Nuwe inligting bekend oor rondloperleeu

Argieffoto. Foto: SANParks

Spoorsnyers wat deel is van die geselskap wat op soek is na ʼn leeu wat uit die Karoo Nasionale Park ontsnap het, meen op grond van die enkele oomblikke wat hulle die rondloperleeu onder oë gehad het, dat dié leeu ʼn twee en ʼn half jaar oue mannetjie is.

Die soektog na dié dier wat sowat twee weke gelede uit die Karoo Nasionale Park naby Beaufort Wes ontsnap het, duur steeds voort. Dit was aanvanklik nie bekend of die leeu ʼn mannetjie of ʼn wyfie is nie.

Nico van der Walt, bestuurder van die Karoo Nasionale Park, het gesê spanne veldwagters en spoorsnyers het vanoggend reeds voor sonop begin stap om die gebied te bereik waar hulle vandag na die leeu sal soek. Nog ʼn span sal vandag terugkeer na die park se heining om vas te stel of die leeu nog nie probeer het om weer by die park in te kom nie.

Van der Walt het gesê sy spanne het reeds in klowe asook teen steil, rotsagtige heuwels en op bergtoppe gesoek. Die aard van die omgewing maak dit egter moeilik om enige spore te vind.

’n Beroep is gedoen op boere en plaaswerkers in en om die gebied om enige teken van die rondloperleeu by die polisie of die park aan te meld.

Maroela Media het vroeër berig die leeu het op 15 Februarie uit die park ontsnap nadat swaar reënval veroorsaak het dat grond onder die heining weggespoel het. Die leeu het glo onder deur die heining deur gekruip.

Die leeu het sedertdien ʼn eland in die gebied platgetrek, maar kon ondanks dié leidraad nog nie opgespoor word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lerato ·

As hulle radio bande aan die leeus se nekke sit kan hulle maklik opgespoor word
Nou word hope kapitaal en man-ure gemors om ‘n honger leeu op te spoor. Intussen bedreig hy mense en vee.

Kan Sanparke nie dink nie?

humor ·

Ongelooflik dat die leeu nog nie verdoof, gevang en op sy plek is nie.

Cherokee ·

Wel, die leeu verdien ‘n naam; die Skim. So verwys asseblief hierna na die Skim wanneer van hom/haar gepraat word. Dit is ‘n welverdiende naam. Gaan jou goed Skim!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.