Nuwe hoop vir baba ná hartoperasie

Sana Maher by haar seuntjie, Muhammad Noor. (Foto: Netcare)

’n Nuwe lewe wink vir die agt maande oue Muhammad Noor van Pretoria nadat hy ’n operasie in die Netcare Sunninghill-hospitaal in Johannesburg ondergaan het om ’n groot gat in sy hart toe te maak.

Die seuntjie se ma, Sana Maher, sê Muhammad was maar twee weke oud toe sy opgemerk het hy is effe geswel en eet nie goed nie.

“Ons het hom aanvanklik tuis behandel, maar later dokter toe gevat. Toe hy steeds nie gesond word nie, was ons uiters bekommerd dat daar fout is met ons baba se hart.”

Muhammad is na die Kalafong-hospitaal in Pretoria verwys en vandaar na die Steve Biko Akademiese hospitaal, ook in dié stad.

Dokters het bevind Muhammad het ’n ventrikulêre septale defek – ’n groot gat in die wand tussen sy twee onderste hartkamers.

Volgens dr. Erich Schürmann, kardiologiese chirurg en medestigter van die Maboneng-hart-en-longinstituut, was dié gat so groot dat dit waarskynlik tot die verswakking van Muhammad se hart sou lei en moontlik lewensbedreigend kon wees indien dit nie vinnig herstel word nie.

“Soos ’n kind ouer word kan so ’n tipe hartdefek die are van die longe beskadig. ’n Gespesialiseerde operasie is nodig om die defek te herstel.”

Die waglys vir só ’n operasie is egter lank en die gesin het boonop nie ’n mediese fonds nie.

“Ons het vir ’n uitkoms gebid sodat ons baba die nodige operasie kon kry. By tye was daar maar min hoop,” sê Maher.

Prof. Lindy Mitchell, ’n pediatriese kardioloog by Steve Biko, het die gesin met ’n aansoek gehelp om Muhammad as ’n begunstigde van die Heart-to-Heart-veldtog in Sunninghill opgeneem te kry.

Dié veldtog is ʼn korporatiewe sosiale inisiatief van die Netcare-stigting en Medipost Holdings en is bedoel spesifiek vir operasies vir behoeftige kinders met lewensbedreigende hartprobleme deur spesialiste van die Maboneng-hart-en-longinstituut.

Die gesin was oorstelp toe hulle die nuus ontvang dat Muhammad as ’n begunstigde aanvaar is en die operasie baie vroeër as verwag sou ondergaan.

“Ons is dankbaar dat die operasie goed afgeloop het. Hy is vinnig aan die herstel en was enkele dae ná die operasie tuis.

“Ek en Muhammad was nog nooit voorheen geskei nie,” sê Maher. “Ek is so verlig dat hy by die huis is en die gat in sy hart herstel is. Ek kan my dankbaarheid nie genoeg duidelik maak nie.

“God het engele gestuur om na ons seuntjie te kyk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Tanya

Dis absolute wonderlike nuus, so bly om dit te hoor! Geniet nou julle babatjie!

Janine

Mag jy spoedig op-en-aan-die-gang wees, lyfie.

Frieda

Fantasties!!!