld vul.”

ʼn Mosie van wantroue in Odendaal en die metro se veelpartykoalisieregering is Vrydagoggend tydens ʼn spesiale raadsvergadering ingedien en het later geslaag toe 62 van die 120 raadslede daarvoor gestem het dat hy uit die metro verwyder moet word.

Odendaal het in sy laaste boodskap as burgemeester aan inwoners gesê dat hy sal voortgaan om vir die metro te baklei.

“Ons sal voortgaan om met hierdie nuwe plaaslike regering te werk om julle [inwoners se] belange eerste te stel, want die verbetering van dienslewering is ons enigste doel,” het Odendaal in ʼn videoboodskap gesê.

Volgens Whitfield was dit die afgelope agt maande die mees voorspoedige tyd in drie dekades in die metro danksy Odendaal se leiding.

“Sedert die veelpartykoalisieregering die leisels in September verlede jaar oorgeneem het, was daar beter dienslewering, minder korrupsie en ʼn atmosfeer van optimisme en hoop onder inwoners,” sê hy.

“Onder leiding van Odendaal het die koalisieregering daarin geslaag om Dag Zero te vermy, die behuisingafleweringsprogram weer op koers te kry en 500 HOP-huise te bou.

“Die stad het dienste begin lewer en die middeltermyn-prestasiebeoordeling het ʼn 40%-toename in sleutelprestasie-aanwysers vir dienslewering getoon, vergeleke met die vorige finansiële jaar onder ʼn ANC-regering.

“Die veelpartykoalisie het daarin geslaag om meer as 20 000 slaggate, 15 000 waterlekkasies en 13 000 straatligte reg te maak, terwyl 150 stadsbeplanningwysigings goedgekeur en byna 5 000 werksgeleenthede geskep is.”

Terwyl die DA ook onderneem het om die nuwe regering en burgemeester tot verantwoording te roep, het hy ook hand uitgesteek na die ander partye wat saam met die ANC gespan het.

“Aan die Noordelike Alliansie, PAC en IAC sê ons dat ons deur oop bly en dat ons bereid is om te onderhandel ter wille van die mense van Nelson Mandelabaai.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.