Nuwe denke en leierskap vir veranderende onderwyslandskap nodig

sos-leierskapkongres-2018-daan-potgieter

Daan Potgieter, hoof van die Hoërskool Waterkloof, wat in Julie as uitvoerende hoof van die nuutgestigte Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) begin. Foto: Verskaf.

Onderwys in Suid-Afrika is vandag wisselvallig, onvoorspelbaar, ingewikkeld én onduidelik.

Dit is in die lig hiervan dat onderwysers en hoofde hulself toenemend moet vra of hulle toegerus is om aan die uitdagings van die “Vuca-scenario” en omstandighede te voldoen.

Daan Potgieter, hoof van die Hoërskool Waterkloof, wat in Julie as uitvoerende hoof van die nuutgestigte Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) begin, het skoolhoofde toegespreek by die leierskapkongres van die Skoleondersteuningsentrum (SOS) van Solidariteit Helpende Hand.

Hy het verduidelik dat onderwys vandag gekenmerk word aan die Vuca-begingsels wat soldate in oorloggeteisterde gebiede soos Irak ondervind. Dit is volatility, uncertainty, complexity en ambiguity.

Potgieter meen onderwys in Suid-Afrika is vandag baie kompleks as gekyk word na politieke en ander faktore wat daarop inspeel en besluite wat dikwels deur onkundiges geneem word.

“Dit is baie duidelik dat sekere norme in die onderwys nie meer duidelik of vanselfsprekend is nie. Daar is ’n tragiese gaping tussen die werklikheid en die ideaal.

“Dit beteken egter nie dat alles in die lewe nou ‘ge-Vuca’ is nie. Dis ’n toestand wat geleenthede skep en waarin leierskap getoets word.”

Potgieter meen die onderwys het baie meer strategiese leiers nodig. Dit is sulke leiers wat die Vuca-situasie sonder vergrype of sinisme uitdaag. Hulle is mense wat aanpasbaar is, wat in beste praktyke én mense glo, wat respek vir ander het, nederig is en weet hoe om verandering te bestuur.

Volgens Potgieter vereis die nuwe omstandighede dat leiers ook kreatief en innoverend moet wees en probleme kan oplos.

“Dit vereis ook dat hulle uit foute leer, ontwikkelingsgeleenthede skep en veranderingsagente in hul skole moet aanstel.

“Hoofde moet ook op hulself fokus. Jou skool is net soos goed soos die beste jy. Fokus en hou gereeld nabetragting en vra jouself gereeld hoe jy anders in ’n gegewe situasie sou optree.”

Met verwysing na wat onderwysleiers doeltreffend maak, het Potgieter fanatiese dissipline, nederigheid, opvolgbeplanning en goeie oordeel en besluitneming beklemtoon.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het gesê die visie vir Afrikaanse onderwys moet skerper wees as ons vrese vir die toekoms of ons herinnering aan die verlede.

Verskeie plaaslike en internasionale sprekers neem in die volgende drie dae aan die meer as 200 besprekingsessies deel wat deur meer as 730 onderwysers en hoofde landwyd bygewoon sal word.

Buys het ’n kort oorsig oor die wêreld- en Suid-Afrikaanse geskiedenis gegee en gesê dit is belangrik dat ’n mens moet besef dat die wêreld en geskiedenis konstant aan die verander is.

“Die toekoms is altyd moontlik en ons hoef nie moedeloos te raak nie. Die geskiedenis maak soms skerp draaie, maar daar is altyd ’n toekoms.”

Hy het gesê Afrikaners was met elke eeuwending in ’n krisis gedompel wat hulle kort daarna oorkom het.

“Ons moenie in korttermyndenke verval nie. Ons moet onthou dat mense die geskiedenis maak. Ons is nie magtelose slagoffers wat maar gelate aanvaar wat met ons gebeur nie. Ons kan vandag vir die toekoms beplan.

“Ons staan op die skouers van onderwysreuse en hoef derhalwe nie van vooraf te begin nie. Ons moet met die beproefde waardes wat ons het, verseker dat ons kinders in die toekoms ook gehalte-onderrig in Afrikaans sal kry. Dit beteken ons moet globaal dink, maar ook lokaal doen.”

sos-leierskapkongres-2018-koos-malan

Prof. Koos Malan, dosent in publieke reg aan die Universiteit van Pretoria (UP), het in sy voorlegging gepraat oor die grondwetlike ruimte vir Afrikaanse skole en Afrikaanse onderrig in die algemeen. Foto: Verskaf.

