Nuwe klagstaat teen banke wat wisselkoers glo bewimpel

(Argieffoto: usfinancepost.com)

Banke wat glo betrokke was by die manipulasie van die rand-dollar-wisselkoers gaan nou op die aanklagte teen hulle moet begin antwoord.

“Sommige van die individuele verhandelaars wat by die valutamanipulasie betrokke was, is afgedank, maar hul werkgewers – die banke – moet nog in Suid-Afrika aanspreeklik gehou word,” het Tembinkosi Bonakele, kommissaris van die Mededingingskommissie, gesê.

Die kommissie het onlangs ʼn nuwe klagstaat teen 28 banke wat van dié manipulasie beskuldig word by die mededingingstribunaal ingedien. Banke wat nou ook by dié klag betrek word, sluit in FirstRand Bank en Nedbank Limited.

Die klagte hou verband met samespanning om pryse vas te stel en markte te verdeel.

Die nuwe klagstaat kom nadat die mededingingsappèlhof in Februarie vanjaar die banke se aansoek om verlof tot appèl dat die klagte teen hulle laat vaar word, van die hand gewys het. Die banke se hoofklagte was dat die mededingingsowerhede in Suid-Afrika nie jurisdiksie oor hulle het nie, omdat die bedrywighede buite Suid-Afrika – in New York spesifiek – plaasgevind het.

Die appèlhof het beveel dat die kommissie ʼn nuwe klagstaat opstel wat alle voriges vervang en dat dié nuwe klagstaat moet aandui hoe die banke se optrede die manipulasie veroorsaak het en ʼn direkte uitwerking op Suid-Afrikaanse verbruikers en die ekonomie gehad het.

Die nuwe klagstaat gee meer besonderhede oor die bedrywighede van wat die Mededingingskommissie ʼn “manipulasie-kartel” noem. Nóg banke, die Nedbank-groep (Nedbank Limited en Nedbank Group Limited), Rand Merchant Bank (RMB Holdings Limited en FirstRand Bank Limited) en Standard Americas word boonop in die nuwe klagstaat betrek.

“Die banke moet antwoord op die aanklagte wat nou selfs verder gestaaf word. Dit gaan nie net verdwyn nie,” het Bonakele gesê.

“Dit is die verantwoordelikheid van die Suid-Afrikaanse owerhede om agter die kap van die byl van die ernstige bewerings oor die valutamanipulasie te kom, waar ook al dit plaasgevind het.”

Die ondersoek na die beweerde samespanning het al in 2015 begin. Citibank het reeds ʼn boete van R69 miljoen betaal en Absa het ʼn boete vrygespring deur verskoning te vra en in te stem om saam met die ondersoekspan te werk.

Banke wat voorheen al betrek is, sluit in Merril Lynch, Credit Suisse en JP Morgan.

Hulle kan stywe boetes opgelê word as hulle skuldig bevind word.

Die Suid-Afrikaanse ondersoek is van stapel gestuur ná ʼn internasionale skandaal wat tot die afdanking van tientalle valutaverhandelaars gelei het nadat dit aan die lig gekom het dat banke wisselkoerse al so lank as ʼn dekade manipuleer.

Bykomende bron: African News Agency

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Burgermeester ·

Die hele wêreld is op sy kop. Dit gaan deesdae net oor geld en mag, en die arm man moet maar vêrder kripeer. Die banke soek ons geld, maar hulle is te vrek suinig met die rente. Almal wil deesdae ‘n donkie aan jou verkoop vir ‘n resiesperd se prys. Laat die bankie maar hoes!

Stofdonkie ·

En inruil vir Absa se ontduiking van ‘n boete moes hulle vir maria ramos ‘n werkie gee. So ver strek kaderontplooiing, as hulle iemand nie verder kan rondskuif tussen departemente nie dan koop hulle vir die persoon ‘n pos in die privaatsektor,

Johan ·

Dankie nou gaan ek in die vervolg ekskuus vra en belowe om te help waar ek kan om nie boete te kry nie. Kan jy meer belaglik as dit kry die sisteem is so vrot dit is om van naar te word.

koos10 ·

En waar gaan die boete geld heen? So waar as wragies nie na die verbruiker toe nie, maar reguit staatskas toe.

Genis ·

Skrikwekkend! Dis eindelik n skande om te dink hoe kurrup die Nuwe Reenbood Nasie Land nou is…

Anoniem ·

Ek sou baie verbaas gewees het as Nedbank se naam nie op die lys was nie.

mattk ·

Die regering en kaders wie in beheer is kan sê net wat hulle wil, die wisselkoers word gemanupileer. Indien mens net die olieprys dophou, sal jy gou agterkom wat die trant van manupilasie is…. wanneer die olieprys styg, versterk die rand ten die dollar en as die olieprys daal, verswak die rand. Met die inperking het die olieprys aansienlik geval en toe verswak die rand tot oor die R18.00 teen die dollar. Nou styg die olieprys en waaragtig, die rand is al ondeer R17.00 teen die dollar. Die regering doen dit om soveel belasting moontlik te genereer om hul sakke te kan vul. Wens iemand wil ‘n kommissie aanstel om dit te ondersoek…… maar dit sal seker nooit gebeur nie. Kyk maar hoe die petrolprys nou gaan begin styg!!!!!!!

Willem ·

Die boete geld gaan vir die nuwe ekonomie (SAL) en die ander helfde sal soos gewoonlik wegraak

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.