Nuwe kurator opgewonde oor US-tuin

Dr. Jonathan Kirkwood is die nuwe kurator van Maties se botaniese tuin. Foto: US

Die Universiteit Stellenbosch (US) het ʼn hoogs ervare plantkundige as nuwe hoof van sy botaniese tuin aangestel.

“Ek’s baie opgewonde oor die aanstelling,” sê dr. Jonathan Kirkwoord, wat Maandag diens aanvaar. “Ek werk al geruime tyd in die biodiversiteitsbewaringsektor, maar ek geniet dit ook om sommer net vir die lekker plante te kweek. Hierdie werk is ʼn fantastiese kombinasie van twee van my grootste passies.”

Luidens ʼn mediaverklaring van Maties spog Kirkwood met ʼn sterk akademiese profiel. Hy is ʼn opgeleide ekoloog op die gebied van Kaapse, savanna- en woud-ekosisteme, steekproefneming en eksperimentele ontwerp, sowel as statistiese ontleding en verslagdoening.

Hy het sy PhD in 2003 aan die Universiteit van Kaapstad verwerf en sy navorsing konsentreer op populasie-ekologie en die beskrywing van plantegroei, waaronder formele floristiese opnames en ontleding.

Martin Viljoen, US-woordvoerder, sê die universiteit is opgewonde oor Kirkwood se aanstelling. “Die botaniese tuin is ’n kosbare US-bate, as bewaringstuin, as ʼn ruimte vir akademiese navorsing en as lushof vir studente, personeel en die samelewing, en sal floreer onder dr. Kirkwood se kuratorskap.”

Hy sal onder meer verantwoordelik wees vir die administratiewe en bedryfsbestuur van die tuin om te sorg dat dit vlot funksioneer, behoorlik in stand gehou word en ʼn lus vir die oog bly.

Afgesien van sy beroepservaring en uitgebreide akademiese kennis op plantkundige gebied, het Kirkwood etlike jare lank as fotojoernalis gewerk en tydskrifartikels geskryf om mense oor meer volhoubare tuinboupraktyke te help opvoed.

Hy glo hierdie vaardighede en ervaring sal nuttig te pas kom om ʼn nuwe hoofstuk vir die botaniese tuin te begin.

“Ek wil beslis die nalatenskap van bewaringsprojekte en -vennootskappe voortsit, sê hy, “maar ek wil dit ook vir mense opwindend, visueel aanloklik en opbouend maak om oor die geweldige plantkundige diversiteit van Suid-Afrika, en veral van die Wes-Kaap, te leer.

“Ek wil spesifiek moeite doen om die publiek aan al ons pragtige dog bedreigde plante bekend te stel, dit binne die konteks van bedreigde habitatte en landskappe te plaas, en raad te gee oor wat ons kan doen om ons erfenis op te pas.

“Bowenal wil ek net graag hê mense moet smoorverlief raak op plante en die natuur,” sê Kirkwood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kat ·

Ek stem saam met jou Kirkwood! Ek is smoorverlief op die natuur en plante. Niks bring my meer plesier ! Daaglikse gesprekke met my plante bring positiewe energie oor my donker tye… Ek versorg en hulle groei,blom en bot. My man is nogal soos ñ kaktis hoor een met baie doorings!!

Jan ·

Kyk maar oor n paar jaar hoe daai tuin soos n ashoop as die anc met hom klaar is..

Peter ·

Gee Kirkwood ‘n kans en wees nie so negatief nie man, Jan. Lees nog ‘n keer die kommentaar van Kat, dis positief.

Oujongvrou ·

Jan sover ek weet is die DA daar in bewind. Hoe kom jy nou met die ANC.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.