Nuwe handjie vir klapper-slagoffer

Kosie Wessels. Foto: Verskaf

Kosie Wessels. Foto: Verskaf

ʼn Lang pad van herstel lê nog voor vir Kosie Wessels (7), die seun wat sy hand verloor het toe ʼn bomklapper vroeër vandeesmaand in sy hande ontplof het.

“Hy huil nog baie van pyn en kry gereeld nagmerries. Ek moet hom vashou en troos as sy lyfie ruk en hy met sy bene skop,” het Caroline Strydom (38), ʼn enkelma van vyf kinders, Dinsdag aan Maroela Media gesê.

Maroela Media het vroeër berig Kosie, ʼn gr.1-leerling aan die Laerskool Piet Hugo in Polokwane, se linkerhand moes noodgedwonge geamputeer word nadat hy op 3 September ʼn groot klapper en vuurhoutjies in die hande gekry en dit aan die brand gesteek het.

Kosie en sy ma, Caroline Strydom. Foto: Verskaf

Kosie en sy ma, Caroline Strydom. Foto: Verskaf

Strydom was die middag besig om huis skoon te maak en het gedink Kosie speel buite soos gewoonlik. Kosie het egter in een van sy tienersusters se kamer ingeglip en op die klapper afgekom, waarna hy dit in die sitkamer aan die brand gesteek het.

Volgens Strydom het sy skielik ʼn plofslag gehoor, gevolg deur Kosie se angsgille. Die klapper het in sy hand ontplof en byna al die weefsel afgeruk. Strydom het dadelik haar seun se wond met lappe toegedruk en na buite gehardloop om hulp te ontbied. ʼn Vreemdeling het hulle gesien en met hulle na die plaaslike provinsiale hospitaal gejaag, waar sy hand geamputeer is. Hy het ook brandwonde aan sy maag, gesig en arms opgedoen.

Kosie se fratsongeluk het talle mense se harte aangeraak en met die hulp van die liefdadigheidsorganisasie, Child Medi Organisation, is genoeg geld ingesamel om hom op 5 September na die Limpopo Mediclinic in Polokwane oor te plaas, aangesien Strydom nie aan ʼn mediesefonds behoort nie. Child Medi het ook reeds ʼn deposito betaal vir ʼn prostetiese hand.

Hy is op 7 September ontslaan en moet sedertdien gereeld wondsorg ondergaan.

“Daar is nog steke in die handjie en die wond het begin septies word. Hy huil elke keer as die wond oopgemaak word, want hy wil nie sien sy hand is weg nie. Die wond moet eers heeltemal genees en hy moet rehabilitasie ondergaan voordat hy sy nuwe handjie kan kry.”

Intussen moet hy berading ontvang om te help om die verlies te verwerk. Hy sal eers weer skool toe gaan wanneer die wond behoorlik genees het.

Amor Schoeman, woordvoerder van Child Medi, het almal bedank wat die gesin die afgelope tyd bygestaan het.

“Child Medi wil graag namens Kosie se gesin baie dankie sê vir al die skenkings van wonderlike mense om hierdie gesin in hul nood by te staan. Nou lê die lang pad van herstel en aanvaarding voor,” het sy gesê. “Soos wat Kosie groei, moet verstellings gereeld aan die prostese gemaak word, waarvoor nog geld nodig sal wees.”

Child Medi bedryf ʼn fonds om te help om Kosie se mediese onkostes en prostese te dek. Klik hier vir meer besonderhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ellie Rose ·

Dis so hartseer dat so ‘n pragtige seuntjie deur soveel trauma moet gaan. Caroline ons bid vir jou en Kosie. Omdat hy so jonk is sal hy spoedig herstel en met berading sal hy die verlies verwerk. Moedig hom net gedurig aan en gee hom baie liefde. Ek het my dogter byna op 3 jaar in ‘n motorongeluk verloor, maar die Vader se genade was groot. ons het ‘n baie lang pad na herstel moes loop en sy is vandag 40 jaar oud en die moeder van ‘n pragtige 2ling en vir almal ‘n inspirasie, want geen berg is vir haar te steil nie.Sterkte.

mosselbos ·

VERBAN klappers en vuurwerke. Oe nee die regering sal mos nie want China sal ongelukkig wees…

De'lia Apsey ·

Ellie Rose baie dankie vir jou bemoedigende antwoord aan Kosie se mamma Caroline. Ek bid saam vir spoedige herstel en dank ook die Here vir klein Kosie se nuwe handjie. My grootste wens is dat hul vuurwerke sal verban. In West Virginia VSA mag jy vuurwerke koop wat slegs die lugruim verfraai maw “rockets” in alle vorme, dit doen geen skade aan troeteldiere en kinders nie want slegs mense bo 21 word in di winkel toegelaat om aankope te doen!

Andre du Plessis ·

My hart gaan uit na die kind. Hoeveel van ons het as jong seuns nie sulke onhebbelikhede aangevang, en net deur die beskerming van bo niks oorgekom nie?
Die sielkundige herstel is die seerste en langste.
Ek kan my net indink oor die emosionele pyn wat hy moet beleef. Toe ek ‘n paar jaar terug per ongeluk my eie pinkie se eerste lit afgesny het was dit die ergste om te verwerk (nie eens gepraat van ‘n hele hand nie!)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.