Die uitstel van die naweek se rugbywedstryde waarin vier Suid-Afrikaanse spanne Saterdag plaaslik in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) teen oorsese teenstanders sou speel, kan verreikende gevolge vir Suid-Afrikaanse rugby inhou en kom op ’n baie ongeleë tyd.
Net soos die nuwe Covid-19-variant Suid-Afrika en die res van die wêreld onkant betrap het, is sake vir die Stormers (12de op die puntelys), die Lions (13de), die Sharks (14de) en die Bulls (15de) erg vertroebel.
Die vier Suid-Afrikaanse spanne het in die eerste vier rondes almal gesukkel om oorsee by die toestande en vertolking van die reëls deur die Europese skeidsregters aan te pas. Hier en daar was daar opflikkeringe, maar heelwat meer vraagstukke.
Saam kon hulle in 16 wedstryde net 23 ligapunte verower, terwyl Leinster, wat die pas aangee, reeds 24 punte ná slegs vyf wedstryde het.
Maar wag maar totdat die oorsese spanne in Suid-Afrika kom speel, is daar gesê.
Die tafel was gedek vir die Bulls om Munster te pak, die Stormers sou teen Zebre speel, die Lions moes Cardiff takel en die Sharks sou teen die Scarlets afsluit.
Só ook aanstaande Saterdag se reeks wedstryde.
Boonop sou 2 000 toeskouers die wedstryde die eerste keer in maande kon bywoon wat die deur na normaal kon oopsluit.
Maar toe tref ʼn nuwe Covid-ramp ons.
Die vier oorsese spanne het geen ander keuse gehad as om so gou as moontlik huis toe te keer om ʼn verpligte kwarantyntydperk te probeer vryspring nie.
Die VRK-bestuur is nou in ’n krisis gedompel om geskikte datums te vind om die uitgestelde wedstryde te probeer inpas.
Die enigste uitweg is om die plaaslike derbies tussen die Stormers, Lions, Sharks en Bulls wat op 29 Januarie, 5 Februarie, 12 Februarie en 5 Maart gespeel sou word, te vervroeg.
Dit sal beteken dat die Suid-Afrikaanse spanne darem besig sal bly, hul wedstrydfiksheid sal behou en nie te ver agter op die puntelys raak nie terwyl daar hopelik meer duidelik oor die uitwerking en gevolge van die nuwe variant sal wees.
Maar soos sake nou staan is die kanse baie skraal dat die vier Suid-Afrikaanse spanne binnekort weer oorsee sal kan toer.
Wat gaan dan gebeur?
So lyk die (huidige) plaaslike derbies:
29 Januarie: Bulls t Lions; Stormers t Sharks
5 Februarie: Lions t Sharks; Stormers t Bulls
12 Februarie: Bulls t Sharks; Stormers t Lions
5 Maart: Sharks t Lions; Stormers t Bulls
19 Maart: Sharks t Stormers; Lions t Bulls
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
12 Kommentare
Dis wild. Darem nog nie tot op hul rug (of maag) met die virus nie. Karton-toeskouers is ongelukkig nie regte kaartmannetjies wat lawaai maak en op die veld storm nie.
Daar is wereldwyd groter probleme as bol/bol dit moet maar die agtersitplek vat saam met die kniebuig manne.
Sport het geen betekenisvolle impak op die mensdom… terwyl kuns die wêreld verander :D
Dis nie die virus nie die regering wat rugby af dwing
Rassie Erasmus hoef nou nie bekommered te wees nie. Rugby sal eers in 2023 hervat.