Nuwe inligting oor Cele, assistent se WB-reis aan OB gegee

Bheki Cele, minister van polisie

Bheki Cele, minister van polisie. (Foto: Isabel Venter/Maroela Media).

Die DA gaan bykomende inligting aan die Openbare Beskermer (OB) en die parlement se etiekkomitee verskaf rakende Bheki Cele, minister van polisie, en sy assistent se reis na die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Frankryk.

Die party het nog inligting oor die reis bekom nadat hy ʼn aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) ingedien het.

“Ondanks die minister se heftige ontkenning van die bewerings dat hy die etiekkode oortree het, laat sy antwoorde ernstige vrae ontstaan oor die stand van fiskale verantwoordelikheid in sy kantoor en die wyse waarop belastingbetalersgeld deur sy departement bestee word,” meen Okkie Terblanche, DA-LP en die party se woordvoerder oor polisie.

Die jongste dokumente wat aan die DA verskaf is, het onthul dat Cele se assistent die minister en sy vrou op hul vlug na die Charles de Gaulle-lughawe vergesel en besigheidsklas gevlieg het. Belastingbetalers het meer as R184 000 vir die assistent se vlugte opgedok.

Cele, sy vrou en sy assistent het by die Marriott-hotel tuisgegaan, kompleet met ʼn uitsig oor die Arc de Triomphe en binne loopafstand van die Eiffeltoring en die Louvre. “ʼn Idilliese toevlugsoord teen R20 553,50 per persoon per nag. Belastingbetalers het dus ʼn verbysterende R82 789 vir die assistent se vier nagte in Parys opgedok.”

Die drie het volgens Terblanche ook ʼn daaglikse toelae gekry, met Cele en sy vrou wat R2 593 elk per dag en die assistent wat R2 357 per dag ontvang het. “Dit het belastingbetalers R46 258 uit die sak gejaag.”

Volgens Terblanche het belastingbetalers ook die drie se mediese versekering en reisversekering betaal teen ʼn algehele koste van R7 710, tesame met ʼn toewysing vir “onvoorsiene uitgawes” van R5 000.

Die drie het ook “in styl” deur Parys gereis, met R167 680,50 wat toegewys is vir BBP-dienste by die Charles de Gaulle-lughawe. Volgens Terblanche het dit behels dat die drie vinnig deur die lughawe kon beweeg en met ʼn Mercedes-Benz E-klas van die lughawe af kon reis.

“Met misdaadsyfers aan die toeneem, die SAPD wat onderbeman en onderbeskik is, en bendelede wat die boonste lae van die SAPD-bestuur binnedring, kan Suid-Afrikaners eenvoudig nie ʼn spandabelrige minister van polisie bekostig wat sonder ʼn oogknip meer as ʼn kwart van ʼn miljoen rand aan net sy uitvoerende assistent se reis en verblyf bestee nie.”

Volgens Terblanche sal die DA die dokumente wat bekom is aan die OB voorlê. Die party het die OB reeds in Desember versoek om ondersoek in te stel na Cele en sy assistent se reis.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

efjy ·

Die regering gaan nie hul amptenare straf nie. Daar moet ‘n ander manier gevind word om die klomp misdadigers te straf. Miskien moet daar ‘n totale belasting “boycot” wees.

hpven ·

Dankie DA… Die belastingbetaler behoort deurgangs op hoogte insake moontlike korrupsie gehou te word, nie net tydens verkiesings nie! Hoeveel ander verwante gevalle deur die jare weet ons nie van nie?

Althes ·

Die jetsetter van ñ minister gebruik die belastingbetaler se geld om die wêreld rond te kerjakker. Partykeer vir politieke gewin ook.

Ronél ·

Die euwel van misdadigers in die Nasionale regering!!!!!!!!!!!!!!!!

willie ·

Dit help nie ons braak gal nie, daar gaan absolute niks van kom soos al die ander lede nie.

Blikkies ·

Wat het hy in elk geval daar gaan soek. Sy mense het hom hier nodig gehad. (Nie dat hy enigsins ‘n verskil sou maak nie), Net die voorbarigheid om met ons geld te mors..

Lettie ·

Dit gedoen om SA-ners te vermaak met sy arrogante optrede. Maar …. die beursie raak leeg!

hendrik ·

Die sous trein Sal nooit ophou ry nie soos die spreek woord se brandewyn het nie brieke nie. Die enigste manier om dit stop te sit is om daadwerklik ontslae te raak van die wat alles as van sekfsprekend aanvaar. Soos die hele regering. DA as julle bedoel wat julle se en dit met woord en daad Wil beveg is daar net een uitweg en dit is “put your money where your mouth is”,sover is daar nog nie eintlik ruseltate te sien nie.

domheks ·

Lekkkerrrr om op belastingbetalers se swaar verdiende geld jou vrinne te onthaal en af te show! Wat het hy daar gaan soek? Weet hy ooit wat ‘n ‘drie’ beteken?

Danie ·

Bheki Cele lees asb die kommentaar of jou vriende na aan jou.Doen jouself n guns en bedank.Dis die regte ding vir SA.Gaan geniet jou pensioen.

Papsak ·

Ja Cele bedank jy gaan n groot guns vir SA doen as jy wil uit tree jy weet nie wat om jouself aan gaan nie !????

LIEZL ·

Arrogant verby, en hulle lag lekker diep in hul mou oor hoe lekker dit is om die belastingbetaler se geld te mors

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.