Nuwe hoof vir Poskantoor aangewys

Nomkhita Mona (Foto: South African Government News, Facebook)

Die kabinet het Vrydag Nomkhita Mona as die nuwe hoof- uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Poskantoor (Sapo) aangewys. Dié pos is vakant nadat Mark Barnes in Augustus 2019 as hoof van die Poskantoor bedank het.

Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie en digitale tegnologie, het Mona se aanstelling verwelkom en gesê sy moet nou die leisels oorneem en die Poskantoor weer probeer “regruk”. Die Poskantoor word tans teen ʼn verlies van miljarde rande bedryf en volgens ʼn verslag wat onlangs in die parlement gedien het, is hy miljoene posstukke agter.

Maroela Media het in Januarie berig bankrotskap staar die Poskantoor weer in die gesig ondanks die R8 miljard wat hy sedert 2014 ontvang het.

Ndabeni-Abrahams het gesê die Covid-19-pandemie en die daaropvolgende ekonomiese uitdagings het ʼn duidelike uitwerking op die Poskantoor se inkomste gehad.

“Mona se aanstelling kom op ʼn tydstip waarin erge finansiële uitdagings die Poskantoor in die gesig staar. Sy neem die verantwoordelikheid op haar skouers om die Poskantoor weer te stabiliseer. Ek glo sy sal haar goed van haar taak kwyt. Sy benodig alle moontlike steun vir die volgende vyf jaar,” het Ndabeni-Abrahams Maandag in ʼn verklaring gesê.

Barnes het dié pos vir drie en ʼn half jaar beklee en het bedank weens “verskille in die toekomstige strategie wat die struktuur van die Poskantoor, veral die plasing van Postbank, betref”.

ʼn Paar maande later is die waarnemende uitvoerende hoof, Lindiwe Kwele, en Mothusi Motjale, die Poskantoor se verskaffingskettingbestuurder, geskors hangende ʼn ondersoek na beweerde ongerymdhede by die Poskantoor.

Ndabeni-Abrahams sê Mona spog met ʼn magdom ervaring in die private én openbare sektor. Sy het meer as 15 jaar ervaring op uitvoerende vlak.

Mona het voorheen as uitvoerende hoof van die Nelson Mandelabaai-sakekamer gedien; sy was ook groep- uitvoerende hoof van die staatsbeheerde bosboumaatskappy Safcol.

Ander poste wat sy beklee het, sluit in uitvoerende hoof van die Uitenhage Despatch Development Initiative (UDDI), uitvoerende hoof van Inkezo Land Company in Durban en uitvoerende hoof van die Oos-Kaapse Toerismeraad.

Cameron McKenzie, die DA se woordvoerder oor kommunikasie en digitale tegnologie, sê Mona se goeie akademiese agtergrond en sakerekord is ʼn stap in die regte rigting vir die Poskantoor.

“ʼn Verslag wat pas aan die portefeuljekomitee oor kommunikasie en digitale tegnologie voorgelê is, maak dit duidelik dat die Poskantoor in diep moeilikheid is,” sê McKenzie. “Die organisasie kan nie sy afleweringsmandaat nakom nie, sy uitgawes oorskry sy inkomste, verskaffers word as ʼn nie-amptelike dwangkredietlyn gebruik en die entiteit verloor dermiljoene rande elke maand. Gebrek aan leierskap is ook maar een van die vele uitdagings.”

Die Poskantoor se netto verlies tot dusver beloop R1,354 miljard. Kontantvloeitekorte neem maandeliks toe, en krediet (uitstel van betaling) en oploping van rente het teen einde September op ʼn verbysterende R1,774 miljard gestaan – met geen aanduiding van hoe dit gefinansier gaan word nie. Die Poskantoor het R500 miljoen vanaf die tesourie ontvang vir die komende boekjaar, skaars genoeg om die tweede kwartaal se handelsverlies van R429 miljoen te dek.

Teen September was die Poskantoor met sewe miljoen positems agterstallig.

“Aangesien die poswese in sy huidige vorm duidelik nie volhoubaar is nie, is dringende optrede nodig om sy voortbestaan te verseker, sodat die belangrike rol wat hy speel, veral in afgeleë plattelandse gebiede, nie vir altyd verlore gaan nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

JM ·

Deesdae word Covid-19 die skuld gegee vir korrupsie, onbevoegdheid en traagheid om dienste te lewer. Altyd iemand anders se skuld …

MakersMark ·

PK sal nooit regkom nie permanent gebreek. Om nie te praat van die diefstal korrupsie intern nie. Barnes vol van baie praatjies en beloftes maar uiteindelik was die unies sy baas.

