Nuwe hokkieliga eindig op hoë noot

Argieffoto: https://pixabay.com

Argieffoto: https://pixabay.com

Die nuwe Premier Hokkieliga (PHL) het Sondag opwindend ten einde geloop en die positiewe vernuwing vir Suid-Afrikaanse hokkie is met ʼn intense en goeie manseindstryd afgesluit.

Die Maropeng Cavemen het die Addo Elephants 2-0 in die eindstryd geklop in hierdie eerste toernooi wat volgens die Amerikaanse lotingstelsel gekies is.

Die vyf spanne in die mans- en vroueafdelings, met spelers wat mekaar ʼn maand gelede nie as spanmaats geken het nie, het deurgaans puik en uiters mededingende hokkie opgelewer.
Die manseindstryd tussen die Addo Elephants en die Maropeng Cavemen het hoogstaande hokkie opgelewer en die twee spanne was werklik ernstig daarop ingestel om die titel en prysgeld van R50 000 in te palm.

Trouens, die wedstryd het plek-plek gedreig om handuit te ruk, só ernstig was die oorwinning vir die spelers.

Die algemene kommentaar van spelers ná die toernooi was dat hulle dit baie geniet het om saam met vreemde spanmaats te speel en ander afrigters te hê. Hulle stem almal saam dat hulle baie geleer en dit terdeë geniet het.

♦ Die eindstryd vir die vroue was tussen die Blyde River Bunters en die Madikwe Rangers. Dit is teen alle verwagting in deur die Bunters gewen, 3-1. Hulle het met die wentrofee en ʼn tjek van R50 000 van die veld gestap.

Die Wineland Wings het die St Lucia Lakers in Sondag se uitspeelwedstryd om die derde plek geklop.

Die nasionale o.21-span, wat as die Namakwaland Daisies aan die toernooi deelgeneem het, het hul uitspeelwedstryd Saterdag vir die vyfde plek teen die Orange River Rafters 2-0 gewen. Dit was hul enigste oorwinning in ses wedstryde.

Daar lê dus harde werk voor voordat hulle einde November aan die o.21- Wêreldbekertoernooi in Santiago deelneem.

In teenstelling hiermee was die o.21-manspan, die Golden Gate Gladiators, deurgaans mededingend maar ʼn bietjie ongelukkig om vierde te eindig. Die bronsmedalje is deur die Garden Route Gazelles gewen.

♦ Die helfte van al die prysgeld in die toernooi waar die speler van elke wedstryd ook R5 000 gekry het – sowat R125 000 – is aan die twee nasionale junior spanne geskenk om te help met uitgawes vir hul bywoning van die Wêreldbekertoernooie later vanjaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.