Nuwe Kaapse burgerregteorganisasie verwelkom

Die VF Plus het die totstandkoming van die Kaapse Forum, ʼn burgerregteorganisasie vir die bevordering en beskerming van die belange van Wes-Kapenaars, verwelkom.

Die party wil ook sy gelukwensing uitspreek teenoor die radio- en TV-persoonlikheid Heindrich Wyngaard wat aangewys is as die uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum, het dr. Corné Mulder, VF Plus-LP en Wes-Kaapse leier, gesê.

“Dit is van die allergrootste belang dat die bruin burgerlike gemeenskap betrokke raak by sy eie en die Wes-Kaap se toekoms.

“Die bruin gemeenskap is die meerderheidsgemeenskap in die Wes-Kaap en dit is ook danksy hierdie gemeenskap dat Afrikaans die meerderheidstaal in die Wes-Kaap is.”

Daar wag ʼn baie groot en belangrike rol vir Kaapse Forum, meen Mulder. “Dit is noodsaaklik dat veral die platteland in die Wes-Kaap dringend bestendig moet word voordat die veral van die platteland ook in die Wes-Kaap ervaar word soos wat dit reeds elders in Suid-Afrika die geval is.”

Mulder het gesê die VF Plus in die Wes-Kaap is daartoe verbind om die provinsie uit die hande van die ANC, EFF en ander radikales te hou.

Heindrich Wyngaard (Foto: Facebook)

“In hierdie verband reik die VF Plus ʼn hand van vriendskap en samewerking na Kaapse Forum uit.”

Maroela Media het vroeër berig Wyngaard en die burgerregteorganisasie AfriForum het aangekondig dat hulle saam met ander rolspelers ’n nuwe Kaapse burgerlike organisasie genaamd die Kaapse Forum gestig het.

Wyngaard sal van 4 April voltyds die pos as uitvoerende voorsitter van die Kaapse Forum beklee.

Die Kaapse Forum sal onder meer daarop fokus om gemeenskapselfstandigheid in Kaapse gemeenskappe te bevorder en groeiende federalisme in die Wes-Kaap en Kaapse gemeenskappe te help vestig.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê sy organisasie se betrokkenheid by die Kaapse Forum vloei voort uit AfriForum se uitgesproke doelwit om gesonde vennootskappe op ’n basis van wedersydse erkenning en respek tussen Afrikaners en die talle ander kultuurgemeenskappe in die land te help vestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Suid-Afrikaners smag na groter geregtigheid, vrede, ‘n voorspoedige en veilige toekoms, selfaktualisering en ‘n kultuur waar mense werklik vir mekaar omgee. Hier is ‘n wonderlike geleentheid om opbouend betrokke te raak. Mag elke betrokkene sout van die aarde wees en ‘n lig op die pad van naasteliefde.

B-Man ·

Ek ondersteun hierdie inisiatief voluit. Nie lank nie en ons sien hopelik die Transkei-Forum ook?

Samuel ·

Veelsgeluk Heindrich Wyngaard. Jy is die regte persoon vir hierdie werk. Ek kan jou net sterkte toewens.

MT ·

Vreemd dat Corne Mulder blykbaar nie die wesentlike verskil tussen Standaard Afrikaans en Kaaps (wat meestal deur die Bruin gemeenskap gebruik word) erken nie.

Wyngaard werk aktief aan die bevordering van laasgenoemde, ten koste van eersgenoemde.

Ek sien veral uit na die totstandkoming van die Venda-forum, gedryf deur Afriforum /Kaaps Forum.

Meinung ·

Ek gaan Heindrich verskriklik op die radio mis, maar alle voorspoed aan hom in sy nuwe rol.

Manie ·

Goed en wel, my vraag is, waarom kon hulle dit nie reeds vroeër self doen nie? Hoekom eers wag vir iemand anders om die pad aan te dui? Ek hoop nie dit is net weer ‘n voorloper na die outydse Arbeiders Party nie.

Philip ·

Regte persoon op die regte tyd laat ons die klein onbenullige probleme gerus ignoreer en inisiatiewe soos die ondersteun.Geluk Heindrich ons sien uit na jou bydrae vorentoe.

Johan ·

Die probleem met die forum is weereens ras. Daar word reeds daarna verwys as n Bruin Forum wat dit onmiddelik rassisties maak. Dit sluit mense in en uit, alhoewel dit ontken word, na gelang van hulle vel kleur. Doen die toets self en sit die woord Wit Forum voor die naam. Is dit aanvaarvaar vir bruin en swarte mense?? Ek dink nie so nie, so hoekom moet dit vir wit en swart aanvaarbaar wees. Bruin mense hou nie daavan as mense na hulle verwys as bruin mense nie ,maar as hulle dit self doen is dit aanvaarbaar en vir die regte redes, om ander te kan uitsluit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.