Nuwe inligting ná moord op geliefde veearts

Dr. Freddie Malan. (Foto: Facebook)

Die moord op dr. Freddie Malan, die vooraanstaande en geliefde veearts van Pretoria, was wel ʼn rooftog wat skeefgeloop het.

Só meen Mike Bolhuis, die bekende private speurder wat die moord op Malan ondersoek. Malan is verlede maand in sy praktyk in die Moot doodgeskiet.

Bolhuis het Dinsdag aan Maroela Media gesê dat sy speurspan op die spoor van drie verdagtes is wat dié betrokke aand op die Jakaranda-dierehospitaal toegeslaan het en nie vir Malan persoonlik geteiken het soos gerugte beweer nie.

Maroela Media het vroeër berig Bolhuis het die moontlikheid ondersoek dat die moord op Malan nie net ʼn gewone rooftog was nie, maar dat daar moontlik vuilspel betrokke was. Bolhuis sê egter nuwe inligting het intussen aan die lig gekom wat wys dat dit nié die geval is nie.

“Daar was nog nie ʼn modus operandi toe ons die saak gekry het nie. Met enige moordsaak kyk ons eerste na die slagoffer se naasbestaandes en of iemand die slagoffer wou teiken. Ons skakel dan verdagtes stelselmatig uit. Dít is die roete wat ons moet volg,” verduidelik hy.

Volgens Bolhuis is Malan se naasbestaandes egter mettertyd uitgeskakel waarna die speurspan inligting ontvang het van talle soortgelyke rooftogte by mediese instansies. “Ons het seker inligting oor 20 sake ontvang waarby drie verdagtes by rooftogte van mediese instansies soos dokters, fisioterapeute en veeartse betrokke is.”

Dié inligting het byna presies ooreengestem met die besonderhede van die rooftog by die Jakaranda-dierehospitaal waar die ondersoekspan ook op soek na drie verdagtes, ʼn vrou en twee mans, is. Bolhuis vertel dat die vrou op die dag van Malan se moord in die dierehospitaal ingekom het om kwansuis uit te vind oor die behandeling van ʼn troeteldier waarna sy die dierehospitaal se hek vir haar twee makkers oopgemaak het.

Dié twee gewapende mans het die personeel van die dierehospitaal gekonfronteer. Die vrou is glo nié weer gewaar nie.

Bolhuis vertel dat Malan die twee rowers getakel het waarna ʼn struweling ontstaan het. Die rowers het vir Malan geskree om hulle te los waarna ʼn skoot afgegaan het.

Die moord op Malan is egter die eerste moordsaak waarby dié trio na bewering betrokke is.

“Al die ander voorvalle by mediese instansies was bloot rooftogte. Een van die voorvalle het gewelddadig geraak, maar niemand is doodgemaak nie. Hierdie was goed beplande rooftogte. Dit het egter in hierdie geval skeefgeloop, want Malan het hulle gegryp,” verduidelik Bolhuis.

Hy sê die speurspan kon gevolglik beskrywings saamstel vir die trio uit inligting verskaf deur vorige slagoffers wat die trio van naby gesien het. “Van die slagoffers van die vorige rooftogte het die verdagtes van naby gesien en kon ons help om beskrywings op te stel. Ek dink ons gaan hulle redelik vinnig vastrek,” sê Bolhuis.

Bolhuis waarsku dat rowers nooit gekonfronteer of aangevat behoort te word nie. “Moenie aanvallend wees nie en vermy konfrontasie. Dít veroorsaak dat sulke goed gebeur. Wees die minste, want jou lewe is meer werd,” sê hy.

Hy het versoek dat enige persoon met inligting wat sy ondersoekspan of die polisie in hul ondersoek kan bystaan, hulle moet kontak. Alle inligting sal as vertroulik hanteer word. Inligting kan by 082 447 6116 aangemeld word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Ja swaer ·

Nou ja toe. En wat doen die polisie? Ek wonder of Mike Bolhuis wetlike magte het om sy neus daar in te druk. Die Grondwet bepaal duidelik dat die SAPD misdaad moet ondersoek.

