Nuwe Corolla Cross verrys uit oorstroomde Durban-aanleg

Tydens Toyota Suid-Afrika Motors se heropeningseremonie van sy Prospecton-aanleg in Durban, is die Corolla Cross GR-S ook bekendgestel. (Foto: Verskaf)

Vier maande nadat die Toyota-aanleg in die suide van Durban oorstroom het, het die eerste nuwe modelreeks uit die fabriek gery. Daar was dus rede om fees te vier en dit is vroeër die week tydens ʼn heropeningseremonie gedoen.

Dit was egter ʼn moeilike pad tot waar sake vandag staan, wat alles op die oggend van 12 April begin het.

ʼn Stortvloed reën het reeds op 8 April oor die gebied uitgesak, maar Andrew Kirby, uitvoerende hoof van Toyota Suid-Afrika Motors (TSAM), het tydens die seremonie gesê die aanleg se stormwaterstelsel kon dit sonder probleme hanteer.

Die rede is dat Toyota se land van oorsprong, Japan, gewoond aan natuurlike rampe is en voorsorg daarteen is diep in die wêreldwye maatskappy se kultuur ingeweef. TSAM se aanleg, wat in Prospecton geleë is, kon dus maklik herstel ná die vloed wat in 2017 die aanleg getref het.

Andrew Kirby, uitvoerende hoof en president van TSAM, sê hy is baie dankbaar vir al die hulp wat oor die afgelope vier maande ingestroom het. (Foto: Verskaf)

 

April se vloed was egter iets waarvoor niemand kon voorberei nie en dit was die grootste ramp en ontwrigting wat Toyota in die afgelope 60 jaar tydens sy bestaan in Suid-Afrika moes trotseer.

“Die reën het inderwaarheid begin bedaar en ons was verlig dat ons hierdie storm oorleef het, maar teen 06:24 die oggend was feitlik die hele perseel tussen 1,5 m tot 1,8 m diep onder modderwater, dít nadat die sekerheidskameras teen 05:30 nog geen ongerymdhede uitgewys het nie.”

Kort tevore het daar, sonder ʼn vooraf waarskuwing, ʼn veiligheidsmeganisme van die Shongwenidam, wat ongeveer 35 km van Prospecton af geleë is, ingeskop. Twee van die tien vloedsluise het onder die vloedwater se druk meegegee sodat die res van die dam beskerm kon word. Die massa water het met die Mlazirivier afgekom en by ʼn skerp draai oor sy walle gebreek en die suidelike Durban-vloedvlakte oorstroom.

Dit het skaars ʼn kilometer van die see af gebeur, digby die wisselaar waar die N2, M4 en R102 kruis en net voordat die water by ʼn vloedkanaal sou invloei. Foto’s van skeepskratte wat oor die snelweg gestrooi was, afkomstig vanaf ʼn nabygeleë bergingsperseel, is wyd versprei.

 

Herbou beter saam

Daar kon eers die volgende dag toegang tot die perseel verkry word en dit het vyf dae geneem om net die omvang van die skade te bepaal.

Dit was aanvanklik baie moeilik en gevaarlik omdat daar nie skoon water, elektrisiteit, veilige toegang of kommunikasie was nie. Nadat die water gesak het, het ʼn seepgladde sliklaag van 8 cm diep agtergebly, maar die werknemers het weldra ingespring en die 87 ha-aanleg begin skoonmaak. Die kleierige modder moes met grawe, moppe en besems na oplaaipunte gevee word, sodat dit weggery kon word. Soveel tonne modder kan nie net by die deur uitgevee word nie.

Met besems, moppe en grawe is die nat, en later klipharde slik bymekaargemaak. (Foto’s: Verskaf)

 

Die TSAM-span het egter die onmoontlike reggekry en onder die leuse, herbou beter saam, in ʼn rekordtyd hul laaste produksielyn weer aan die gang gekry.

Daar het ook hulp uit ander oorde ingestroom.

“Ons sou dit nie kon regkry sonder die hulp van ons hoofkantoor in Japan nie. Akio Toyoda, uitvoerende hoof van Toyota, het ons wêreldwye span aangesê om voorkeur te gee aan TSAM sodat ons so gou moontlik weer op die been kon kom. Hy het ons besoek en ook deurlopend spesialiste gestuur om ons te help, ongeveer 290 kundiges.

“Niemand het my ooit gevra waarom dit gebeur het, of hoe ons dit kon verhoed nie. Hulle het net gevra hoe hulle ons kan help,” sê Kirby. “Selfs tot vandag toe word onderdele van Toyota-aanlegte oor die wêreld gestuur om ons te help.”

Lede van Toyota se topbestuur het uit Japan die aanleg kom besoek en ondersteuning gebied. (Foto: Verskaf)

 

Volgens Kirby is daar aanvanklik voorgestel dat ʼn nuwe aanleg gebou moes word omdat dit makliker sou wees, maar later het hulle tog besluit om eerder die aanleg oor te bou. “Ons het daardeur ʼn geleentheid gekry om ons werknemers se verstaan van die aanleg, ondervinding en vaardighede te verbeter.”

Niemand het tydens die oorstromings gesterf of ernstige beserings opgedoen nie, maar TSAM moes baie van die werknemers wie se huise vernietig is, asook die wyer gemeenskap help en boonop moes Toyota sy verskaffers help om weer op die been te kom.

