Nuwe jaar, tweede kans vir Rover

Rover (regs) is reeds supertuis. By hom is Marno Victor en sy pa, Japie, en Rover se nuwe beste maat, Slowey. (Foto: Victor-gesin)

Rover, die hondjie van Bloemfontein wat talle harte aangegryp het nadat sy been wreed deur ʼn 17-jarige amateurliggaamsbouer gebreek is, het ʼn nuwe tuiste, en ʼn tweede kans op geluk, gekry.

Vrydag het hy uit meer as 300 aansoekers eindelik ʼn tuiste by Japie Victor van Bloemfontein gekry. Victor, sy vrou, Odette, en hul seuns Johnde (21) en Marno (15) woon in Pellissier.

“Hy is môre [Vrydag] presies ʼn week lank by ons. Hy was aan die begin ʼn bietjie skrikkerig en effens menssku, maar het gister selfs vir die eerste keer begin blaf,” het Victor gesê.

Die gesin het nog twee honde, Slowey, en Dexter, ʼn 13-jarige schnauzer. Slowey en Rover is reeds onafskeidbaar. “Die twee [Slowey en Rover] speel onophoudelik. Hulle stoei en hardloop rond. Slowey maak beslis seker Rover kry genoeg oefening.”

Al het hy net drie bene, baljaar Rover reeds heerlik. (Foto: Victor-gesin)

Maroela Media het vroeër berig die Bloemfonteinse Dierebeskermingsvereniging (DBV) is verlede maand na ʼn huis in die stad ontbied waar ʼn hond onophoudelik getjank het. Daar het hulle Rover in ʼn plas bloed aangetref. Die dier kon glad nie beweeg nie.

Die hond se jong eienaar het inspekteurs aanvanklik van Rover probeer weghou en het gesê hy het op sosiale media gesien hoe mense swaar voorwerpe optel om hul krag te toets. Hy het glo ook op die internet gesien watter mate van krag dit verg om ʼn been te breek. Hy het Rover nader geroep en op sy poot begin druk tot dit eindelik gebreek het. Dit het só sleg gebreek dat die been deur die vel gesteek het.

Rover is by die jong eienaar weggeneem en sy poot is later noodgedwonge afgesit. Hy is by die DBV versorg en die aannemingsproses het begin nadat Rover genoegsaam herstel het. Die jong man, wat aangekla word van dieremishandeling, het egter nie vir sy hofverskyning opgedaag nie, het Maroela Media berig.

Victor sê Rover se verhaal het hom dadelik aangegryp. Kanker is in 2014 by Victor gediagnoseer en ná sy chemoterapiebehandeling het dinge selfs verder skeefgeloop. Victor het ʼn allergiese reaksie op die chemoterapie gehad en was 33 dae lank in ʼn koma. “In daardie tyd is my familie gevra om te kom afskeid neem, maar daar het regtig ʼn wonderwerk gebeur.”

Rover en Slowey. (Foto: Victor-gesin)

Victor, ʼn kranige drawwer, het uit sy koma wakker geword, maar weens groot senuweeskade was die prognose dat hy waarskynlik nooit weer sou kon loop nie. “Jy kan nou al die prentjie sien van my en Rover wat byna dieselfde is?

“Ek het myself dalk onbewustelik in hom gesien. Baie mense het finansieel bygedra [tot Rover se herstel], maar ek wou hom ʼn nuwe lewe gee.

“Ek het óók ʼn tweede kans in die lewe gekry,” het Victor oor sy eie ongelooflike genesing gesê.

Victor sê dit is heerlik om Rover te bederf. Hy het intussen geleer om te sit voordat hy ʼn bederfhappie kry en hy slaap voor die egpaar se bed in sy mandjie. Voor slaaptyd baljaar hy en Slowey óp die bed, maar omdat sy been nog nie baie sterk is nie, slaap hy in die mandjie. “Sy eetlus is ook baie goed. Die eerste paar dae was hy maar skrikkerig, maar nou eet hy ʼn hond uit ʼn bos uit.”

Hy sê Rover se aanneming was vir die gesin ʼn saak van gebed en hulle beskou hom as ʼn seën. Rover het vandag sy laaste kursus antibiotika voltooi en die gesin maak hom stadigaan gewoond aan die swembad sodat hulle later waterterapie met hom kan doen. Hy kom al hoe beter reg by die hoër trappies in die huis en sy stert hou bykans nooit op swaai nie.

Victor het onlangs weer ʼn marathon voltooi en sê hy en Rover gaan ʼn Parkrun aandurf sodra die hondjie sterk en fiks genoeg is. “Ek wil nie hom nie druk nie, maar ek wat self baie gehardloop het, weet hoe meer jy beweeg, hoe sterker word jy.

“Die belangrikste is dat hy weer ʼn hondjie is wat liefde ervaar. As hy nou vir jou kyk, is dit asof hy ʼn smile op sy gesig het….”

Victor het gesê hy het ná Rover se aanneming ook selfs meer respek vir die ongelooflike werk wat die DBV doen en sê dat mense dalk nie aldag besef watter groot taak op hul skouers rus nie.

“Dit wat met hom gebeur het … ek kan nie dink hoe enigiemand so iets aan ʼn dier kan doen nie, maar minder nog aan so ʼn saggeaarde, liefdevolle hondjie soos Rover.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.