Jacoba ·

As die familie hom aangestel het is daar mos nie ‘n probleem nie. Gewoonlik werk hulle saam met die polisie en gee die inligting deur wat hulle het. Mike Bolhuis ken die wet en weet wat wetlik toelaatbaar is en wat nie. Moet jy jou nie daaroor bekommer nie.

willem Botha ·

Wel sonder n regte polisie diens wie anders gaan n vinger verroer om die skuldiges aan die pen te laat ry,ek ondersteun Mnr Bol huis en wat hy doen

JKL ·

Privaat instansies kan en mag ook misdaaf ondersoek, ook so in die wet.

Lientjie ·

Solank die saak by die SAPD aangemeld is kan die familie aanstel wie hulle wil!

Chante ·

Want die polisie het mos die ANDER 20 SOORTGELYKE sake opgelos?

Werner ·

Wonder of Bolhuis sommer sal oorgee as hy geroof word en die polissie as hulle geroof word gee hulle sommer hulle vuurwapens sonder om weerstand te bied seker hoekom elke twede misdadiger met n polissie wapen rondloop

Tammy ·

Ek wil vir jou se “ja swaer” wat het die polisie sover gedoen? maak sekerlik nie saak nie ne?
Ek ondersteun Bolhuis en as ons maar so n wakker polisiediens gehad het, of liewers so n gemotiveerde polisiediens, wat nie self by midaad betrokke raak nie, Hoeveel sake is daar teen lede van die sogenaamde polisiediens in Suid Afrika???? Nee wat, hulle het my al teleurgestel. Los maar vir Bolhuis uit, hy werk tenminste.

Diefie ·

Mike ek is trots op jou en jou span. Begin asb ‘n kollege om jong manne en vroue op te lei as speurders. Wanneer die staat weer besef hulle het onse mense nodig, dan kan onse mense weer alles regmaak soos by Eskom

MGP ·

‘Ja Swaer’, wetlike regte of nie, laat Mike eerder die polisie se werk doen en sy neus indruk dan weet ons dat dit opgelos gaan word. Ek kan nie sien hoekom jy nou daaroor wil kla.

Werner ·

As Mike dan alles ondersoek hkm gebruik hy dan ou polisieman om hom te help….
ongelukig is dit nie Mike nie maar mense wat vir Hom WERK wat alles ontrafel het…

VanAfrika ·

Jaloesie Werner Jaloesie!!!! Een ding is verseker, die man weet waarna om te kyk en daar is niks fout daarmee om lede te hê wat vir hom werk nie. Hulle gaan nie net uit en soek die misdadigers nie, hulle koukus en beplan voor hulle n taak uitvoer. Elke lid weet wat van hom verwag word en Mike is saam met hulle. Kyk bietjie na sy program op Kyknet dan sal jy dalk bietjie slimmer raak

DS ·

Ag Werner lees weer Mike se duidelik dat hy EN sy speurspan. Mike is duidelik die spreekbuis vir sy besigheid. Wat is nou eintlik jou probleem? Jaloesie?

LH ·

Haai ou Werner. . . Loop gooi vir jou ‘n doppie in en ontspan. Ek wens ek kon Mike Bolhuis bekostig vir my seun se moord wat net onder ‘n mat ingevee is. Laat Dr Freddie se familie klaring kry oor sy dood, dit is HEL daarsonder!

Wielspore ·

Al is dit Bolhuis se mense wat die veldwerk doen, word die sukses van enige besigheid bepaal deur hoe dit bestuur word. In ons omgweging is daar drie privaat sekerheids instansies wat al hierdie soort misdaad oplos en werk nou saam met die SAPS.
Gee vir Bolhuis die erkenning wat hom toekom.

