Nuwe inligting oor vermiste bejaarde van Welkom

Karl Reich van Welkom word sedert Maandagoggend vermis. Foto: Facebook

Iemand het drie keer in Johannesburg geld uit ʼn vermiste bejaarde van Welkom se bankrekening probeer onttrek.

Karl Reich (82) se dogter, Belinda Ferreira, sê sy en haar man, Johan, het ʼn hofbevel gekry om die bank te dwing om inligting oor aktiwiteit op haar pa se rekening bekend te maak. “Dit wys daar was op 25 September drie onsuksesvolle pogings om geld by ʼn OTM te trek.”

Ferreira sê hul volgende hoop om die tergende raaisel van haar pa se verdwyning op te los, is beeldmateriaal van die veiligheidskameras by die motorhawe op die hoek van Volks- en Tempestweg in Jim Fouchépark, naby haar pa se huis.

Reich word sedert Maandag vermis.

Johan het Woensdag aan Maroela Media gesê sy skoonpa se huisalarm het Maandag omstreeks 18:00 afgegaan. Die veiligheidsmaatskappy het Reich, wat alleen in sy huis woon sedert sy vrou, Marie, sowat agt jaar gelede oorlede is, gebel. Hy het hulle verseker niks skort nie.

Omstreeks 19:00 het Reich die alarm weer geaktiveer, maar bure het later die oggend onraad vermoed toe hulle sien die erf se hekke staan oop en ligte brand in die huis. Hulle het die polisie ontbied.

Albei Reich se voertuie, ʼn wit Kia Cerato met registrasienommer FDC 861 FS en ʼn goudkleurige Honda Civic met registrasienommer DSS 377 FS, is blykbaar gesteel.

“Selfs die polisie is stomgeslaan oor die saak,” sê Ferreira. “Dit lyk asof my pa net by die huis uitgeloop het. Ons weet nie. Of hulle het hom buite gegryp, want daar is geen teken van ʼn struweling nie.”

Sy sê haar pa is ʼn baie private mens. “Hy deel nie inligting met mense nie. Hy gaan Sondae na die Rooms-Katolieke kerk [dis waar hy laas gesien is] en is baie roetinevas. Ons het al vir hom gesê hy moet dit verander; dit kan gebeur dat hy dopgehou word.”

Reich het ook ʼn seun, Mark, wat in Mosambiek woon. “Al sy familie woon ver weg. Hy is al een in Welkom,” vertel Ferreira, wat saam met haar man van hul tuisdorp, Mokopane in Limpopo, Welkom toe is kort nadat hulle gehoor het haar pa word vermis.

Ferreira sê sy kan nie dink dat haar pa hom teëgesit het nie, want die polisie het geen tekens van bloed gekry nie. “Hy is ʼn vegetariër en baie fiks en gesond vir sy ouderdom,” vertel sy. “En sy verstand is nog vlymskerp.”

Dis vir hulle vreemd dat haar pa se huis oopgestaan het nadat hy vermis geraak het en dat twee selfone in die huis gelos is. Sy paspoort en horlosie is wel uit die huis geneem.

Konst. Kethabile Mofokeng, woordvoerder van die polisie, het vroeër aan Maroela Media bevestig ʼn vermiste persoon-saak is by die polisie aanhangig gemaak. Sy het Donderdag gesê die polisie kan in die stadium geen nuwe inligting oor die ondersoek bevestig nie.

Enigeen met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan help, kan die Welkom-polisiestasie by 057 391 6011 of Stop Misdaad by 08600 10111 kontak.

 

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Santjie ·

Daar moes iets gebeur het. Die Oom sal tog nie beide voertuie gelyk kan bestuur nie. Die bank waar daar probeer is om geld te trek, moet tog kameras he by die kitsbank wat ook verdere hulp in die saak sal kan verleen. Sterkte – ek hoop hy word gevind en dat hy ongedeerd is.

Kabouter ·

Toe die alarm die 1e keer afgegaan het, was die boosdoeners dalk klaar in die huis en het julle die oom klaarblyklik reeds gedreig om vir die bure te sê alles is ‘reg’. BId dat julle gou julle pappie sal vind. Ons kan net vir julle bid. :)

Israel ·

n Kind van graad een kan die dots met mekaar verbind maar die polisie is stom geslaan of dalk dronk geslaan, nou vra ek jou …

Ex speurder Katryn ·

Hoekom het die veiligheidsmaatskappy nie om 07:00 uitgegaan na die perseel nie? Het hulle hom weer gebel om 07:00? Dit is hoekom mens ‘n alarm installeer! Swak, baie swak! Hoop die oom word spoedig gevind en kan sy storie self oorvertel.

Self aangestelde speurder ·

Toe daar by my ma-hulle se huis ingebreuk was, het die sekuriteits maatskappy net om die huis gery in die straat. Niks gesien en gery. Die vanster wat gebreuk is was in die agtertuin nie sigbaar van die straat af nie. So ja my punt liewe ex speurders en ander speurders is die sekuriteits maatskappye reageer soos hulle g…
Hoop die oop word gou gevind.

Genieve ·

Pasop vir n inside job die polisie is deesdae oral betrokke ek se maar net

Peet J ·

Miskien was hy verdoof deur die aanvallers en het hulle hom iewers in of buite die huis versteek of selfs in een van sy voertuie se bagasiebakke vervoer vir een of ander rede. Die sekuriteitsfirma moes sekerlik iemand uitgestuur het na die tweede alarm ge-aktiveer was. Om jou te verset teen aanvallers op 82 jarige ouderdom sonder ‘n vuurwapen is nodeloos.

Willie ·

Die banke is traag om te help, hulle sal nie, trek net hulle skouers …

Gesiggie ·

Ons hou aan Hoop en Bid.. dat hy veilig sal wees… sterkte aan sy familie ,

Willem Els ·

Die land is al so verrot van misdaad dat mens net die ergste altyd kan verwag as jy net hoor van so iets. Ek kan nie sien dat iemand nog belang kan stel om geld hier in besighede of wat te bele. Ons in ‘n hulpelose patetiese situasie vasgevang. Tragies!!

vra net ·

Jammer ek se maar net as die oom ok was sou die preps nie 3 keer onsuksevol geprobeer het om geld by die OTM te trek nie, hulle sou sy pin uit hom gekry het, STERKTE

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.