Nuwe hoof- uitvoerende beampte vir VL

Gernie Botha (Foto: Verskaf)

Vrystaat Landbou (VL) het Donderdag bekend gemaak dat hy Gernie Botha as sy hoof‑ uitvoerende beampte aangestel het.

Botha, wat al jare lank in diens van VL is, beklee reeds dié posisie vanaf 1 Mei.

Francois Wilken, president van VL, sê die bestuur is baie gemaklik en opgewonde oor Botha se aanstelling.

“Gernie is ’n man van integriteit, iemand op wie jy werklik kan staatmaak en sy liefde en toegewydheid vir die landbougemeenskap van die Vrystaat is opmerklik in sy handel.”

Botha is in 2014 as regsadviseur van VL se veiligheidsafdeling aangestel voordat hy later tot bedryfsbestuurder bevorder is.

Hy neem nou die leisels as hoof‑ uitvoerende beampte oor nadat VL se dagbestuur die afgelope paar jaar die uitvoerende beampte se funksies vervul het.

VL sê in ’n verklaring Botha is ten spyte van al die uitdagings waarvoor die landbousektor te staan kom, steeds optimisties oor die geleenthede wat dié sektor bied.

“Om in Suid-Afrika te boer vereis senuwees van staal, maar die geskiedenis het gewys dat boere en die landbousektor ten spyte van baie uitdagings altyd bereid is om te sorg dat daar kos op die tafel is. Deursettingsvermoë is ʼn eienskap wat onteenseglik deel van ʼn boer is endaarom is die wyse woorde van CJ Langenhoven so gepas: ‘Laat ons nie so besig wees om kanse te soek dat ons die geleenthede een vir een laat verbyglip nie’. ”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

VannieBaai ·

Baie geluk Gernie. Ons het saam gewerk by dieselfde regsfirma in Bfn en jy het toé reeds groot skoene baie vinnig volgestaan!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.