Nuwe hoop vir swanger vroue met pre-eklampsie

Argieffoto

Argieffoto

Artikel deur Wilma Stassen van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, Universiteit Stellenbosch.

ʼn Belangrike nuwe behandeling wat moontlik jaarliks die lewe van 60 000 swanger vroue kan red, word tans by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) aan die Universiteit Stellenbosch en die Tygerberg-hospitaal getoets.

Dr. Cathy Cluver van die Departement Verloskunde en Ginekologie aan die FGGW lei ʼn internasionale studie wat toets of esomeprasool, ʼn middel wat algemeen vir die behandeling van gastriese refluks gebruik word, vir pre-eklampsie gebruik kan word.

Pre-eklampsie is ʼn potensieel dodelike swangerskapkomplikasie waartydens die plasenta gifstowwe in die liggaam vrystel wat bloedvate kan beskadig en orgaanversaking by swanger vroue kan meebring. In Suid-Afrika is pre-eklampsie een van die algemeenste oorsake van moedersterftes.

“Tans is die enigste behandeling vir pre-eklampsie om die baba te verlos en die plasenta uit te kry. Laat in die swangerskap is dit redelik veilig om die baba te verlos, maar as dit vroeg in die swangerskap is – voor die baba ten volle ontwikkel is – kan verlossing gevaarlik of selfs dodelik vir die baba wees,” sê Cluver.

Die PIE-proefneming (pre-eklampsie-ingryping met esomeprasool) vind tans plaas. Dit is ʼn dubbelblinde, ewekansige kontroletoets wat ontwerp is om te bepaal of behandeling met esomeprasool swanger vroue wat pre-eklampsie vroeg in hul swangerskap (tussen 26 en 32 weke) ontwikkel, kan help om babas veilig tot op 34 weke te dra, wanneer hulle ʼn beter kans op oorlewing het. ʼn Volle swangerskaptermyn is 40 weke.

“Ons weet babas vaar redelik goed as ons hulle op 34 weke verlos en dis hoekom ons die swangerskap tot by 34 weke probeer verleng. Weens die risiko vir die ma verlos ons die babas selfs al doen die ma goed,” sê Cluver. Newe-effekte van pre-eklampsie sluit hoë bloeddruk in en kan meebring dat die ma ʼn beroerte of ʼn toeval kry. Ander komplikasies sluit nierskade, vog op die longe en hartversaking in.

Esomeprasool is ʼn protonpompinhibeerder wat onder die naam Nexium verhandel word. Dit word gebruik om gastriese refluks te behandel en word algemeen tydens swangerskappe gebruik.

Cluver voer die proefneming uit saam met navorsers van die Translational Obstetrics Group (TOG) aan die Universiteit van Melbourne in Australië, wat oorspronklik die potensiële behandelingsvoordele van esomeprasool vir pre-eklampsie ontdek het. Die pre-kliniese resultate is onlangs in die toonaangewende joernaal Hypertension gepubliseer.

Cluver en haar navorsingsvroedvrou, sr. Erika van Papendorp, het reeds meer as 100 pasiënte gewerf en hoop om die toets binne die volgende paar maande af te handel.

“As hierdie toets ʼn verskil toon, kan dit die eerste behandeling vir hierdie rampspoedige toestand wees. Dít sal ʼn deurbraak in mediese praktyk wees,” sê Cluver.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nadia Verster ·

Fantasties! Ek hoop regtig dit werk. Ek het self pre-eklampsie gekry op 26 weke en my baba is op 28 weke verlos met ‘n noodkeiser. Maroela Media hou ons tog groot asseblief op hoogte van die uitslag van hierdie toetse.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.