Anton ·

Uitvoerende hoof van die Nelson Mandela baai sake kamer….nou voel ek baie meer gerus :-)

Karel Lourens ·

Nou ja….nog n aanstelling wat op niks gaan uitloop nier.

Petrus ·

Gepraat van die Poskantoor regruk. Dit gaan baie verg. Ek glo nie dit sal gebeur nie. Gister, 1 Maart het ek ‘n Kerskaartjie in my woning se posbus ontvang wat ‘n vriend begin Desember 2020 vir my uit Oostenryk gestuur het. Die miljoene posstukke wat die Poskantoor agter is, is nou een minder. Veels geluk.

Chris dupreez ·

Regtig ?, ons sal maar sien of dit net nog n kader ontplooing is.

Rudolf ·

Ek is bevrees Postnet en ander het die mark gevat. Los maar net.

Androclus ·

Nuwe hoof vir Poskantoor aangewys.
Kom laat ons sien en kyk wat gebeur,sterkte,dis nie lekker om iemand anders se gemors reg te maak nie.

jacques ·

Let op die woorde “probeer regruk”… dus geen verantwoording indien sy dit nie regkry nie, hierdie klomp is nie so dom soos ons partykeer dink nie…

Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie en digitale tegnologie, het Mona se aanstelling verwelkom en gesê sy moet nou die leisels oorneem en die Poskantoor weer probeer “regruk”.

Pieter ·

Julle kan nog n honderd van julle ANC kaders aan stel dit gaan nie help nie. Gaan terug skool toe en maak graad een klaar

Agge nee ·

Watter poskantoor? Die poskantoor is nie meer nie. Ons poskantoor is al 8 maande toe agv Covid. Ek dink al vier die werkers het dit nou al drie keer gehad

Kokerboom ·

En die geskiedenis herhaal homself. Lys van kaderbevoordeeldes “to be appointed” nog lank. Poskantoorlewensduur nie so lank.

Johnny ·

En in hoeveel van daardie lang lys vorige uitvoerende poste was asy aangestel op meriete in plaas van ras + geslag?

Harold ·

Mev Mona,almal skryf did P/O af, maar is daar nog die wat hul vingers uit die till kan hou en kan stick by “We deliver what ever it takes!”Hier is n paar WesKaap Agente oor maande sonder betaling is ,MENSE nie Sel mtye,of ems, ens wat met hul eie geld ,geld vir die P/O inbring.
Hulle gaan nog bly.

DieKriek ·

Ja wel, arme vrou. Hulle soek seker iemand om die pak te vat. Daardie plek kan nooit weer regkom nie.

Jack ·

Dit verstom my elke keer as ek lees hoe die “wye ervaring” wat ‘n nuut aangestekde kader op sy of haar kerfstok het uitgeryg word asof dit nou die finale bewys is dat die persoon bekwaam is en die nodige kundigheid, kennis en ervaring het om ‘n sukkelende bankrot en deur vakbonde verniel organisasie te “probeer” reg ruk.
My ervaring is dat mense wat elke jaar of twee van die een pos na die ander ge-herontplooi is nie veel van ‘n bydrae kan lewer nie. Om ‘n hoofuitvoerende beampte te wees beteken dat jy die onderneming, die aktiwiteite, die interne stelsels, die personeel dinamiek, die organisasie se etos en nog veel meer moet ken alvorens jy kan bepaal waar die knelpunte lê en jy regstelling kan begin maak. Al hierdie kennis opdoen vat tyd. Nee wat, hierdie nuwe kader ontplooing sal ook weer op niks uitloop nie. Die SA Poskantoor is lankal breindood, dis nog net die gereelde geldoortappings wat voorkom het dat die liggaam heeltemal uitmekaar ontbind het.

jzjz05 ·

Regruk ek glo hulle gebruik die woord verkeert, moet eerder uitmekaar ruk wees,

quartus ·

n ” goeie ” aanstelling deur minister “Geneve “- Abrahams ( ek het haar hierdie naam gegee toe sy destyds ontken het dat sy in Switserland was en gese het sy was net in Geneve, blykbaar onder die indruk dat Geneve n land is !!)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.