Nuwe Kaapse LUR vir onderwys aangewys

David Maynier (Foto: Wes-Kaapse regering)

David Maynier, die Wes-Kaapse minister van finansies en ekonomiese geleenthede, is Vrydag as die nuwe Wes-Kaapse LUR vir onderwys aangewys.

Hy sal reeds middel Mei die leisels by Debbie Schäfer oorneem nadat sy vroeër vandeesweek uit haar pos bedank het.

Maynier se aanstelling is maar een van verskeie veranderinge wat Alan Winde, Wes-Kaapse premier, vroeër vandag aan sy provinsiale kabinet aangekondig het.

Reagan Allen is in die plek van die geskorste Albert Fritz as die Wes-Kaap se LUR van gemeenskapsveiligheid en polisie-toesig aangestel terwyl Mireille Wenger vanaf 15 Mei in Maynier se plek as LUR van finansies en ekonomiese geleenthede sal dien.

Reagan Allen (Foto: Facebook)

Tertius Simmers, Wes-Kaapse LUR vir menslike nedersettings, sal nou as die Wes-Kaapse minister van infrastruktuur bekend staan terwyl Daylin Mitchell, die Wes-Kaapse LUR van vervoer en openbare werke as LUR van mobiliteit aangekondig is.

Winde het vroeër vandag gesê Simmers se departement van infrastruktuur sal na verwagting teen die begin van die volgende finansiële jaar begin funksioneer. Dié departement sal bestaan ​​uit die departement van menslike nedersettings sowel as komponente van die departement van vervoer en openbare werke.

Mitchell se departement van mobiliteit sal ook binnekort gevestig word “om te verseker dat ons reeds die eerste dapper stappe neem om die uitdaging te takel van ʼn mislukte vervoerstelsel wat ons ekonomie knou, ons veiligheid ondermyn en wat die verwesenliking van die waardigheid wat ons inwoners verdien, verhoed,” het die premier gesê.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier.

Winde het voorts gesê hy is opgewonde oor die veranderinge aan sy kabinet.

“Ek is opgewonde oor hierdie veranderinge en die momentum wat ek glo dit gaan skep sodat ons aanhou seker maak dat, hier in die Wes-Kaap, dade harder as woorde spreek.”

Die kabinet het tot vroeër vandag twee vakante poste gehad nadat Schäfer Woensdag as LUR vir onderwys bedank het. Schäfer wat agt jaar lank in die pos gedien het, het ’n werkgeleentheid in die regsektor in die Verenigde Koninkryk aanvaar.

Fritz is in Januarie reeds as LUR vir gemeenskapsveiligheid geskors weens bewerings van onder meer seksuele misbruik teen hom.

Hy is toe in Maart afgedank nadat Winde die finale verslag van adv. Jennifer Williams, wat ʼn onafhanklike ondersoek na die bewerings teen Fritz gedoen het, ontvang het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Blomme ·

Hoop die Weskaap kan die res vd land bewys dat daar tog hoop is vir ons politici in die land. Mens hoor darem nog niks van korrupsie onder hulle nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.