Nuwe heup vir verpleegster wat lank met pyn saamleef

Anna Maria Isidoro (née Dickie), of Mandy soos almal haar ken. (Foto: Verskaf)

ʼn 70-jarige vrou wat tot vyf jaar lank sou wag vir ʼn heupvervanging in ʼn staatshospitaal, het nou hoop vir ʼn pynvrye toekoms nadat ʼn weldoener haar gehelp het om spoedig ʼn heupoperasie te ondergaan.

Anna Maria Isidoro (née Dickie), of Mandy soos almal haar ken, is Vrydag uit die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg ontslaan nadat sy teen alle verwagting in, verlede week geopereer is. Die operasie het suksesvol verloop.

Die operasie kom meer as drie jaar nadat haar heup uit sy potjie gegaan het toe ʼn inwoner by ʼn tehuis waar sy werksaam was, haar aangeval het.

Wendy Hatfield, Isidoro se dogter, sê hoewel die operasie nou afgehandel is, dit ʼn onstuimige proses was om eindelik tot op daardie punt te kom.

Maroela Media het vroeër berig dat ʼn weldoener verbonde aan die Charlotte Maxeke-hospitaal verlede jaar na Isidoro uitgereik en haar hernieude hoop gegee het dat die lewensveranderde operasie eersdaags sal plaasvind, eerder as die vyf jaar wat die Helen Joseph-staatshospitaal aanvanklik voorspel het. Bekommernisse oor haar gesondheid het egter die proses vertraag en sy is aangesê om ses weke lank op te hou rook en ʼn kardioloog te sien voordat die operasie oorweeg kon word.

“Die vroegste wat die kardioloog haar kon sien, was in Julie vanjaar. Deur die Here se genade het die dokters planne beraam en dit reggekry dat sy vroeër die spesialis kon sien,” vertel Hatfield.

“Sy is toe op 16 Januarie by die staatshospitaal opgeneem – gereed vir haar operasie.”

Sy moes egter nóg twee weke in die hospitaal wag voordat die operasie eindelik sou plaasvind.

Volgens Hatfield is daar slegs twee teaters in die betrokke saal waar haar ma opgeneem is en slegs twee operasies word daagliks in elk van die teaters gedoen. Elk van die operasies duur omtrent vier of vyf uur en as die eerste operasie langer neem as beplan, kan dokters nie die middag se operasie uitvoer nie.

Isidoro en haar dogter Wendy Hatfield. (Foto: Verskaf)

“So elke dag is haar operasie net verder uitgestel,” sê Hatfield.

“Dit was ʼn baie stresvolle tyd gewees, maar ek is dankbaar vir die dokters want hulle het ons deurlopend op hoogte gehou van die stand van sake.”

In hierdie tyd het Hatfield daagliks ure lank in verkeer gesit om by haar ma uit te kom en teen die tyd wat sy weer tuis was, was daar beurtkrag. Sy het dikwels tot in die vroeë oggendure gesit en werk, net om die proses die volgende dag te herhaal.

“Dit was ʼn uitputtende paar weke, veral omdat daar elke keer groot onsekerheid was of die operasie wel sal plaasvind.”

Op 31 Januarie is Isidoro wel geopereer, waarna sy twee dae lank in hoë sorg herstel het. Teen die Vrydagmiddag was sy terug by die huis.

“My ma staan nie terug vir enigiets nie, en ek is dankbaar om te sê dat sy weer glimlag.”

Hatfield vertel dat haar ma wel nog in erge pyn verkeer en skaars kan slaap, maar dat sy hoopvol is oor die toekoms.

“Die pyn wat sy nou ervaar, is anders as die pyn wat sy die afgelope paar jaar ervaar het. Sy kan voel dit word beter en dat sy eendag pynloos sal kan voortgaan met haar lewe,” sê sy.

“Sy loop nog met twee krukke, maar oor ʼn week sal haar steke verwyder word en kan sy met oefeninge begin om haar lyf weer sterk te kry.”

Operasie ‘onmoontlik sonder toegewyde dokters’

Isidoro het twee weke lank in die hospitaal spandeer voordat sy eindelik geopereer is. (Foto: Verskaf)

Volgens Hatfield het die hospitaal, sy personeel en al die betrokke dokters en verpleegsters hul verwagtinge oortref met die diens wat gelewer is.

“Hulle het na al ons bekommernisse geluister en nie enige kanse met my ma se lewe gevat nie. Dit het gevoel asof ons heeltyd in goeie hande was,” sê sy.

“ʼn Mens hoor van so baie mense se slegte ervarings by openbare hospitale, en ons het dit self by ander hospitale beleef, maar by hierdie akademiese hospitaal is die dokters uiters bevoeg en regte omgeemense.

“Ons was ook verbaas om te sien hoe pynlik netjies en skoon die hospitaal en sy geriewe is. ʼn Mens kan sien die personeel gebruik alles tot hul beskikking om die beste moontlike diens te lewer.”

Isidoro het ʼn verdere sug van verligting gegee nadat dit aan die lig gekom het dat die uitgawes vir hul eie sak, ná die operasie minimaal is.

“Ons het destyds slapelose nagte gehad oor hoe ons R180 000 gaan saamskraap om vir die operasie in ʼn private hospitaal te betaal, juis omdat sy nie nóg vyf jaar met die pyn sou kon voortleef nie.”

Isidoro gaan vir die volgende paar weke intensiewe fisioterapie ontvang met die hoop dat sy voortaan nie met ʼn kierie hoef te loop nie. Daarna hoop sy om weer haar rol as verpleegster aan die Floroma-tehuis in Roodepoort, Johannesburg, te hervat, maar dié keer sonder enige pyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jaco ·

Is so ‘n operasie nou regtig R180 000 werd in ‘n privaathospitaal? Is die toerusting wat gebruik word van goud gemaak?

whatever ·

NIe die toerusting nie, wel die kundigheid en die nuwe heup wat ingesit word – daar word betaal vir jare se navorsing.

Casper ·

Die tannie is seventig en sy wil teruggaan werk toe.Sy is ‘n ware inspirasie.

SANET ·

Mandy is my skoonsus en ‘n yster van ‘n vrou. Dankie Maroela Media en Dr’s en personeel. Julle gee my hoop????????

Trotse Boervrou ·

Baie dankbaar vir haar. Gebede word nog verhoor. Medaljes en groot waardering aan die weldoener, ‘n puik hospitaal en almal betrokke. Buiten om te lees dat die pasiënt eersdaags verlig gaan wees van haar lyding was dit ook so goed om te lees van ‘n uitmuntende en SKOON hospitaal, van baie bekwame dokters en personeel in geheel. Dit is wat ons graag elke dag wil hoor. Tien uit tien vir julle!

Willie ·

My vrou is in dieselfde situasie. Sy moet ‘n heup vervanging kry en Steve Biko het vir ons gesê dit kan tussen 8 en 12 JAAR vat alvorens die operasie gedoen kan word. Ons het nie medies nie en haar lewenskwaliteit is erg belemmer asook verkeer sy in daaglikse pyn. Dis erg hoe onregverdig die lewe is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.