Nuwe hoop vir Wuppertal wink in 2020

Die 1830 Morawiese kerk (Foto: RoepTV.com)

Die Morawiese kerk beplan om ’n herdenkingsdag in Wuppertal te hou, presies ’n jaar ná ’n vernietigende brand dié 1830 Morawiese sendingstasie byna heeltemal verwoes het. Volgens die dorp se eerwaarde Jasmine Redcliffe gaan die Morawiese biskop Brian Abrahams op dié dag ’n woord van bemoediging aan inwoners bring terwyl lede van die plaaslike munisipaliteit en die presidensie van die Morawiese kerk ook teenwoordig gaan wees.

Op 30 Desember 2018 het ’n brand, wat deur kinders wat heuning wou bekom, begin is, dié historiese dorpie in ’n rookwolk omskep. Meer as 50 huise, onder meer die dorp se enigste skool en -koshuis, die Morawiese sendingstasie-gebou, die pastorie en administrasiegebou het afgebrand. Toeristebestemmings soos die handgemaakte Rooibos-handelswinkel en die plaaslike restaurant, Lekkerbekkie, was ook in ligte laaie.

Hoewel niemand ten tyde die brand omgekom het nie, het die 57-jarige Jackie Valentyn, ’n geliefde onderwyseres, sowat ’n maand ná die gebeure in die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad aan haar brandwonde beswyk.

Eerwaarde Redcliffe erken, “Dit was ’n moeilike en emosionele jaar vir ons almal.”

Hy vertel dat baie bejaardes moes stad toe trek om by hul kinders te woon en dat nie almal by die stadslewe kon aanpas nie. Intussen kon inwoners ook binne tydelike strukture (Nutec-eenhede), wat op die skool se rugbyveld opgerig is, intrek.

“Die kerk het ’n groot rol tot op hede gespeel,” sê eerw. Redcliffe en voeg by: “Ons hoop om volgende jaar as kerk meer te doen rakende die herbou van die huise. Ons wil graag, sodra die jaar begin, daarop fokus om te kyk of ons nie ons bejaardes kan help en ondersteun om hul huise te kan herbou nie.”

Wanneer ’n inwoner wat ook sy huis in die brand verloor het, Hernice Heyns (72), die gebeure van ’n jaar gelede herroep, onthou hy daai Sondagoggend se preektema: “ ‘Wuppertal, Wuppertal, ek het ’n hoopvolle toekoms vir jou.’ Dit was drie keer herhaal, die Here het ’n hoopvolle toekoms vir ons.”

Heyns is die eerste en enigste inwoner wat reeds met die herbouing van sy huis begin het.

“Ek staan nou hier in my huis en ek kan amper intrek. Dit is alleen deur die genade van die Here. Niks anders nie. Ek kan nooit sê dit is die huis wat op 30 Desember 2018 afgebrand het nie. Dit is heeltemal ’n nuwe huis. En ek glo ook die Here het groot drome vir my binne hierdie huis.”

Hy kan nie anders as om ook te noem dat ’n muntstuk altyd twee kante het nie. Hy meen vir hom het die munt op die kopgedeelte geval, maar vir ander is dit nie die geval nie.

“My hart gaan uit na my mense.”

Omdat die dorp ’n erfenisgebied is, moet toestemming om te mag herbou en skoon te maak, verkry word. Heyns is van mening dat dié proses vinniger moet gebeur.

“Aan die einde van die dag moet mense deur ’n helingsproses gaan, maar nou, as jy verby die goed loop, kry die wonde nie kans om te genees nie.

“Dit wat uitgebrand het, mag ons nie verwyder nie. Daardie rommel, soos uitgebrande yskaste en stowe, al die goed lê nog so voor die huise en dit mag nie verwyder word nie. Die afgebrande murasies staan nog net so.”

Eerw. Redcliffe verduidelik: “Ongelukkig is Wuppertal ’n erfenisdorp. Daar is papierwerk wat afgehandel moet word rakende die erfenis. Hulle (die Erfenisstigting) is nie gekant teen die herbou van huise nie – daar is net ’n tipe manier hoe die herbou van huise gedoen moet word. Daar is heelwat hulp wat aangebied word. Hopelik gaan ons volgende jaar die papierwerk in samewerking met die Erfenisstigting afgehandel kry.”

Intussen word die 11 geboue op die kerkterrein herbou en is dié proses drie maande vóór beplanning.

“Dit vorder goed. Dit lyk baie mooi,” sê eerw. Redcliffe. Van die 11 geboue is die plaveisel van nege reeds gelê. Die herstel van die kerkgeboue volg dieselfde historiese styl en ontwerp en word deur die Rupert Familie Trust gefinansier.

Die department van vervoer en openbare werke (DVOW) is ook in ’n proses om die enigste skool en koshuis in Wuppertal te herbou ná die koshuis ook in die brand vernietig is. Volgens Marelda Prins, skoolhoof van Laerskool Wuppertal, sal die oprig van die skool en koshuis in twee fases geskied. Fase een begin reeds in middel Januarie.

Wanneer Prins ’n jaar ná die brand moet nadink, sê sy: “Jy raak nou weer emosioneel want 30 Desember is hier. Maar as ons vertrou op die Here en ons maar net by sy voete sit, dan dink ek hoef ons nie te vrees nie.”

Heyns sê ook: “Ons sien die son weer opkom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae