Nuwe ekspat-belasting kan plaaslike ekonomie knou

Foto: fraudfighter.com

Hersiene wetgewing rakende die belasting van Suid-Afrikaners wat in die buiteland werk, kan menige belastingbetalers hul verblyfreg in Suid-Afrika vir belastingdoeleindes laat opgee, wat negatiewe nagevolge vir die land se ekonomie kan inhou.

Só sê Martin de Kock, ʼn direkteur by Ascor Onafhanklike Welvaartbestuurders, oor die nuwe wetgewing wat op 1 Maart 2020 in werking sal tree.

“Tot op hede is inkomste verdien deur Suid-Afrikaanse belastingbetalers wat meer as 183 dae – waarvan 60 aaneenlopend – in die buiteland was, vrygestel van belasting. Wanneer die wetgewing in werking tree in Maart, sal slegs die eerste R1 miljoen van hierdie inkomste vrygestel word,” sê hy.

Derhalwe sal inkomste bo die vrygestelde R1 miljoen belasbaar wees teen die gewone koerse volgens die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se belastingtabel. Die reëls met betrekking tot die dae in die buiteland bly van toepassing.

“Ek vermoed dat bogenoemde wetgewing tot gevolg gaan hê dat meer belastingbetalers hul ‘verblyfreg’ vir belastingdoeleindes gaan laat vaar. Die gevolg kan ʼn grootskaalse uittog van belastingbetalers wees wat verliese vir die land se fiskus tot gevolg sal hê. Daar sal ook minder mense wees wat plaaslik hul geld in die ekonomie aanwend.

“Dit sal op kort termyn dalk voordelig wees met inkomste wat gegenereer word, maar op lang termyn sal dit lei tot ʼn verdere vermindering van die belastingbetalersbasis,” verduidelik De Kock.

De Kock het aan Maroela Media gesê dié wetgewing gaan nie Suid-Afrikaanse werkers in die buiteland raak nie. “Onafhanklike kontrakteurs word spesifiek uitgesluit uit hierdie wetgewing, aangesien die bestaan van ʼn werknemer of werkgewer ʼn vereiste is.”

Maroela Media het vir De Kock gevra oor die aspekte van die nuwe wetgewing.

Argieffoto

Opgee van belastingverblyfreg

As ʼn Suid-Afrikaner geld buite die land verdien, maar steeds hier eiendom besit, ʼn gesin het wat hier woon en as ʼn Suid-Afrikaner beskou wil word, word hulle as ʼn belastingbetaler met normale verblyf geag.

Indien die belastingbetaler se normale verblyf nie meer in Suid-Afrika is nie, kan hy sy belastingverblyfreg opgee. “As ʼn belastingbetaler nie vir belastingdoeleindes in Suid-Afrika woon nie, sal die belastingwysiging nie van toepassing wees op só ʼn belastingbetaler nie.

“Hou egter in gedagte, indien die belastingbetaler sy plaaslike verblyf vir belastingdoeleindes opgee, kan daar ʼn uitgangsfooi gehef word. Hierdie fooi ontstaan aangesien daar vir belastingdoeleindes ʼn geagte realisering van alle bates, wat vaste eiendom uitsluit, plaasgevind het teen die huidige markwaarde. Met ander woorde, ʼn kapitaalwins het ontstaan wat belas word op die normale kapitaalwinsbelasting-berekening.”

De Kock waarsku dat dié proses formeel by SAID hanteer moet word en dat SAID in kennis gestel moet word van die status. “Wees bewus van die definisie van normale verblyf en maak seker jy voldoen aan die vereistes,” sê hy.

Byvoordele

Omdat hierdie wet van toepassing is op inkomstebelasting, is daar komplikasies wat ter sprake kom. “Vir baie van die belastingbetalers wat in die buiteland werksaam is, verskaf die werkgewers gratis akkommodasie en selfs vervoer, waarop daar geen waarde geplaas word nie. Uit ʼn Suid-Afrikaanse inkomstebelasting-perspektief word hierdie gratis voordele as byvoordele geag en daar moet ʼn waarde daaraan toegeken word vir belastingdoeleindes,” sê De Kock.

Dubbele belasting

Die risiko van dubbele belasting word gewoonlik vrygespring weens dubbelbelasting-ooreenkomste (DBO) wat onderteken word tussen SAID en die belastingowerhede van oorsese lande. Die belasting wat reeds in die buiteland betaal is, kan dus afgetrek word van belasting wat plaaslik betaalbaar is, mits daar wel ʼn DBO ingestel is. Suid-Afrika het só ʼn ooreenkoms met 60 lande.

Wat staan jou te doen?

Omdat die situasie van een belastingbetaler na ʼn ander verskil en die wetgewing redelik kompleks is, is dit sinvol om ʼn belastingspesialis te raadpleeg rakende die beste uitkoms vir ʼn spesifieke situasie, stel De Kock voor.

ʼn Belangrike beginsel om in gedagte te hou, is dat ʼn besluit wat slegs ter wille van belasting geneem word, dikwels nie die regte besluit is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

32 Kommentare

jongste oudste gewildste
B

Soos ek verstaan sal die ‘ekspat belasting’ die delta opmaak en ~gelyk wees aan die belasting wat ekspats ‘sou betaal’ vir daardie inkomste, gemeet aan SA belastingtabelle? (Eintlik minder want daar is ‘n R1m vrystelling) AS dit die geval is, hoekom die oproer daaroor? Moet die las op inwoners net swaarder word omrede die ekspats jolly-patrollie geen bydrae lewer tot SA, en soos dit klink vir my nie eintlik belasting wil betaal? Hoe regverdig is dit as mens nou feitlik daarna kyk. (Ek sal ook hou van so model, maar iemand moet betaal vir die aanloopbaan waarop jy land, die… Lees meer »

Jerry

Hoe meer desperaat die ANC regering raak om geld in te kry, hoe meer maniere sal ontwikkel word om die ANC geld te ontse, al beteken dit dan dat mense hulle burgerskap sal prysgee en eerder volle belasting betaal aan die lande waar hulle werk. So n besluit sal in elk geval nie net oor belasting wees nie, dit strek reeds baie verder, daarom kan ekstra belasting die knoop deurhak om #ImStaying, finaal vaarwel toe te roep!

Augustus

…skaf kapitaalwinsbelasting in geheel af ….en daar sal beleggings volg en daar sal onderneem word…. kapitaal sal invloei …. privaat investeerders sorg vir die ontwikkeling van ‘land….Bevry ons van oorbodige politici wat nie kennis van ekonomie het nie asook van die massa onbekwame amptenare op elk vlak wat nie wil en kan werk nie…

AndrewL

Dis net die begin. Dif word net al beter om burgurskap op te gee.

Zato

Ek het iemand gehad wat voltyds by ons gewerk het en ingebly het. Dit het later verander na 3 keer ‘n week, toe een keer’ n week en nou is dit net een keer elke 2 weke. So ook ons grassny dienste wat ‘n hele paar mense werk gee. Dis nou net 1 keer’ n maand waar dit eers elke 2 weke was. Ek werk in die buiteland en al die geld wat ek maak kon ek huis toe bring en dit hier spandeer. En dis nie net ek nie daar is duisende van ons wat ons wel verdiende geld… Lees meer »