Buiten die skade aan die masjiene en infrastruktuur moes TSAM ongeveer 4 000 voertuie afskryf. Bronwyn Kilpatrick, TSAM se adjunkpresident van finansies en uitvoere, sê die skade beloop miljarde.

Skade aan beheerpanele, kabels, elektriese toerusting en elektroniese toestelle het in die miljarde beloop. (Foto’s: Verskaf)

 

Kirby sê oor die afgelope paar maande moes hulle sowat 9 700 lyne se onderdele bestel, waarvan 2 669 plaaslik vervaardig word.

“Weens die logistieke stelsels wat wêreldwyd onder druk is, en tekort aan mikroskyfies, sou die vertraging om alle onderdele te skrap onbekostigbaar gewees het. Ons moes dus ongeveer 6 000 onderdele ondersoek en herstel terwyl ons gewag het vir die vervangingsonderdele, maar dit moes met oorleg gedoen word, want vir Toyota is dit belangriker om sy naam te beskerm as om onderdele wat onder verdenking is, te verkoop.

Die ouditorium was een van die laaste fasiliteite wat oorgedoen is. (Foto: Verskaf)

 

“Ons is ver agter met produksie, maar ons is nou besig om dit te versnel sodat ons vinniger ons bestellings kan aflewer.”

Voor die ramp het TSAM ʼn markaandeel van gemiddeld 30% geniet wat gedurende Mei, Junie en Julie onderskeidelik na 17%, 18,1% en 16,3% gekrimp het. Ten spyte hiervan het Toyota sy nommer-een-posisie in verkope behou. Daarbenewens het nie een werknemer sy werk verloor nie.

As deel van die nuwe voorsorgmaatreëls is die beheerkaste gelig. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Vandag word daar met die munisipaliteit en die provinsiale raad saamgewerk om te verhoed dat so ʼn ramp weer plaasvind en Nomusa Dube-Ncube, die nuwe premier van KwaZulu-Natal, en Siboniso Duma, die LUR van ekonomiese ontwikkeling, toerisme en omgewingsake, het ook die heropeningseremonie bygewoon.

Vandag is die Toyota-aanleg in Prospecton weer ‘n miernes van bedrywighede. (Foto: Verskaf)

 

Topvlak- Corolla Cross GR-Sport maak sy buiging

By TSAM se Prospecton-aanleg word die HiAce-minibus, Fortuner, Hilux, Corolla Cross en Corolla Quest gebou, asook ʼn verskeidenheid van Hino-handelsvoertuie aanmekaargesit. Al hierdie produksielyne is nou weer aan die gang.

Vandag kan al Toyota se plaaslike voertuigmodelle weer gebou word. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Die Corolla Cross is tydens die laaste kwartaal van verlede jaar op die mark geplaas en het onmiddellik ʼn wegholsukses behaal, terwyl dit ook as die Suid-Afrikaanse motor van die jaar (SA COTY) gekroon is.

Dié reeks het nou ook ʼn aandeel in die Gazoo Racing- (GR-)handelsmerk, wat uiting gee aan Toyota se strewe om die jongste tegnologie in dié klas in te stel. Die nuwe Corolla Cross GR-S-model is ook tydens die heropeningseremonie bekendgestel.

‘n Paar Corolla Cross GR-S-modelle staan reg om getoets te word. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Maroela Media het ook die kans gehad om dié voertuig volspoed met die toetsbaan af te jaag en dit was ‘n genotvolle en eersteklas ervaring.

Die Corolla Cross GR-S beskik oor ʼn pasgemaakte buite-afronding, drie tweekleurige kleuropsies met swartdakbehandeling, swart 18-duim-allooiwiele, GR-kentekens en ʼn kajuit met ʼn unieke GR-tema.

Die nuwe Corolla Cross GR-S gaan beslis voortbou op sy klas se sukses. (Foto: Verskaf)

 

Onder sy vel is die veringkomponente verbeter en die kragstuurstelsel is herkalibreer (EPS) vir beter reaktiewe hantering, terugvoer na die stuurwiel en beter beheer in die draaie.

Die bestaande 1.8 -2ZR-FE-petrolenjin is vir die GR-S ingesit wat met ʼn CVT-ratkas beheer word. Sewe “trappe” is vooraf geprogrammeer om so na moontlik ʼn handratkas te simuleer.

Die Corolla Cross GR-S is pragtig van alle kante af. (Foto: Verskaf)

 

Die Corolla Cross 1.8i GR-S se prys is R 453 200.

Alle Corolla Cross-modelle word met ʼn 6-dienste/90 000 km-diensplan verkoop, met intervalle wat op 15 000 km vasgestel is en ʼn 3-jaar/100 000 km-waarborg. Bykomende opsies op die diens- en waarborgplan kan by enige Toyota-handelaar gekoop word.

Alle Toyota-modelle is met Toyota Connect toegerus, wat ʼn komplimentêre 15 Gb WiFi insluit. Bestuurders gaan ook verras word deur die voertuigtelematika en verbeterde funksies en kenmerke wat met behulp van die MyToyota-app geaktiveer kan word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anonymouse ·

Dit lyk nou na ‘n oulike kar die. En ek het sover net goeie goed oor dit gelees. Ek oorweeg dit sterk om dit my volgende, en ‘forever’, kar te maak.

Herman L ·

Ons het meer sulke positiewe stories nodig! Vergelyk dit nou met die regring se vordering om vloedskade te herstel.

Amelia ·

Prys van die Corolla Cross Hybrid is na dese R10,000 meer as voor die vloed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.