Nuwe hoof vir OBK aangestel

Abel Sithole, nuwe hoof van die OBK (Foto: gepf.gov.za)

Tito Mboweni het Woensdag in ʼn verklaring bevestig Abel Moffat Sithole is aangestel as die uitvoerende hoof van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) en uitvoerende direkteur.

Die aanstelling is vir vyf jaar geldig.

Sithole is tans die uitvoerende hoof van die staatspensioenfonds (GEPF) en die kommissaris van die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA).

Voor hy in 2015 by die GEPF aangesluit het, was Sithole ʼn adjunk- uitvoerende direkteur by die Instituut vir Toekomsnavorsing aan die Universiteit Stellenbosch (US). Hy het ook verskeie nie-uitvoerende poste beklee.

Vuyani Hako, uitvoerende hoof: eiendomme, het intussen as die waarnemende uitvoerende hoof opgetree.

“Ons bedank mnr. Hako vir sy bydrae tot die OBK,” het Mboweni gesê. “Hy het die organisasie deur moeilike tye bestuur. Ons wens mnr. Sithole geluk met sy aanstelling en wens hom alles van die beste toe om die organisasie te lei en die integriteit daarvan te herstel.”

Geordin Hill-Lewis, die DA-skaduminister oor finansies, het gesê sy party verwelkom Sithole se aanstelling. “Sy omvattende ervaring, in die versekering- en pensioenfondsbedryf, sal van onskatbare waarde wees om die OBK te stabiliseer,” het Hill-Lewis in ʼn verklaring gesê.

Volgens Hill-Lewis moet Sithole dringend die aanbevelings van die Mphati-kommissie implementeer. Een van die aanbevelings was dat die verslag aan die Nasionale Vervolgingsgesag en alle betrokke owerhede gestuur moet word sodat die nodige stappe gedoen kan word teen diegene wat onbehoorlik opgetree het.

“Mnr. Sithole moet ook dadelik ʼn volskaalse hersiening van stapel stuur oor die bestaande ooreenkomste tussen die OBK en Sekunjalo Investment Holdings om enige geld te verhaal wat in Sekunjalo-maatskappye belê is.”

Hy meen Sithole se prestasie sal gemeet word aan hoe hy die OBK teen die ANC-regering se “herhaalde pogings om die fonds te plunder”, beskerm.

“Die DA is gereed om met mnr. Sithole saam te werk om seker te maak die OBK bly by sy oorspronklike mandaat om waarde te skep vir staatsdienswerkers, sy grootste aandeelhouers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JohanR ·

En hy sal hoeveel verdien, en hoe groot sal sy bonus wees?

Grassie ·

Die man is nou al 5 jaar betrokke by die staatsdienspensioenfonds. Gedurende daardie tyd was die fonds dikwels geplunder deur die regering en ‘n paar ander. Die DA sê hy is ‘n goeie ou. Ek hoop hulle is reg maar ‘n mens mag dink wat jy wil.

Piet ·

Ek glo en vertrou dat hy sal toesien dat die GPEF met integriteit beheer en bestuur sal word. Niks vir SAL en Eskom nie. Dit sluit alle ander instansies ook in.

koos10 ·

Miskien moet hy loop by die GEPF om die geldkoffers oop te maak vir die regering?

marius ·

Kan hy op die eerste dag tel hoeveel geld in die fonds oor is en rapporteer aan diegene wie se geld dit
was …..behoort nie meer as 5 minute te neem nie .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.