Nuwe hoof vir Voortrekkermonument

Die Voortrekkermonument. (Argieffoto)

Die direksies van die Voortrekkermonument, Erfenisstigting en die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het ná omvattende gesprekke ʼn samewerkingsooreenkoms gesluit.

Volgens die ooreenkoms vat die Voortrekkermonument en Erfenisstigting hande met ʼn mandaat om ʼn omdraaistrategie vir die monument inwerking te stel.

Dr. Danie Langner is aangewys as uitvoerende hoof van die FAK én die Voortrekkermonument-groep. Hierdie ooreenkoms is Donderdagaand deur die ledevergadering van die Voortrekkermonument en die Erfenisstigting goedgekeur.

“Ons sien uit na ’n nuwe hoofstuk, waar die Voortrekkermonument nie ’n bron van kommer is nie, maar ’n baken van hoop,” het Langner gesê.

Die finansies van die Voortrekkermonument het sedert 2017 met die afname van toerisme toenemend onder druk gekom en het as gevolg van die Covid 19- inperkings in 2020 verder versleg. Die Voortrekkermonument het talle geldinsamelingsprojekte geloods wat korttermyn finansiële verligting gebring het, maar nie volhoubare oplossings nie. Die maandelikse begrotingstekorte het die Voortrekkermonument nou by ʼn beslissende kruispad gebring.

Ná die FAK se stigting in 1929 is die Sentrale Volksmonumentekomitee wat die Voortrekkermonument gebou het vanuit die FAK gestig. In hierdie tyd van nood het die FAK, met die ondersteuning van die Solidariteitbeweging, nou ʼn historiese verantwoordelikheid om hande te vat en saam te werk aan konstruktiewe oplossings en ʼn volhoubare besigheidsmodel.

Volgens ds. Cassie Aucamp, voorsitter van die direksies van die Voortrekkermonument en die Erfenisstigting, is die samesprekings gevoer in die besef dat die organisasies se lede en tydsomstandighede vra dat Afrikaner-instellings moet saamwerk om die Voortrekkermonument se situasie te stabiliseer en uit te bou.

“Deur samewerking kan kundigheid en kontinuïteit behou word terwyl die Voortrekkermonument as kulturele baken vir die nageslag behoue bly. Die alternatief dat die Voortrekkermonument as ʼn verklaarde instelling aan die staat oorgegee word sal nie net ʼn aanklag teen Afrikaners wees dat hulle nie vir hulle eie erfenis kan sorg nie, maar uiteindelik sal die opsie lei tot die verwaarlosing en vernietiging van die kosbare Afrikanerterrein.”

By die direksies van die FAK én die Voortrekkermonument is daar ʼn diep verbintenis om die Voortrekkermonument as ʼn kulturele tuiskomplek vir Afrikaners uit te bou en die Erfenisstigting as ʼn veilige tuiste vir Afrikaner-argiewe, historiese artefakte uit die Groot Trek en Anglo-Boereoorlog, sowel as ʼn reuse genealogiebiblioteek en Africana-boeke te behou. Die FAK het ʼn bewese kulturele netwerk, talle innoverende projekte en ʼn lojale vriendebasis wat groot waarde kan toevoeg. Albei direksies is opgewonde oor die moontlikhede en nuwe horisonne wat deur noue samewerking, kulturele belyning en gedeelde bestuursdienste ontsluit word.

Die direksies van die FAK en die Voortrekkermonument doen ʼn dringende beroep op Afrikaners om nie net die beoogde samewerking te ondersteun nie, maar saam met die direksies en personeel moue op te rol en hard te werk om die Voortrekkermonument te ontwikkel as ʼn kulturele tuiskomplek vir Afrikaners. Die deelname aan en daadwerklike ondersteuning van elke Afrikaner is hiervoor nodig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Chris dupreez

Wonder wanneer gaan die eff die plekke beskadig,

Stephan

Ek kan nou nie juis sê dat ek opgewonde is nie…

koos10

Ek is ‘n baie groot, passievolle ondersteuner van geskiedenis, My probleem kom in met die koste van besoeke aan die plekke. Maak ingang goedkoper en trek so meer mense.
Baie mense sê dat die ingang billik is en dat jy meer spandeer by ‘n kitskos plek, wat waar is, maar besoeke is ‘n uitstappie, wat meer kos as net die toegangs geld.

AmY

Baie goeie keuse.

Pietertjie

Nou wag ons dat hulle weer gaan afstig. Dís hoe ons ou volkie kan saamstaan!