Nuwe huiseienaars nie aanspreeklik vir vorige skuld

huis eiendom

Argieffoto.

Die konstitusionele hof het Dinsdag beslis dat historiese munisipale skuld op ʼn eiendom nie na nuwe huiseienaars oorgedra kan word nie.

Verskeie munisipaliteite het tot onlangs nog nuwe huiseienaars munisipale dienste geweier alvorens hulle uitstaande skuld van tot en met 20 jaar op rekenings vir water, elektrisiteit en erfbelasting vereffen is.

Die konstitusionele hof het egter nou eenparig beslis dat ʼn nuwe huiseienaar nie vir historiese munisipale skuld aanspreeklik gehou mag word nie. Dié hof het in sy beslissing die hooggeregshof van Pretoria se bevinding in November 2016 bekragtig wat gesê het dié skuld is steeds die verantwoordelikheid van die eiendom se vorige eienaar, wat nie vir die dienste betaal het nie.

Die saak oor historiese munisipale skuld het in die hof gedraai nadat die Tshwane- en Ekurhuleni-munisipaliteit dienste opgeskort of geweier het aan eiendomme met agterstallige rekeninge, al is van die eiendomme onlangs verkoop. Die munisipaliteite het aangevoer dat die skuld oorgedra kan word na die nuwe eienaar en moet as deel van ʼn soort oordragkoste gesien word. Die munisipaliteite het ʼn gedeelte van die wet op munisipale stelsels gebruik om hulle optrede te regverdig.

Die uitspraak van die Pretoriase hooggeregshof het hierdie optrede ongrondwetlik bevind en verder gesê die munisipaliteite het gefaal in hulle verpligtinge om die skuld in te vorder, daarom kan hulle nie die nuwe eienaar dwing om die skuld te betaal nie.

Die munisipaliteite het die uitspraak in die konstitusionele hof betwis. Hulle het aangevoer dat hulle, in ʼn poging om hul verpligting om dienste te behoorlik te lewer na te kom, nodig het om buitengewone skuldinvorderingsmaatreëls in te stel. Daarom moet uitstaande skuld op eiendom as deel van die oordrag tussen die ou en nuwe eienaars gesien word.

Des van Rooyen, minister van samewerkende regering, het die munisipaliteite se argument gesteun.

Die konstitusionele hof het egter in sy uitspraak beslis dat die Wet op Munisipale Stelsels behoorlik en redelik geïnterpreteer kan word om aan te toon dat die historiese skuld nie die oordrag van eiendom tussen eienaars oorleef nie.

Cilliers Brink, burgermeesterskomiteelid vir korporatiewe en gedeelde dienste in die Tshwane-metro, het die hof se beslissing verwelkom.

“Die uitspraak gee nou duidelikheid oor twee belangrike kwessies. Eerstens kan nuwe eienaars nie aanspreeklik gehou word vir historiese munisipale skuld wat op sodanige eiendomme aangegaan is nie. Tweedens kan hierdie beginsel gehandhaaf word sonder om artikel 118 (3) van die Wet op munisipale stelsels ongrondwetlik te verklaar.”

Volgens Brink het die aanvanklike beslissing van die hooggeregshof dié artikel van die munisipale wet ongrondwetlik verklaar omdat dit munisipaliteite toegelaat het om historiese skuld van ʼn nuwe eienaar te eis.

“Hierdie ongeldigheidsverklaring het munisipaliteite met meer vrae as antwoorde gelaat en dit was dus nodig om klarigheid van die konstitusionele hof te verkry. Die hof het bevind dit was onnodig om die wet ongeldig te verklaar en het die aantal maniere waarop ʼn munisipaliteit pro-aktief sy bydraes kan insamel om sy finansiële welstand te beskerm, bevestig.

“Ons sal die beslissing binne die volgende dag of twee bestudeer om te verseker dat die DA-geleide administrasie in Pretoria die hof se bevinding inwerking kan stel,” het Brink bygevoeg.

Tshwane, Ekurhuleni en die minister van samewerkende regering moet die regskoste vir die saak betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Nico ·

Net geld gemors op hof sake. Logiese denke moes altyd vir jou sê jy kan nue ‘n vreemdeling aanspreeklik hou omdat jy te sleg us om jou eie in vorderings te doen nie.
Des ssl natuurlik saamstem want met die geld kan lekker soustrein partytjies gehou word waar hy munusipaleteite besoek.

Rudi ·

Sou hierdie beslissing terugwerkend toegepas kan word ?
Ek het net verledeweek R57 000,00 van die vorige eienaar, by wie die bank die huis teruggevat het, se munisipale skuld aan Govan Mbeki Munisipaliteit betaal.

Anoniem ·

Daar is vanoggend op die radio juis hieroor gepraat. Die hofuitspraak is terugwerkend, en daar is nie ‘n beperking geplaas op die tydperk waarvoor dit terugwerkend is nie. Jy kan dus die R57k terugeis.

Peet Schabort ·

Wat ook gebeur is dat die munisipaliteit nalaat om op te tree wanneer eiendom verhuur word en die water- en elektrisiteitrekening die hoogte inskiet. Dan eers wanneer die betrokke huurder padgee kom die eienaar agter van die skuld en moet hy opdok. Daarom is ‘n voorafbetaalde meter die enigste oplossing omdat munisipaliteite nie die krag afsny.

Henk Brand ·

Is dit nie die oordragsprokureur se werk om toe te sien dat uitstaande rekeninge vereffen word nie?

Yolandi ·

Sê ek ook Henk.
Met ons koop moes die eienaar eers die rekening vereffen en moes minstens R4000.00 vooruitbetaal het vir die paar maande wat die huis vat om te registreer…
Ek moes my eiendom se munisipale rekening ook R4000.00 vooruitbetaal…

Biljam se donkie ·

Ek besit n wildplasie buitekant Nelspruit vir 5jr,nog geen rek. ontvang in die tydperk nie,vir munisipale belasting nie,gevrees dat as ek die dag verkoop,daar n groot verrassing vir my wag,alhoewel ek verskeie male al versoek het vir n rek. Hierdie uitspraak is fantasties,dit sal hul,hul sokkies laat optrek,om hul werk te doen,n oorwinning vir geregtigheid.

SjN ·

Biljam, lewer die munisipaliteit enige diens, soos bv riool, vullisverwydering, ens op jou wildsplasie wat betaling aan hulle regverdig, vra maar net?

elsie ·

as die persoon n huis verlende jaar gekoop het en die skuld van die vorige eienaar klaar betaal het kan die persoon sy geld terug kry. wat kan hul doen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.