Nuwe Covid-19-variant ‘dryf tweede golf’

(Argieffoto: Unsplash)

’n Nuwe variant van Sars-CoV-2, die virus wat Covid-19 veroorsaak, is in Suid-Afrika ontdek en volgens wetenskaplikes dryf dit die tweede golf van infeksies in die land.

Zweli Mkhize, minister van gesondheid, en prof. Salim Abdool Karim, voorsitter van die ministeriële advieskomitee oor Covid-19, het Vrydagaand saam met ander wetenskaplikes die media toegespreek.

Die nuwe variant, 501.V2, is die eerste keer in die Nelson Mandelabaai-metro waargeneem, hoewel dit nog nie seker is waar dit ontstaan het nie. Dit het vermoedelik van die Nelson Mandelabaai-metro na ander distrikte in die Oos-Kaap, die Tuinroete en verskeie plekke in KwaZulu-Natal versprei. Die variant het na verwagting reeds ook na die res van die land versprei.

Volgens Karim het die 501.V2-variant dominant in Suid-Afrika geword en het dié variant drie mutasies. Die nuwe variant wys ’n baie groter viruslading in monsters wat van pasiënte geneem is en dit word vermoed dat die variant ’n hoër oordragkoers het en dat die tweede golf dus moontlik baie meer gevalle tot gevolg sal hê as die eerste golf.

Volgens Karim kan in die stadium nie gesê word of die variant erger is nie aangesien nog navorsing gedoen moet word. Dit is ook nog nie duidelik of mense wat tydens die eerste golf die virus opgedoen het, nou met die variant besmet word en of daar meer of minder sterftes in die tweede golf is nie. Dit moet ook vasgestel word of die beskikbare inentings voldoende sal wees vir die nuwe variant.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid. (Foto: Twitter)

Oor die tweede golf het Mkhize gesê: “Ons het geweet dat dit sou kom, maar niemand van ons het verwag dat dit so vinnig sou gebeur nie. Daar was geen spesifieke projeksie nie. Dit kom op ’n tydstip wanneer gedrag gedurende die feestyd die verspreiding van die virus waarskynlik sal vererger.”

Volgens Mkhize word meestal jong mense die afgelope paar weke positief vir Covid-19 getoets. “Ons klinici het ons ook gewaarsku dat dinge verander het en dat jong, voorheen gesonde mense nou baie siek word.”

Mkhize het bygevoeg dat hoewel daar rede tot kommer is, daar nie rede tot paniek is nie en dieselfde voorkomingsmaatreëls teen die nuwe variant gevolg moet word. “Daar is tot dusver geen bewyse om voor te stel dat die kliniese behandeling en pasiëntbestuur verander moet word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.