Nuwe hoof van universiteit glo sekspes

Prof. Peter Mbati. (Foto: Facebook)

Die parlementêre portefeuljekomitee oor hoër onderwys, wetenskap en tegnologie is woedend oor die aanstelling van prof. Peter Mbati as visekanselier van die Sefako Makgatho-Universiteit vir Gesondheidswetenskappe in Gauteng, ondanks bewerings van seksuele teistering teen hom.

“Tydens die komitee se vergadering met die kommissie oor geslagsgelykheid het dit duidelik geword dat die aanbevelings van die kommissie se verslag van 4 Desember 2014 rakende bewerings van seksuele teistering teen prof. Mbati nooit by die Universiteit van Venda in werking gestel is nie,” het die komitee in ʼn verklaring gesê.

Die parlementêre komitee gaan nou sy eie voorlopige ondersoek doen na Mbati se geskiktheid vir die amp.

Terwyl Mbati die visekanselier van die Universiteit van Venda was, is hy daarvan beskuldig dat hy prof. Thidziambi Tshivhase Phendla seksueel geteister het.

Phendla het in 2012 ʼn klag by die kommissie oor geslagsgelykheid aanhangig gemaak. Dié het in 2014 bevind die bewerings is geloofwaardig en oortuigend en dat die universiteit se versuim om Mbati te dissiplineer ʼn oortreding van die universiteit se beleid oor seksuele teistering was.

Die kommissie het gevra dat ʼn formele dissiplinêre ondersoek na Mbati se beweerde optrede gedoen word, maar die universiteit het gevra vir ʼn hersiening van die verslag. Hoewel al die aanbevelings nie ter syde gestel is nie, is gedeeltes daarvan wél.

Die universiteit het Lavery Modise aangestel om as bemiddelaar op te tree, maar die komitee het in ʼn verklaring aangevoer Mbati het dié proses verhinder.

Mbati het Modise glo ook probeer omkoop.

Luidens die verklaring het Mbati bevestig dat hy ʼn seksuele verhouding met Phendla gehad het. Modise het hom ook gekonfronteer met opnames van telefoongesprekke tussen die twee, asook Phendla se grafiese beskrywing van merke op sy liggaam en die manier hoe die meubels in sy slaapkamer gerangskik was.

In ʼn beëdigde verklaring sê Modise “dit is belangrik om uit te wys dat die aansoeker (Mbati) my onbehoorlik probeer beïnvloed het om my verslag te wysig”.

Die parlementêre komitee sê nou die klag teen Mbati is uiters ernstig en dit skep vrae oor sy geskiktheid om as visekanselier by die Sefako Makgatho-Universiteit vir Gesondheidswetenskappe aangestel te word.

“Uit die inligting beskikbaar aan die komitee is dit duidelik dat Mbati ʼn hele aantal strategieë, waaronder regstappe en moontlike sameswering met die universiteitsraad, gebruik het om die ernstige bewerings van seksuele teistering te systap,” het Philly Mapulane, komiteevoorsitter, gesê.

Die komitee vra ook of die universiteitsraad en diegene verantwoordelik vir sy aanstelling bewus was van die bewerings van seksuele teistering voordat hulle besluit het om hom vir die pos aan te beveel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Andre ·

Nee wat.Bekwaamheid,ervaring,kennis en intiegriteit is geensins in oorweging as mense aangestel word nie.Wat belangrik is,is of die kanidaat vriende en kennisse het in die ANC.As jy nog ‘n misdaad rekord ook het soveel beter vir jou aanstelling.

Harry ·

Lyk vir my jy kan enige oortreding in SA pleeg en aanbeveel word vir n hoë pos. Moet net nie sonder ‘n masker rondloop, blank wees, of lyk of jy ontevrede is met die wetteloosheid in SA nie.

Sarel ·

Bewys paar dinge, eerstens dat Stasnde Komitees in Parlemdnt geen tande het nie. Dat die veldyogvir geweld teen vrouens en kinders ‘n klug is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.