Nuwe hoop vir onvrugbare paartjies ná 1ste in SA

Dr. Amir Zarrabi. Foto: US

ʼn Suksesvolle swangerskap met behulp van ʼn gesofistikeerde mikrochirurgiese prosedure waardeur spermselle van ʼn man met testikulêre versaking bekom is, is die eerste keer in Suid-Afrika bewerkstellig.

Dr. Amir Zarrabi, uroloog en manlike infertiliteitspesialis van die Universiteit Stellenbosch, het dié ingewikkelde mikrodisseksie- testikulêre spermonttrekkingchirurgie (Mikro-TESO-chirurgie) op ʼn 38-jarige manspasiënt met nie-obstruktiewe asoöspermie (NOA), ook bekend as testikulêre versaking, uitgevoer.

Mans met hierdie toestand het weens ernstig belemmerde of ʼn gebrek aan spermproduksie geen spermselle in hul ejakulaat nie. Met hierdie chirurgie word spermselle direk van die testikel onttrek. Dit is die laaste uitweg vir mans wat andersins nie in staat sou wees om biologiese pa’s te wees nie.

Ná die onttrekking kan die spermselle vir intrasitoplasmiese sperminspuitings (Issi) gebruik word. Tydens dié proses word ʼn enkele spermsel in die laboratorium in ʼn eiersel ingespuit om bevrugting te bewerkstellig. Dit kan onmiddellik ná die mikrochirurgiese spermonttrekking plaasvind, of alternatiewelik kan die spermselle gevries en gestoor word totdat die paartjie daarvoor gereed is. Die Issi-prosedure op hierdie pasiënt is deur prof. Thinus Kruger en sy span van die Aevitas-fertiliteitskliniek in Kaapstad uitgevoer.

Illustrasie: Pixabay

“NOA raak sowat 1% van die manlike populasie en is ʼn belangrike oorsaak van manlike onvrugbaarheid,” sê Zarrabi. Hy is die enigste chirurg in Suid-Afrika wat Mikro-TESO-chirurgie uitvoer. “NOA word oor die algemeen veroorsaak deur genetiese abnormaliteite, testikels wat nie afsak nie, chemoterapie of infeksies soos pampoentjies wat na die testikels versprei.”

Spermselle word in ʼn netwerk van dun buise in die testikel geproduseer. Vir ejakulasie van die spermselle om plaas te vind moet elke buis minstens drie volwasse spermselle produseer. Spermselle is wel in die testikels van sowat 60% van mans met NOA teenwoordig, maar die hoeveelheid is laer as die drempel wat nodig is vir die spermselle om in die ejakulaat “oor te spoel”. Tydens Mikro-TESO-chirurgie word die testikel noukeurig gedissekteer op soek na buise wat spermselle bevat. Hierdie buise is gewoonlik vergroot.

“Dis ʼn gekompliseerde proses en dit kan moeilik wees om buise te identifiseer wat moontlik spermselle bevat,” verduidelik Zarrabi, wat hierdie prosedure met ʼn chirurgiese mikroskoop uitvoer. “Ons onttrek net ʼn paar spermselle by die meeste mans – tussen vyf en 20. Normaalweg produseer mans honderde miljoene spermselle.”

Dis nie altyd moontlik om spermselle te onttrek nie en die sukseskoers van hierdie prosedure is tussen 30% en 60%.

“Paartjies ontvang voor die prosedure voorligting om hul kanse op sukses te verduidelik en hul verwagtinge te bestuur. Selfs al onttrek ons gesonde spermsellle, speel ander Issi-verwante faktore en die gewone risiko’s van swangerskap ook ʼn rol,” verduidelik Zarrabi.

Mikro-TESO-chirurgie is in 1999 die eerste keer in die VSA uitgevoer en Zarrabi het in 2014 die eerste Suid-Afrikaanse chirurg geword wat die prosedure toegepas het. Hy het in 2016 gestudeer onder dr. Peter Schlegel, die uroloog van die Weill Cornell-mediese kollege in New York wat die prosedure ontwikkel het.

