Nuwe dekaan neem leisels oor by Akademia

Dr. Saretha Brüssow, dekaan van Akademia

Dr. Saretha Brüssow is as die nuwe dekaan by Akademia aangestel.

Brüssow, wat ʼn passievolle verbintenis tot studente se akademiese prestasie en sukses in hoër onderwys het, word met die taak toevertrou om die akademiese personeel verder uit te bou en te ondersteun, het Akademia in ʼn verklaring gesê. “Hierdie aanstelling dra by tot Akademia se strategie om verder eersteklas hoër onderwys in Afrikaans te bied, deur gebruik te maak van ʼn hoë tegnologiese onderrigmodel.”

Brüssow het tot en met die einde van 2017 haar plek volgestaan as die Hoof: Akademiese Beplanning in die Direktoraat vir Institusionele Navorsing en Akademiese Beplanning aan die Universiteit van die Vrystaat, waar sy onder andere vir kwaliteitsversekering, programontwikkeling en akademiese akkreditasie verantwoordelik was. Haar strewe na gehalte onderrig het byval gevind in die aard en wese van Akademia, asook die instelling se vertrekpunte, oogmerke en doelwitte.

Sy is vuur en vlam om dié hewige taak as Akademia-dekaan aan te pak. “Akademia is ʼn toekomsgerigte, privaat en selfstandige tersiêre instelling, gegrond op beproefde uitgangspunte, wat gekenmerk word deur nie nét ʼn eensydige klem op gespesialiseerde opleiding en vakkennis nie, maar op ʼn onderrigmodel wat ons ʼn unieke stem binne die Suid-Afrikaanse universiteitswese gee,” het Brüssow gesê.

Haar doelwitte vir 2018 is geskoei op die handhawing en uitbouing van Akademia se reeds hoog aangeskrewe onderrig op drie onderling verwante vlakke. “Eerstens wil ek bydra op institusionele vlak wat beleid en interne gehalteversekeringstelsels insluit; tweedens op programvlak wat die ontwerp, inhoud en aflewering van programme insluit; en derdens op ʼn individuele vlak, insluitende inisiatiewe wat dosente help en aanmoedig om innoverend te wees in hulle onderrig- en leermetodes,” het Brüssow verduidelik.

Haar droom vir Akademia is om selfstandige gegradueerdes te lewer wat krities kan dink, en hulle drome kan verwesenlik deur Akademia se Westers-Christelike, intellektuele tradisie en vakkennis van wêreldsklas.

“Ons is ingenome met die aanwins van Brüssow as dekaan by Akademia,” sê Marthinus Visser, bestuurshoof van die instelling. “Met die rykdom van kennis wat sy saambring, tesame met die akademiese fondasie wat reeds by Akademie gelê is, gaan ons die instelling verder uitbou en groei na die Afrikaanse hoër onderwysinstelling wat ons strewe om te wees.”

Die aansoeke om gedurende die 2018 akademiese jaar by Akademia te studeer, sluit hierdie Vrydag (19 Januarie). Vir meer inligting oor Akademia se akademiese aanbod, leermodel en dertien studiesentrums, besoek die instelling se webblad by akademia.ac.za, stuur ʼn e-pos na [email protected], bel 0861 222 888 of SMS jou navraag na 34933 (R2 per SMS).

Meer oor Akademia
Akademia is ʼn niewinsgewende hoër onderwysinstelling wat aan studente die geleentheid bied om ʼn ten volle geakkrediteerde kwalifikasie te verwerf met behulp van interaktiewe na-uurse klasse in Afrikaans by twaalf studiesentrums landwyd, en een in Namibië. Alhoewel Akademia ʼn selfstandige instelling is, vorm dit deel van die Solidariteit Beweging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Lynne ·

My hart swel van TROTS oor my mense se sukses! Hard werkende & Ambisieuse Afrikaners hier aan die Suidpunt van Afrika! Doen so voort asb!

JC ·

Stem saam!!
Ons Afrikaners is besig om onderdrukking mooitjies te omskep in geleenthede en groei.
‘n Boer maak ‘n plan!
Afrikaans Leef!

Ada ·

Uitstekend!!!
Rugraat/ hoe moraal/ integriteit/ inteligensie/sterk geloof en alles wat goed is straal uit haar uit!!
Bou so voort!

Lola ·

Ek kyk na haar foto en jy is reg Ada. Jy het dit mooi opgesom.

Tjokkie ·

Ek stem saam, hulle het ‘n redelike groep uitgebreide BCom studierigtings, nou net ook BSc, ongelukkig dink ek moet daar vir sommige BSC rigtings navorsingslaboratoriums opgestel word so ook vir Ingenieurswese – en daar is nie voldoende plek/fasiliteite vir die praktiese kant van die studierigtings nie. EK glo egter dit gaan nog alles uitbrei, maar daarvoor is fondse nodig.

Frikkie Geld en huis ·

Voorspoed vir haar!! Wat het van Piet geword?? Hy was mos begin 2017 die man, of was hy te lig?

Zuri ·

Wens hulle wil ook ‘n volwaardige universiteit bou soos Potchefstroom kampus waar jong studente nog vrylik kan rondloop sonder ‘n swaard van onderdrukking oor hulle koppe en die heeltyd oor hulle koppe moet kyk. My droom is ‘n universiteit wat sommer alles op die kampus het vir studente – klein studente dorpie. Dink ons moet almal weer ons potte uitpluk en begin koeksisters bak vir die droom soos ons voorouers gemaak het. HAHAH! My jongste nou in Potch kampus en my ander kind klaar gestudeer by Kovsies – wat studente aangeleenthede aanbetref kan jy dit nie eers vergelyk nie, hy wou net klaar maak by Kovsies en padgee die ander een sukkel ek om in die hande te kry so word hulle nou besig gehou en jy kan sommer in sy stem hoor hoe geniet hy dit. Gaan kyk net op Facebook en kyk waarmee is hulle besig met die eerste jaars en daar was weinig interaksie vir die eerste jaars by Kovsies.

JC ·

Akademia se residensiele kampus gaan in Orania wees. Hulle het hierdie maand met die ontwikkeling en bouwerk begin:)

JC ·

Bittere goeie nuus. Baie geluk.

Afrikaans en die Westers Christelike intellektuele tradisie Leef!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.