Nuwe kliënte stroom na Vodacom

Foto: vodacom.com

Die selfoonnetwerkreus Vodacom het Maandag gesê hy het 4,8 miljoen kliënte bygekry binne die tydperk van ses maande wat op 30 September geëindig het, ʼn toename van 10,7%.

Die maatskappy se inkomste het ook in dié tydperk met 5,6% toegeneem tot R44,4 miljard.

Volgens Vodacom het sy Suid-Afrikaanse inkomste met 4,6% toegeneem tot R27,9 miljard, gerugsteun deur sterk kliëntegroei. Die inkomste van sy internasionale bedrywighede het met 12,8% toegeneem, wat gedryf is deur ʼn sterk groei in dataverkope en M-Pesa.

Volgens Vodacom het hy R5,3 miljard belê om sy dekking uit te brei en die kwaliteit van sy netwerke te verbeter.

Die maatskappy sê Vodacom Lesotho het die eerste operateur geword om ʼn kommersiële 5G-netwerk in Afrika van stapel te stuur, en hy het ook sy nuwe swart ekonomiese bemagtiging (SEB) eienaarskapooreenkoms afgehandel, die grootste ooreenkoms van sy soort in die inligting- en kommunikasiesektor.

Vodacom het ʼn verbeterde tussentydse dividend van R3,95 per aandeel aangekondig, ondanks die feit dat hy 114,5 miljoen nuwe aandele vir die nuwe SEB-struktuur moes uitreik.

In Suid-Afrika toon die maatskappy ook bestendige groei, ondanks swak verbruikersbesteding in die sukkelende ekonomiese klimaat. “Ons strategie om te fokus op groter waarde vir die verskillende prysvlakke, tesame met die feit dat ons kliënte in staat stel om aanbiedinge te kies wat die meeste gepas is vir hul behoeftes, vind steeds by ons kliënte aanklank,” het Vodacom in ʼn verklaring gesê.

“Dit is aanduidend van die toename in kliënte in Suid-Afrika en toon dat ons belegging in persoonlike aanbiedinge deur onder meer Big Data voortgaan om ons van ons eweknieë te onderskei.”

Die maatskappy sê hoewel die vordering wat onlangs in die regulatoriese omgewing gemaak is bemoedigend is, insluitend ʼn duideliker tydlyn van die allokering van die 4G en 5G-spektrum, is daar steeds ʼn aantal bekommernisse en teenstrydige wat bestaan ná die publisering van die hersiene Wet op Elektroniese Kommunikasie en die beleidsrigting aan die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) rakende hoë aanvraagspektrum wat nie toegeken is nie.

“Ondernemings deur Okosa en die departement van telekommunikasie en posdienste om 4G-spektrum teen Maart 2019 te lisensieer is noodsaaklik om die koste van die lewering van datadienste af te bring,” het Vodacom gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Flemming ·

Ek wou van Vodacom na Telkom gaan, maar toe weierTelkom om my in Afrikaans te bedien, “Telkom Chat” , die hulplyn, almal ! Nou wonder ek hoekom is dit nie “Telcom” nie /

VanAfrika ·

Ek kan nie glo dat mense nog Vodacom gebruik. Ek was verlede week by Telkom en vir pay as you go 10gig vra hulle R245.00. Vodacom vra vir een gig R149. Einde van die maak doen ek sim swop Telkom toe.

Johan ·

Ek is by beide Vodacom en Telkom. As hulle in resies was: Eerste Telkom. Vodacom – nee wat, bly weg. Dalk het hulle 4.8 miljon nuwe kliente gekry, maar 5.2 miljoen verloor?

Amber ·

Vodacom maak hulle geld uit sy eie kliënte. Elke nou en dan verskyn daar n bedrag van R1.72c op my vodacom rekening vir n ‘international sms’. Ek het nooit so n sms gestuur nie. By navraag, sê hulle dit sal my R80 kos vir n gedetailleerde rekening. Dus, ek los dit maar. As hulle by n miljoen kliënte elke maand R1,72 vra, dink net hoe ryk kan hulle word in n kort tydjie.
Ek wonder of ander mense ook al die R1,72 vir n international sms opgemerk het.

Didi ·

Ek is al vir 17 jaar op Voda netwerk, maar dis nou tyd om te skuif. My probleem egter is dat die ander plekke nie veel beter is nie.

Judge Dredd ·

Veel beter – nee.
Veel goedkoper – ja.

So jy kan maar net sowel vir die goedkoper opsie gaan.