“Dit skep ʼn klomp nuwe moontlikhede vir talle onvrugbare paartjies in Suid-Afrika wat voorheen geen kans gehad het om ʼn kind te hê waarvan hulle albei die biologiese ouers is nie,” sê Zarrabi. Sy werk aan Mikro-TESO-chirurgie maak deel uit van sy PhD-navorsing oor manlike onvrugbaarheid in Suid-Afrika.

  • Hierdie artikel is geskryf en saamgestel deur die korporatiewe afdeling van die Universiteit Stellenbosch.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Ilse ·

Dit is wonderlike positiewe nuus vir onvrugbare paartjies wêreldwyd! Dankie Here vir mense soos Dr. Amir Zarrabi wat aanhou navorsing doen en baanbrekerswerk doen. Dit bring soveel hoop vir mans en vrouens wat moet worstel met die pad van onvrugbaarheid. Ek en my man het self die pad gestap. Ongelukkig te laat vir ons.

Liberaal ·

Nee dis nie vir die liberaleliste goeie nuus nie want volgens liberale agenda moet mense gedwink word om interkultureel kinders aan te neem, en liberaliste wil nie he mense wat sulke operasies kan bekostig moet meer word nie, eerder moet arm lande se mense meer word en regoor die wereld versprei sodat die westerse uitkyk tot niet gaan.

Heidi Danneels ·

Ek bid vir elke paartjie daar buite wat worstel met kinderloosheid. Seer en eensame pad wat mens stap. Dankie Here Jesus dat U hierdie mense gebruik as instrument van U Hand om hoop vir paartjies kan gee om ‘n kind van hul eie te kan he. Te laat vir my en my man, maar bid dat U ‘n wonderwerk deur hierdie dokters vir ander mense kan bied.

Sê maar net ·

Hi Heidi, dis my gebed ook vir elkeen daar buite wat ‘n probleem het. Ons het jare terug na Prof Kruger gegaan. Later het ons gevra of ons nie moontlik surrogaat kan probeer nie, waarop hulle vir ons geantwoord het dat my mediese toestand nie voldoende is vir surrogaat nie. Ek was baie teleurgesteld, maar nou ja. Ek moes later wel vasstel dat hul paartjies wat 2 vrouens is, help met surrogaat. Ek het nie moeite gedoen om ‘terug te baklei’ nie, want die Liewe Vader beskik en besluit wat die beste is vir jou.

Lag maar ·

Wonderlik. Maak net seker die mense kan kyk na die kinders na die tyd.

Lydia ·

Wil vreeslik graag n kindjie he.. Maar kan dit nie bekostig nie en dink ook nie mymedies sal daar voor betaal nie…

Stephanie Jouber ·

Dit is wonderlike nuus. Waar kan ons meer inligting kry vandie procedure en die koste van dit.

Sê maar net ·

Stephanie, bel vir Vincent Palloti in die Kaap. Dit is waar Prof Kruger is. Voorspoed, maar moenie jou vertroue in dit plaas nie, kyk maar na BO

Sê maar net ·

Oooops, regstelling. My kommentaar daarbo klink asof ek in ‘n verhouding is met ‘n ander vrou. Oooh gonnatjie…haha, nee. Ek en my man is al 14 jaar getroud en glo en vertrou vir ‘n wonderwerk. Dit is vir my skokkend dat hulle mense met dieselfde geslag help om ‘voort te plant’ asof dit aan die orde van die dag is.

Landi ·

Dis ongelooflik. Alhoewel ek sidder om te dink hoe mense nog klein mensies in hierdie vieslikke wereld wil bring…. Ek self het twee klein dogtertjies. As ek soms na die klomp honderde gesiggies by die skool se konserte kyk, kan ek nie help om te wonder wat van al hierdie kinders gaan word en wat vir hul voorlê, want dit lyk niks belowend of opbouend. Kan nie help hulle is daar nie, en gaan vir ewig boet vir appartheid met geen geleenthede en ergste wreedheid moet trotseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.