Nuwe hoop vir 3-jarige met seldsame sindroom

Antoiné Dingle (Foto: Verskaf)

ʼn Operasie wat in die VSA gedoen word kan moontlik help dat Antoiné Dingle (3), wat aan ʼn seldsame sindroom ly wat veroorsaak dat sy daagliks skielik ophou asem haal, ʼn normale lewe kan lei.

Maroela Media het vroeër berig dat daar slegs een behandeling vir dié sindroom is, en dat dit sal beteken dat Antoiné vir ewig aan ʼn ventilator gekoppel moet wees.

Melanie Dingle, Antoiné se ma, het gesê ʼn vrou uit die VSA het haar gekontak na afloop van Maroela Media se berig oor Antoiné.

“Sy het vir my gesê dat haar dogtertjie ook die sindroom het. Sy het gesê daar is ʼn ander operasie wat gedoen kan word om vir Antoiné ʼn totale normale kinderlewe te gee,” het Dingle gesê.

Dingle was voorheen onder die indruk dat daar slegs een behandeling vir Antoiné se toestand is; ʼn trageotomie, waar ʼn pyp deur Antoiné se keel aan ʼn ventilator gekoppel word, sodat die ventilator vír haar kan asemhaal. Hulle het dié operasie vroeër die maand gedoen, en dit was suksesvol.

“Die nuwe operasie is nog nie in Suid-Afrika gedoen nie, maar ek het met ʼn kardioloog gepraat wat bereid is om die operasie te doen as ek die toerusting in die hande kan kry. Die operasie is soortgelyk daaraan om ʼn pasaangeër in die hart te kry, maar nou gaan dit net na die diafragma toe, wat Antoiné dan sal help asemhaal. Dit is wel baie duur, dit kos so $50 000,” het Dingle gesê.

Alhoewel die trageotomie vir Antoiné help, het dit ook baie nadele, wat deur die nuwe operasie uitgeskakel sal word.

“Sy kan glad nie swem, normaal bad of sport doen nie. Daar is ook die risiko vir infeksie in die gaatjie in haar keel. Ons moet ook gereeld die pypie vervang en dit is verskriklik pynlik vir Antoiné.”

“Die nuwe operasie sal ʼn groot verskil in Antoiné se lewe maak. Dit skakel alle ander risiko’s uit. Sy sal kan swem, sport doen, en rondhardloop soos ʼn gewone kind. Sy sal ʼn normale kinderlewe kan hê. Ons sal net eenmaal per jaar ʼn spesialis hoef te sien, waar ons dit nou eenkeer ʼn maand moet doen. Ek het al navorsing daaroor gedoen, en ons sal sowat $20 000 per jaar spaar as ons dié operasie kan doen,” het sy gesê.

“Ek probeer om so gou as moontlik meer inligting oor die operasie in die hande te kry, en sodra ons genoeg geld het daarvoor, sal ons dit wil laat doen,” het Dingle gesê.

Dingle sê dit gaan verder baie goed met Antoiné. Sy kry elke dag fisio- en spraakterapie en sy maak goeie vordering. Antoiné is steeds in die hoësorgeenheid van die Mediclinic Nelspruit tot die toerusting vir haar ventilator gekom het.

Vir meer inligting of om ʼn donasie te maak vir Antoiné se mediese kostes, besoek hul Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Antjie ·

$20 000 of selfs net R20 000 is nie meetbaar teen die lewenskwaliteit wat sy dan sal kan geniet nie. Waarom nie kontak maak met ʼn akademiese departement pediatriese kardiologie wat ook spesialiste in intensiewe sorg en neurologie insluit, om te help nie? Ek dink hierdie tipe tegnologie moet billik ingevoer word en wyd beskikbaar gemaak word vir soortgelyke gevalle, selfs onder volwassenes. Ek vermoed dit betrek ʼn sensor (verkieslik bloedvlakke van CO2, of selfs SaO2) wat ʼn “pasaangeër” vir die diafragma aktiveer. Lg kan selfs die senuwee alleen betrek, soortgelyk as ʼn VNS. Ek is nie eens seker dis ʼn torakschirurg of kardioloog se werk nie, maar eerder tussen ʼn chirurg en ʼn pediatriese neuroloog / intensivis. Ek hoop die tegnologie kan hier vir die mensdom dien om steeds nader aan God te kom! Aan Hom al die eer!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.