Nuwe, gevaarlike voëlgriepstam geïdentifiseer

hoenders

Foto: Zdenet/Pixabay.com

ʼn Lêhoenderplaas aan die Oos-Rand is die jongste slagoffer van die voëlgriepvirus. Die uitbreking van die H5-stam is nou as HPAI H5N1 geïdentifiseer. Dit is nie dieselfde stam as die uitbreking in Junie 2017 nie.

Alle uitbrekings van HPAI word as uiters ernstig en gevaarlik beskou, en die pluimveebedryf bly op ʼn gereedheidsgrondslag. Kwarantynprotokolle bly op dié plaas van toepassing en alle bioveiligheidsmaatreëls word steeds getrou gevolg. Die plaaswerkers word daagliks van persoonlike beskermende toerusting voorsien en die plaas sal ook gesteriliseer word voordat daar nuwe hoenders ingekry word.

Die betrokke maatskappy het die drastiese, maar verantwoordelike besluit geneem om sy 240 000 henne van kant te maak, om die omliggende plase en die Suid-Afrikaanse pluimveebedryf in geheel te beskerm. Die vervangingskoste van hierdie henne is R20 miljoen.

ʼn Tweede uitbreking van HPAI H5 is ook op ʼn braaikuiken-teelplaas in Noordwes geïdentifiseer, wat 7 000 van sy braaikuiken-teeldiere van kant moes maak. Monsters is na Onderstepoort se veeartsenykundige-navorsingsinstituut gestuur vir ontleding.

HPAI is ʼn hoogs patogeniese siekte en moet by die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (OIE) aangemeld word. Die OIE stuur daagliks inligting oor aanmeldbare siektes aan alle lande. Besorgde lande het die reg om invoere van enige land waar die OIE ʼn uitbreking geïdentifiseer het, te staak.

Tans het Namibië die invoer van pluimveeprodukte uit Suid-Afrika se kompartement 18/500 (die gebied waar die eerste uitbreking plaasgevind het) verbied. Botswana en Mosambiek het ook alle hoendervleis, -eiers en -vere uit Suid-Afrika verbied, en Lesotho het eiers uit Gauteng verbied.

Dr. Mpho Maja, direkteur van dieregesondheid by die departement van landbougrondhervorming en landelike ontwikkeling, is in gesprek met alle buurlande om die impak op Suid-Afrika se uitvoere so gering as moontlik te maak.

Boere en alle pluimvee-eienaars word dringend versoek om hulle te vergewis van biosekuriteitsprotokolle sodat nie net hul pluimvee nie, maar ook die Suid-Afrikaanse pluimveebedryf as ʼn geheel beskerm word.

Hiérdie voëlgriepstam word deur wilde voëls oorgedra, veral in hierdie tyd van die jaar wanneer hulle noordwaarts migreer. Almal word versoek om op die uitkyk te wees vir dooie voëls en dit by hul naaste staatsveearts aan te meld.

Maja werk nou saam met die pluimveebedryf om die HPAI-uitbrekings te bekamp, en sal ʼn besluit neem oor die verskuiwing van pluimvee indien nodig.

Verbruikers word verseker dat eiers en braaikuikenprodukte veilig is om te eet mits normale kookprosedures van temperature bo 60 ˚C gevolg word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Samuel ·

Nou wat nou? Hoendervleis is al bekostigbare vleis op die oomblik.

ouMo ·

Ons het skaaptjoppies nodig om normal te funksioneer. Dit is ononderhandelbaar.

Rudolph ·

Gelukkig het ons nie diere se liggaamsdele nodig om gesond te leef nie.

ouMo ·

Maar ‘n skaaptjoppie doen altyd wondere vir ‘n mens se gemoed

Dirk Mostert ·

Iemand gaan weer geld maak. Word die goed georkestreer?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.