Nuwe, gesonder spyskaart vir hospitale in Limpopo

Die LUR vir gesondheid in Limpopo, dr. Phophi Ramathuba, beproef die nuwe spyskaart. (Foto: Ndivhuwo Mukwevho/ANA)

Hospitale in Limpopo gaan voortaan gesonder en meer heilsame maaltye bedien in ʼn poging om die voorkoms van nie-oordraagbare siektes te verminder. Die departement van gesondheid in die provinsie het ook reeds ʼn gestandaardiseerde spyskaart van agt dae opgestel wat in al sy hospitale gebruik gaan word.

ʼn Swak dieet is een van die grootste bydraende faktore tot die ontwikkeling en bevordering van voorkombare siekte en die departement sê hy wil op dié manier pasiënte aanmoedig om meer vrugte, groente en laevetsuiwel te eet.

“Die nuwe spyskaart gaan baie help om die voorkoms van nie-oordraagbare siektes soos diabetes en hipertensie te verminder, omdat dit die minimum vet en sout bevat,” het Neil Shikwambana, woordvoerder van die departement, gesê.

Dr. Phophi Ramathuba, LUR vir gesondheid, het die spyskaart vandeesweek by die Mokopane-hospitaal bekend gestel.

“Die hersiene spyskaart gaan help verseker dat alle staatshospitale in die provinsie kos bedien wat gesond en heilsaam is. Dit gaan pasiënte se herstelproses verbeter en die duur van hulle hospitalisering verkort,” het Shikwambana gesê.

Die departement het inwoners by die projek betrek deur hulle toestemming te gee om groentetuine by die meeste van sy klinieke aan te lê, omdat daar beter toegang tot water is.

Shikwambana het gesê die kos op die spyskaart verskil nie veel van dit wat vantevore bedien is nie; die manier waarop die kos voorberei word verskil wél, en meer groente word ingesluit.

Die aanpassing gaan ook nie die departement se begroting raak nie.

Dr. Lutendo Muremela, ʼn dokter van Thohoyandou, sê die groeiende getal oorgewig mense, veral in landelike gebiede, is grootliks te wyte aan die kos wat hulle eet.

“Gemors het ons stapelvoedsel geword en dit is uiteraard ongesond. Dit is tyd dat ons die tradisionele Afrika-manier van eet terugneem, en dit is om meestal vrugte en groente te eet.”

Shikwambana het gesê mense word ook aangemoedig om by hulle eie huise groentetuine aan te lê om die styging in leefstylverwante siektes te help verminder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

sweis ·

Ek dink die hospitale moet skoon gemaak word en skoon gehou word ek onthou hoe die HF Verwoerd hospitaal se vloere altyd geblink het en die beddegoed spierwit was,nou is ek te bang ek word siek om by oliver tambo in te gaan.

L ·

Ek wil dit sien. Een van die groot probleme wat ondervind word is dat dat geen geld is. Spyseniere ontrek want hulle word nie betaal vir die dienste wat gelewer word. En die kos is regtig basies. Hierdie lyk na n 5 ster maaltyd. Wie gaan dit betaal. Daar is dan nou nie eers geld om kokkerotte dood te maak nie. Gaan kyk maar hoe loop hulle rond in die Joburg Gen

zoom zoom ·

Nou gaan die personeel nog lekkerder eet en die pasiënte kry nogsteeds die krummels.

elna ·

Jy neem die woorde so uit my mond! Dis wat oral gebeur en niemand kan dit ontstry nie. Dit gebeur oral in ouetehuise ook. Selfs beddegoed word huistoe geneem.

Eerlik ·

N proef lopie vir n niewe de eet. Die kos gaan nie die probleem alleen op los nie. Diens lewering is die grootste sonde bok.

A ·

Dis ‘n stap in die regte rigting, nou die staatshospitale op standaard kry, want almal verdien basiese, ordentlike gesondheidsdienste!!

Tammy ·

baie ‘oulik’ die nuwe idees, maar dalk FIRST THINGS FIRST . dalk moet julle eerder kyk dat mense se wonde ordentlik behandel word sodat hulle nie septisemia kry en doodgaan nie, dalk moet julle eerder kyk dat die susters nie le en slaap terwyl vrouens kraam of doodgaan nie … alles kort ‘n goeie UPGRADE, nie net die kos nie .maar daar word ONDERSPANDEER en daarom is meeste staatshospitale in chaos …

Anoniem ·

Baie druppels maak die emmer vol. Ek is dus bly oor hierdie verbetering. Hopelik volg die ander provinsies hul voorbeeld. Ons ALMAL moet probeer om so gesond as moontlik te eet. Gesond eet kan ook lekker wees!

Gaan lees gerus bietjie op oor “hidden hunger”. Jy kan rond in die boud wees, maar nog steeds aan hidden hunger ly.

“Hidden hunger is a lack of vitamins and minerals. Hidden hunger occurs when the quality of food people eat does not meet their nutrient requirements, so the food is deficient in micro nutrients such as the vitamins and minerals that they need for their growth and development.”

bambi ·

Ordentlike matrones soos in my dae se opleiding is nodig! JHB het vd beste hospitale ooit gehad; die ou Suidrand en JG Strijdom; die Gen….nou gaan lê jy daar net om te sterf; geen diens val uitmekaar!

Inge de Clerck ·

Nee gats! Kyk daai hompe kos wat hulle kry!!! Ek was vir n paar weke in die hospitaal na n ongeluk laas jaar, en ek het vir my eetgoed laat bring van die huis af, want die porsies was so klein dit het my as vrou nie versadig gemaak nie. Het altyd gewonder of die mans (wat groter porsies kan bestel) ook so gevoel het. Soms was dit eetbaar ander dae walglik, en ek het van daai geregte op die spyskaart meer as 3 keer gehaad, en dit het nooit die selfde geproe nie! Jou hospitaal kos is veronderstel om voedsaam, geurig en vars te wees. En genoeg. Jy betaal immers daarvoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.