Prof. Koos Malan, dosent in publieke reg aan die Universiteit van Pretoria (UP), het in sy voorlegging gepraat oor die grondwetlike ruimte vir Afrikaanse skole en Afrikaanse onderrig in die algemeen.

Malan het verduidelik dat die idee dat die grondwet ’n oppermagtige instrument is wat onuitdaagbaar en onaantasbaar is, vals is. Die werklikheid is dat uitsprake van regters van die grondwetlike hof ooreenstem met die ideologie van die dominante groepering en gevolglik dus ook die ANC-regering en die party se elite. Die ANC-ideologie word as die korrekte en enigste voorgehou en deur uitsprake wat afgedwing en daarmee enigiets wat daarmee verskil, onderdruk.

Volgens Malan het transformisme die gedeelde ideologie van die totale dominante gemeenskap en die grondwetlike hof geword.

“Die grondwet bring nie stabiliteit mee nie, maar is eerder daarop gemik om ’n sosialistiese egalitariese bedeling en omvormde samelewing teweeg te bring. Die Kovsie-taaluitspraak is ’n sprekende voorbeeld hiervan.

Malan meen egter Afrikaners moet steeds besef dat die Grondwet voorsiening vir Afrikaanse skole maak en dat die reg opgeëis moet word. Hy het gesê om Afrikaanse skole te behou of uit te bou, moet Afrikaners in getalle as gemeenskappe konsentreer. Privaat onderwysinstellings moet ook geskep word en daar moet na digitale onderrigmodelle gekyk word wat plaaslik en oorsee in Afrikaanse onderrig gebruik kan word. Voorts is dit belangrik dat die inhoud in Afrikaanse onderwys ook gered word en dat nuwe inhoud bygevoeg word om Westerse waardes en standaarde daaraan te gee.

sos-leierskapkongres-2018-melanie-buys

Melanie Buys, ‘n onderwysspesialis by die SOS. Foto: Verskaf.

Melanie Buys, onderwysspesialis by die SOS, het in haar aanbieding meer lig gewerp op ’n strategie vir selfstandige openbare skole.

Buys het daarop gewys dat Afrikaanse skole uitnemende instellings is danksy die toewyding van onderwysers, ouers en leerders, die betrokkenheid van ouers en goeie leierskap en bestuur in dié skole. Hierdie skole se uitslae spreek vanself en daaruit kan ook afgelei word dat die sukses aan moedertaalonderrig en die roepingsbewustheid van onderwysers toegeskryf kan word.

Benewens die feit dat internasionale neigings groter selfstandigheid in die hand werk, is daar in Suid-Afrika ook ander risiko’s wat groter selfstandigheid dryf, soos onvoldoende staatsubsidie, groter staatsinmenging by skole, die verval van skole in die platteland en bedreigings vir skole met ’n unieke karakter en Christelike waardes.

Buys het gesê vir skole om groter selfstandigheid te kry, moet daar ook met die regering beding word.

“Skole met ’n goeie rekord, moet meer magte kry en daar moet ook ’n opsie vir privatisering van openbare skole wees.”

Sy het voorts gesê regsaksie moet teen die staat oorweeg word waar skole nie billike vergoeding vir skoolgeldvrystellings kry nie.

Daar is ook bepaalde aksies wat skole kan neem om hul posisie te verbeter. Dit sluit in die toerus van beheerliggame en skoolbesture, vennootskappe met besighede wat dieselfde visie en waardes deel en die ontwikkeling van aangrensende eiendom vir geriewe wat aan skole beskikbaar gestel kan word. Sy het ook die gebruikmaking van onafhanklike regsentiteite soos trusts en vrywillige verenigings beklemtoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Tammy ·

Baie mooi woorde deur die sprekers, wat hulle nie in ag neem nie is dat ons met n gemengde kultuur moet skoolhou. Daar is mense uit alle spektrums van die samelewing en die goeie ou dae van opgevoede kinders in Afrikaanse skole is vir ewig verby. Respek speel nie meer n rol nie en ouers wat geen betrokkenheid by hulle kinders het nie daag by die skole op met n stinkende houding en wil sommer die onderwyser slaan as die kind nie presteer, of nie eers moeite doen om die te probeer leer nie. Want sien, in die huidige onderwysstelsel word die punte mos aangepas sodat n sekere persentasie van die leerders MOET slaag. Hierdie is deur die departement beveel….dit sal so wees en klaar.
Dis n skreiende skande dat punte aangepas word sodat die wat nooit hulle kant bring nie onder die presteerders gesien moet word. HIER LE DIE PROBLEEM IN DIE ONDERWYSSTELSEL en nerens anders nie. Moenie punte verniet weggee nie ASSEBLIEF.