Malanie Burger ·

Ja Swaer… As dit JOU familie was wat vermoor was sou jy ENIGE iemand wat wou help se hulp aanvaar het…. of hulle tot magte daartoe is of nie….. ten minste kan Mike Bolhuis dinge laat gebeur wat ons vervalle polisiediens nie kan doen nie… so hou jy nou maar JOU neus daaruit…..

Ja swaer ·

Nie een van julle wat so rojaal kommentaar lewer, weet wat die polisie werklik al in die saak gedoen het nie, almal aanvaar die ondersoekbeampte in die saak is onbevoeg. JKL, in watter wet staan privaat ondersoekers mag misdaad ondersoek? As jy inment met die polisie se werk, is dit belemmering vd gereg en regsverydeling. Ek het oor niks gekla nie my liewe mensies. As die SAPD nie hulle werk doen nie, moet die familie gaan kla by die Provinsiale Kommissaris en Afdelingskommissaris vd Speurdiens. Mens gooi nie net tou op en hardloop na ‘n privaat maatskappy nie. Mike soek weer aandag soos gewoonlik, soos met die Joost sage.

Zombie ·

Watter wet sê privaatondersoekers mag nie misdaad ondersoek nie? Indien hulle oor die nodige opleiding beskik en geregistreer is, mag hulle. “Private investigators are required by law to be registered with the Private Security Industry Regulatory Authority after a strict vetting process in terms of Act 56 of 2001”, Dis maar hoe ek dit verstaan.

J ·

Hou net jou bankrekening styf toe. Wolwe is ook daar baie buite en wag gulsig vir jou.

ne ·

Dankie Mike! Ek ondersteun jou. Goed om te weet as jy ‘n bloutjie loop met SAPD dat jy EN jou span nog daar is om hulp te verleen.

Piet kokewiet ·

As dit nie vir Mike was nie het niks gebeur nie! Atleast probeer hy unlike ons police wat niks doen en net bribes wil he..

Rudolph van Wyk ·

Dit is ongeregverdig om die hele polisiemag onder dieselfde kam te skeer al is die versoeking daar. Daar is lui en ongemotiveerde mense in elke organisasie en soms is hulle in die meerderheid maar daar is altyd diegene wat die hand aan die ploeg slaan en vorentoe gaan. Ek sê dankie vir hulle en hoop hulle ‘n inspirasie vir die ander sal wees. Ons is ook dankbaar teenoor mense soos Mike en sy span wat hulle kundigheid met toewyding aanwend

ZAR ·

Ek stem nie saam met Mike se laaste sin nie.
Dis juis agv niks doen van vorige slagoffers dat hierdie veearts nou dood is. Hy is ‘n held en moet heldeverering kry, want hy het alles in sy mag gedoen om hierdie ouens te stop. Dis agv mense se pens-en-pootjies in die lug dat die misdaad so handuit geruk het. Hulle lewe is dalk toe gespaar, maar hulle het in hierdie geval gemaak dat die volgende slagoffer dood is. Ons tronke is oorvol en misdadigers regeer die land, dit vat gewone mense om dit tot ‘n einde te bring, een krimineel op ‘n slag.

So onnodig!!!! ·

Baie baie sterkte aan sy geliefdes wat deur hierdie uiters moeilike en traumatiese tyd moet kom. Dr Malan was ‘n uiters bekwame veearts. Sy ontydige afsterwe het baie van ons wat van sy professionele mediese versorging van ons dierekinders gebruik gemaak het diep geskok. Ons treur ook.

Pretoria het ‘n misdaadnes geword!!! Dit is baie erg. Ek lees vandag ‘n outjie van Kaapstad het ‘n petisie aanlyn begin dat die Noord-Kaap aan Namibië verkoop moet moet om vir Eskom se skuld te betaal. Dit sal goed wees as Pretoria met al sy kriminele en moordenaars ook verkoop word. Selfs aan die Russiese Mafia sal beter wees. Hulle sal net nie ‘n baie goeie prys kry nie en sal maar op die bargain basement moet staatmaak.

MW ·

Nou dat Piet Byleveld nie meer met ons is nie het ons darem vir Mike Bolhuis

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.