Chris Ws ·

Ons selfoon netwerke is almal ewe sleg/swak.As dit moontlik was sou ek Telkom verkies maar hier op die plaas is GEEN Telkom lyne nie en hulle weier om lyne aan te le.8-ta werk deur MTN torings en is niks beter as MNT ,VODACOM en Cell C nie.Internet toegang op die platteland is ‘n nagmerrie.Selfoon netwerke stink!

Huh! ·

Dis reg Chris Ws. Nuwe tegnologie is ‘n onding. Die storie dat iemand jou in die hande kan kry waar ookal jy in die wêreld is, is sommer twak. Swak internet toegang dra net by tot die frustrasie. Laat ons ‘n petisie optrek en weer plaaslyne terugbring. Almal het van almal se sake geweet. Privaatheid was ‘n woord in die woordeboek. #cellphonesmustfall

Elphia ·

Vodacom, kom vervang asb net eers julle toring wat ‘n jaar gelede in ‘n brand beskadig is en wat Bredasdorp bedien. Die geringste wind laat Vodacom gebruikers vir ure, soms dae sonder sein. Elke keer as ek dit rapporteer, kry ek dieselfde boodskap “die tegnici werk daaraan.” So, die goedkoper tariewe en vreeslike uitvreiding beteken vir my minder as niks!

Andre C ·

Stem saam Karolis ,Hulle gee nie vir ons die bedrag waarmee die SEB transaksie die wins afwater nie.Pleks dat hulle vir die aandeelhouer onderskei tussen wins voor SEB en wins na SEB.

Welma ·

Telkom het Vodacom besit… Toe verkoop hy Vodacom… Nou groei Vodacom sterk..

Tinus ·

Sukkel julle ook steeds met data wat net verdwyn al skakel jy backgrounding ad en al moniteer jy jou datagebruik?

Nonnie ·

Sukkel al meer as 10jr met hul oor d swak opvangs… Beloftes, beloftes en nogmaals beloftes waarvan daar tot nou dadels van gekom het.

Elizabeth ·

SA se selfoontariewe is steeds onaanvaarbaar hoog en ‘n uitbuiting van verbruikers. Ek sien hulle maak so ‘n ontsaglike wins. Wat van BAIE goedkoper tariewe om julle ondersteuners te bedank??? Alle selfoonnetwerke is ewe duur en ewe oneffektief.

wraggies ·

Moet net nie MTN toe gaan nie, hulle kliéntediens is pateties.

Veritas ·

Ek het ‘n sterk vermoede dat al die selfoonnetwerke saamwerk. Die een se data is goedkoper en die ander se oproeptariewe is laer ens. Dit sal goed wees as die kompetisie kommissie bietjie aandag hieraan skenk.

Herman ·

Hulle is gretig om jou te skryf maar daarna sit jy met jou vinger. Ook klaar met hulle

Wim ·

Ek sukkel al 3 jr om maandeliks ‘n elektroniese faktuur uit Vodacom te kry. Moet elke maand sukkel om dit self via myvodacom af te laai. Betaal vir “itemised billing”, maar ek kry dit nooit.
Verloor ook feitlik daagliks oproepe.
Hulle diens is absoluut pateties.

jaco ·

wat is die alternatief? cell c het nerens opvangs, en mtn is baie duur met als.

Frik ·

Vodacom glo ek maak soveel wins want jy kry nie die helfte van dit waarvoor jy betaal nie,dit verdwyn net.Jou foon sny net af terwyl jy praat terwyl jy weet jy moet nog heelwat tyd oorgehad het,jy kan dan nie eens n sms of iets stuur nie.Ek het alles probeer om dit uit te sorteer,dit was altyd my fout volgens hulle.By Telkom kry ek baie beter waarde vir my geld en as daar n probleem is word dit ten minste uitsorteer.Vodacom was goed baie jare gelede.

ChrisE ·

Ek is tans besig met ‘n ondersoek na die selfoonnetwerk waarop ek ingeteken is. Vir die afgelope 6 maande “raak” daar data van my mobiele sender weg. Ek ontvang
/koop slegs vier Gig per maand. Gewoonlik gebruik ek nie alles nie en dit word oorgedra na die daaropvolgende maand. Vir die afgelope 6 maande raak daar data weg. Niemand weet nie. Wat my die ergste vervies, daar is niemand met wie jy kan gesels nie.

Willem ·

Bly om te sien ander sukkel met Vodacom. Gaan ook die naweek oor gaan Telkom toe. Vodacom sein pateties en sukkel 7 jaar om ‘n nuwe toring te laat opsit nadat alles goed gekeur is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.