Nuwe direkteur-generaal vir departement van gesondheid

Dr. Sandile Buthelezi (Foto: Die Suid-Afrikaanse Nasionale Vigsraad)

Die departement van gesondheid het ’n nuwe direkteur-generaal te midde van die Covid-19-pandemie aangestel.

Die departement het Vrydag in ’n verklaring dr. Sandile Buthelezi as sy nuwe direkteur-generaal aangekondig. Buthelezi is tans die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Vigsraad (SANVR) en beklee dié posisie sedert September 2017.

Die DA sê hy verwelkom Buthelezi se aanstelling, maar wil die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, se versekering hê dat dié aanstelling geensins die departement se reaksie op Covid-19 gaan beïnvloed nie, het Siviwe Gwarube, die DA se skaduminister vir gesondheid, in ʼn verklaring verduidelik.

Volgens Gwarube wil die DA ook meer duidelikheid hê of die aanstelling met onmiddellike inwerkingtreding geskied en of Buthelezi geleidelik sal oorneem by die waarnemende direkteur-generaal van die departement van gesondheid, dr. Anban Pillay.

“Covid-19 het die grootste en omvattendste reaksie op openbare gesondheid in die geskiedenis van Suid-Afrika genoodsaak. Dit is derhalwe van kritieke belang dat daar ’n bestendige oorhandiging van leierskapsverantwoordelikhede en die versekering van die minister is dat ons ’n verenigde administratiewe leierspan het wat dieselfde ten doel het,” het Gwarube gesê.

Meer oor Buthelezi

Buthelezi het destyds sy mediese graad aan die Universiteit van KwaZulu-Natal verwerf, waarna hy by die Edendale-hospitaal in Pietermaritzburg gewerk het. Hy is later as direkteur van MIV by dié provinsie se gesondheidsdepartement aangestel.

“Die lesse wat ons geleer het uit die hantering van MIV in Suid-Afrika kom nou handig te pas nou dat ons met Covid-19 te doen het, veral as dit kom by gemeenskapsgebaseerde toetsing en sifting,” het Buthelezi gesê.

Buthelezi het in 2010 ’n pos by die Universiteit van Columbia in die VSA beklee, waarna hy in 2017 by die SANVR aangesluit het.

“Die ervaring wat ek in en buite die openbare sektor opgedoen het, het my ’n baie meer gevormde persoon gemaak om saam met ’n span mense te werk om vorentoe te beweeg, met ʼn besonderse fokus op die nasionale gesondheidsversekering,” het Buthelezi gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

marius ·

Wat se reaksie word daar na verwys ? Hulle gaan dan nou hof toe en is geroepe op donasies om die reaksie te bestry ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.