Adv. Andrea Johnson is as die nuwe hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se ondersoekdirektoraat aangestel.
Pres. Cyril Ramaphosa het Maandag aangekondig dat Johnson vandag (1 Maart) in dié pos begin.
Sy neem by adv. Hermione Cronje oor wat in Desember skielik haar bedanking aangekondig het. Cronje is in Mei 2019 in die pos aangestel.
“Adv. Johnson neem hierdie belangrike verantwoordelikheid by adv. Cronje oor op ʼn belangrike tydstip in die land se pogings om beslissend op te tree teen individue wat by staatskaping en korrupsie betrokke is,” het Ramaphosa gesê.
Adv. Johnson is ʼn ervare senior adjunkdirekteur in die NVG met meer as 25 jaar se ondervinding. Sy was vir tien jaar aan die direktoraat vir spesiale operasies verbonde en het in die NVG se prioriteitsmisdaadlitigasie-eenheid en eenheid vir georganiseerde misdaad gewerk.
Johnson dien tans in die NVG-taakspan wat toesig hou oor die implementering van die aanbevelings van die staatskapingverslag.
“Die ondersoekdirektoraat het sedert sy stigting in 2019 onder leiding van adv. Cronje die NVG in staat gestel om staatskaping en ander hoëprofiel-korrupsiesake meer effektief te vervolg,” het Ramaphosa gesê.
“Daar sal van adv. Johnson verwag word om die ondersoekdirektoraat in die volgende fase van sy werk te lei, aangesien die mense van Suid-Afrika na die strafregstelsel kyk om diegene wat verantwoordelik is vir staatskaping en korrupsie aan te kla.
“In hierdie verband kan die ondersoekdirektoraat gebruik maak van die uitgebreide inligting wat deur die staatskapingskommissie saamgestel is en sal die direktoraat versterk word met die toewysing van meer hulpbronne.”
Johnson was lid van die spanne wat die voormalige polisiehoof Jackie Selebi en die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius vervolg het.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
13 Kommentare
Sal nie my asem ophou nie.Die NVG het nie die fondse om doeltreffend iemand te vervolg nie.Die wil is ook nie daar nie.Gaan vra maar vir Hermione Cronje.Sy het dit mooi uiteengesit.In die huidige vorm is dit heeltemal ondoeltreffend en van geen nut nie.
…die Kaap is darem weer deesdae Hollands. Watter geluk! Van Donk rook rustig voort. Geen vonk gaan gou enige haar op sy ou kop versteur nie. Die parlement is afgebrand en die nuwe venue ge-rooi-tapyt. Gaap!
Wie trek die toue skwirrel ?
Baie geluk en sterkte en ja kla kouse sal kla geen aanstelling sal jull bevredig nie.
Is sy nie deel van die Guptas nie