Nuwe dilemma vir SA oor al-Basjir?

Omar al-Basjir, president van Soedan

Omar al-Basjir, president van Soedan

Suid-Afrika sal dalk nog ʼn dilemma oor ʼn moontlike besoek van pres. Omar al-Basjir van Soedan moet hanteer.

Die Chinese ambassade in Pretoria het Vrydag aangekondig dat pres. Jacob Zuma en pres. Xi Jinping van China tydens ʼn vergadering besluit het om die 6de ministeriële konferensie van die forum oor China-Afrika-samewerking (Focac), wat op 4 en 5 Desember in Suid-Afrika plaasvind, tot ʼn beraad op te gradeer.

Dit beteken dat al-Basjir moontlik weer na Suid-Afrika genooi sal word om die Focac-beraad by te woon. Indien al-Basjir weer na die land kom, sal die Internasionale Strafhof daarop aandring dat Suid-Afrika, as lid van die Internasionale Strafhof, hom in hegtenis neem.

al-Basjir het ʼn goeie verhouding met China en is vroeër vandeesweek as ʼn “ou goeie vriend” verwelkom toe hy ʼn groot militêre parade vir die 70ste herdenking van China se oorwinning oor Japan in die Tweede Wêreldoorlog bygewoon het.

Focac is in 2000 in Beijing gestig as ʼn forum vir die Chinese regering om met alle Afrika-regerings te vergader om politieke, ekonomiese en ander vorms van samewerking te bespreek.

Anton du Plessis, ʼn regskenner verbonde aan die Instituut vir Sekerheidstudies meen die Suid-Afrikaanse regering sal nie weer die regbank aanvat deur al-Basjir in die land toe te laat vir die Focac-beraad nie. Du Plessis het gesê hy verwag die regskwessie rondom al-Basjir se vorige besoek sal in die konstitusionele hof eindig en dat die hooggeregshof in Pretoria se besluit gehandhaaf sal word.

Al-Basjir het in Junie vanjaar vir ʼn opskudding gesorg toe hy Suid-Afrika besoek het om die Afrika-Unie se beraad by te woon. Die Pretoriase hooggeregshof het gelas hy moet in hegtenis geneem word, net voordat hulle gehoor het hy het reeds die land verlaat.

Basjir word beskuldig van oorlogsmisdade, misdade teen die mensdom en volksmoord in Soedan se westelike Darfoer-gebied. Twee lasbriewe vir sy inhegtenisneming is in 2009 en 2010 uitgereik. As ʼn lid van die internasionale strafhof is Suid-Afrika verplig om Basjir aan die hof uit te lewer.

Die ANC het hierna versoek dat Suid-Afrika van die Internasionale Strafhof moet onttrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Peet Schabort ·

Vra vir Cyril, hy het die antwoord aangaande die howe en die anc.

Pieter V ·

Cyril het het omonwonde verklaar dat die anc hom nie van stryk sal laat bring deur die howe nie,wat eintlik niks nuut is,want die anc verwerp in elk geval alle hof bevele,so ook die anc beheerde munisipaliteite, en ook staats departemente .Baie mense is onder die indruk dat as Ramaphosa oorneem dit beter sal gaan , maar ons moet nie vergeet dat hy voorheen die leier van n militante vakbond was, en dat daardie vakbond ook sterk na komunisme neig, Hy gaan n groter gevaar vir afrkaanse instellngs wees as Zuma,want Zuma is besig om himself te verryk en prober die howe ontduik ,terwyl Ramaphosa al klaar deur die geldmag n multi miljoener gemaak is .

Zirk ·

Cyril het juis gister by die ANC jeugliga se leierskaps verkiesing dit duidelik gestel, dat die ANC NIE deur die land se howe regeer word nie. Wat sê dit vir ons as landsburgers.? Dit is die denke van die ANC regerende binnekring.

HEVW ·

zum, basjir en shina ontaard nou in koppelperde en dit voorspel verseker niks goed nie.

Eduard ·

Hulle sal versigtiger wees daar was te veel drama . En as SA uit die internasional straf hof tree dan gaan ons in die rigting van a miushond staat sjoe ek raak ongemaklik me SA

Dan ·

Ja Zuma steek sy tong ver uit, want almal in die ANC en EFF in parlement het hulle steun daartoe gegee. Nog net n speelbal vir hulle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.