Nuwe kindersiekte nou aanmeldbaar in SA

Argieffoto: Pixabay

Inflammatoriese multistelsel-sindroom by kinders is nou een van die aanmeldbare mediese toestande (NMC’s) in Suid-Afrika.

NMC’s is siektes wat van openbare gesondheidsbelang is omdat dit beduidende gesondheidsgevare inhou en tot uitbrekings of epidemies met hoë gevalle van sterftesyfers nasionaal en internasionaal kan lei.

Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) is inflammatoriese multistelsel-sindroom by kinders ʼn seldsame siekte. Daar is egter nou verslae wêreldwyd en in Suid-Afrika dat dit met Covid-19 verband hou.

Nios verwag dat daar oor die volgende paar maande meer gevalle van dié siekte in die land aangemeld sal word.

Die siektetoestand kan ontsteking van verskillende liggaamsdele veroorsaak, waaronder die hart, longe, niere, brein, vel, oë en maagdermkanaal.

“Ons weet nog nie wat die siekte veroorsaak nie. Ons weet egter dat baie kinders met die siekte ook die koronavirus gehad het wat Covid-19 veroorsaak, of dat hulle in aanraking was met iemand wat Covid-19 gehad het.”

Volgens Nios moet ouers hul dokter of naaste kliniek nader indien hul kinders simptome soos koors, buikpyn, braking, diarree, nekpyn, ʼn uitslag, bloedbelope oë en ekstra moegheid waarneem. Die siekte is ernstig en selfs dodelik, het Nios gesê en bygevoeg dat kinders wat met die siekte gediagnoseer is, wel verbetering toon met die nodige mediese sorg.

Gesondheidswerkers wat verantwoordelik is vir pasiënte tussen nul en 19 jaar oud moet die owerhede onmiddellik in kennis stel van ʼn waarskynlike of bevestigde geval deur middel van die kennisgewingstelsel vir mediese toestande (NMCSS).

ʼn Groep pediaters en ander kundiges is sedertdien byeengeroep om data oor gevalle van die siekte wat deur die NMCSS aangemeld is, te versamel en te ontleed. Dié data sal na verwagting lig werp op die werklike omvang van die siekte in die land en help om besluite oor die kliniese en epidemiologiese hantering daarvan te bepaal.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anel ·

Waarmee wil hulle die mense nog bang maak! Sien, dis mos nou eksamentyd en enigiets om die swak slaagsyfer die skuld te gee. Verder klink dit my kinders word al hoe pieperigger. Hulle speel nie merr nie, bak nie modderkoekkies nie, eet nie modder of hondeblokkies nie. Alles moet skoon wees, die hande, gesiggie, klere. Dan as hul lywe ‘n kiem op die hoorison sien aankom word hulle siek want hulle liggame het nie imuniteit opgebou nie. Verder moet jy nie die eet nie of nie dat nie. Maar nou ja. Wonder wat is volgende.

Mariana ·

ja-nee kyk, as kinders nie aan kieme blootgestel word nie, kan hulle nie imuun opbou nie. Meeste kinders (nie almal nie) is binne besig op foon of rekenaar – geheel en al sleg vir hul gesondheid

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.