Onderwysouers-se-suigeling. ·

‘n Uitstekende berig wat water hou MAAR ook is daar ‘n groot waarheid in wat Tammy sê. Ja, ek is die spruit van onderwysouers maar het nie die beroep gevolg want dit is eerder ‘n roeping. Nou waar lê die fout? Ek reken dat die afwatering van DISSIPLINE die hoofoorsaak is. Soos wat die korrekte spelling van woorde deur die jare versleg het dat tot selfs onderwysers ‘n probleem daarmee het en selfs die woord ‘huidiglik’ beskou word as korrek so het die grondwet oorbeskermend geraak teenoor die kind en stadig maar seker is nou ook tot selfs (sommige) van die ouers van (sommige) kinders ongedissiplineerd en wil net bolle rol. Toegegee dat alle onderwysers nie engeltjies is nie.
Dit is nou al vir baie jare wat tot selfs terug gaan in die vorige bedeling waar onderwysers nie bewus is van die huislike omstandighede van skoliere. Natuurlik is dit ‘n onbegonne taak in vandag se omstandighede wat in my ouers se tyd uitvoerbaar was op die platteland. Dit is ‘n uiterste jammerte dat ‘n probleemkind se ouers nie besoek kan word tuis by sy huis as andersom want volgens my is dit die enigste manier om probleme op te los. ‘n Kind sal nooit voor ander kinders vertel oor wat tuis gebeur (het) voor ander kinders. Potchefstroom se Normaalkollege se leuse was: ‘Onderwys is lewe wek’ in die 1930’s.

CG ·

Baie gepraat, maar kom nie by uitvoerbare antwoorde nie. Prof Malan se inset is waarskynlik die belangrikste: die grondwet (agv die Grondwethof) bied geen beskerming nie. Dog is daar idealiste soos me. Buys wat goedgesindheid van staatskant verwag. Jammer dat Prof Malan se “oplossing” (“Afrikaners moet as gemeenskappe konsentreer”) onvoldoende is. Om bv. in voorstede te konsentreer, maar steeds gemeng en uiteindelik in die minderheid te wees, bied nie ‘n volhoubare oplossing nie. Die sleutelwoord kort: “apart” te konsentreer. Dit is net haalbaar in privaatdorpe (bv. Orania) en uiteindelik in ‘n Volkstaat. Is bg. so moeilik om in te sien?

Veer ·

Maroela, die onderskrif onder Daan Potgieter se foto verwys dat hy reeds daar begin het. Julie maand moet nog kom en Daan is nog tot die einde van die termyn (eerskomende Vrydag) werksaam by Waterkloof.

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Veer

Baie dankie vir jou navraag. Dit is inderdaad so dat Daan Potgieter nog die hoof van die Hoërskool Waterkloof is en in Julie as uitvoerende hoof van die nuutgestigte Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) begin. Die onderskrif van die foto is gewys om die feite so deur te gee.

Groetnis
Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

Estelle Oelofsen ·

Ek het self jare skoolgehou. EN jare in die privatsektor gewerk En jare in die oa, Nasionale Parkeraad, Munisipale dienste en Sensus Department gewerk. Ek dink ek kan sê ek het ondervinding in die realiteit van wat oral aangaan. Ek is bevrees die gewone ou op straat het nie altyd ‘n goeie idee omtrent wat rêrig om hul aangaan nie. Die onderwysers weet nie wat in hul leerlinge se huise en in die privaat sektor aangaan nie of die realiteit van die lewe buite die skool nie. Die privaat sektor weet nie wat die onderwyser elke dag in sy klas ondervind van húl kinders nie. En so kan ek voortgaan. Ongelukkig sal dit onmoontlik wees om almal bymekaar te bring. MAAR ek dink ook dat ek, as mens, miskien soms my mond moet hou en my verstand gebruik. Ons moet ophou praat en soms DINK. Ons het mekaar nodig. Daar IS ‘n lewe buite die lewe wat ek leef. ONTHOU DIT! EN Mamma, daar ís ‘n lewe buite jou huis. Skoenmakers hou jul by jul leeste(?)/ lese(?).

1+1 ·

‘n Mens kan sien dat baie van die kommentare deur professionele mense geskryf is. Geen tyd vir kleinlike politiek nie. Die inhoud van hulle kommetare spreek van Integriteit en hulle kwalifiseer beslis om in die “moederberoep” te staan, waartoe hulle geroep is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.